|
Hennie van Zyl, one of our directors, was recovering from his bout with Covid when he was reminded that it was his turn to provide something for our firm’s February Newsletter. Not feeling too great and having contemplated all scenarios during his ordeal he thought to provide a short version of what would be required from one’s executor should the final curtain be drawn with the hope that it would assist our readers to ensure their basic estate planning is on sound footing.
Die eerste taak van ‘n benoemde eksekuteur, of sy agent, sal natuurlik wees om te verseker dat die oorledene se boedel, so spoedig doenlik, by die kantoor van die Meester van die Hoë Hof aangemeld word in die regsgebied waar die oorledene woonagtig was vir die laaste twaalf maande voor afsterwe. Maak dus seker dat u benoemde eksekuteur beskikbaar is en nog aktief boedels beredder, anders sou dit beter wees om dadelik ‘n nuwe testament te laat optrek.
Die eksekuteurs se pligte, soos in die Boedelwet omskryf, ontstaan sodra die Meester van die Hoë Hof 'n eksekuteursbrief uitreik wat hom of haar formeel aanstel. Die aanstelling en verpligting beëindig eers by sy afsterwe of sodra die Meester of die hof hom formeel van die eksekuteurs-plig onthef.
Die genomineerde Eksekuteur moet met die familie van die oorledene vergader en sekere dokumentasie kry, soos die doodsertifikaat, 'n lys van bates en laste, 'n huweliksertifikaat of huweliksvoorwaardekontrak indien die oorledene buite gemeenskap van goedere getroud was, asook besonderhede verkry van enige vorige huwelik(e) van die oorledene, egskeidingsbevele en besonderhede van voor-oorlede eggenote van die oorledene.
Sodra die Eksekuteur formeel aangestel is moet hy sorg dat die voorgeskrewe kennisgewing aan die skuldeisers gepubliseer word om hulle in kennis te stel van die oorledene se afsterwe en hulle die geleentheid te gee om eise teen die boedel in te stel. Hierdie kennisgewing word gepubliseer in die Staatskoerant asook ‘n plaaslike koerant, waar die oorledene ten tyde van die afsterwe gewoon het.
Alle bankrekeninge wat ten tyde van die dood gebruik was moet voorts gesluit word en die fondse word in 'n aparte bankrekening, bekend as 'n “boedel-wyle-bankrekening”, oorgedra, wat deur die eksekuteur beheer en hanteer word onder die toesig van die Meester.
Sodra die eksekuteur ‘n volledige prentjie het van die bates en laste van die oorledene, moet hy 'n likwidasie- en distribusierekening opstel waarin uiteengesit word welke krediteure betaal moet word, welke erfgename, of begunstigdes, watter bates sal ontvang, asook watter bates en eise nog ingevorder moet word. Die rekening moet, nadat dit aan die Meester voorgelê was en toestemming daarvoor verleen is, geadverteer word. Indien daar geen besware teen die rekening ingedien word, binne ‘n tydperk van 21 dae wat dit rekening ter insae gelê het, moet die eise betaal en bates verdeel word dáár ooreenkomstig. Dit moet ses maande na die datum van aanstelling gedoen word.
Die boedel word normaalweg as afgehandel beskou nadat bewyse van vereffening en verdeling aan die Meester voorgelê was saam met ‘n sertifikaat tot dien effekte deur die eksekuteur. Indien die Meester tevrede is met die voorlegging sal hy ‘n kennisgewing van liassering aan die Eksekuteur uitreik as bevestiging dat die boedel beredder is en die Meester se lêer gesluit is.
Contact VZK to discuss your will and estate planning or if you need assistance in drafting or updating your will.
Groete en Beste wense / Regards and best wishes.
Hennie van Zyl | Director
|
|
|