Teken aan
Follow Us On Facebook Follow us on Facebook

Augustus 2018 Nuusbrief

Die Regspersoon en die Agterstallige Heffings

Daar is soms ‘n onvoorsiene angel


Heffings is die lewensaar van ‘n gesonde deeltitelskema. Die regspersoon moet toesien dat heffings ingevorder word. Bestuursagente stuur maandelikse state uit, agterstallige rekeninge word as ‘n reël vir invordering oorhandig en in uitsonderlike gevalle kan die regspersoon besluit om die agterstallige eienaar te laat sekwestreer. Dikwels is die blote kennisgewing dat ‘n aansoek vir sekwestrasie gaan volg, voldoende om die agterstallige heffings in te vorder.    

Daar is wel ‘n angel wat in sommige gevalle ‘n pynlike ervaring kan wees.  Dit is die risiko dat ‘n skuldeiser verplig kan word om ‘n bydrae tot sekwestrasiekostes te maak. In ‘n neutedop, wanneer daar nie voldoende fondse in ‘n insolvente boedel gevind word nie, kan skuldeisers verplig word om ‘n bydrae te maak om die sekwestrasiekostes te betaal. Dit is ‘n uiterste geval van sout in die wonde vryf. 


‘n Tekort van R46 000  – Moet die regspersoon bydrae? 
  • 'n Regspersoon het geslaag in hul aansoek om die boedel van ‘n nie-betalende eienaar in ‘n deeltitelskema te laat sekwestreer.  

  • Daar was twee verbande oor die eiendom geregistreer. Beide banke het hul eise teen die boedel ingedien. As gevolg van die voorsiene bydrae tot kostes het geen ander skuldeisers eise teen die boedel ingedien nie. Die trustee van die insolvente boedel het die likwidasierekeninge opgestel en het daarin voorsiening gemaak dat die twee banke die tekort van R46 663,16 pro rata tussen hulle sou betaal. 

  • Die banke het beswaar gemaak teen hierdie verdeling. Hulle wys daarop dat die aansoek vir sekwestrasie deur die Regspersoon gebring is. Al het die Regspersoon nie hul eis bewys nie, behoort dit ook pro rata by te drae tot die sekwestrasiekostes. Die Meester bevind dat die Regspersoon nie ‘n bydrae hoef te maak nie; die eis is vir agterstallige heffings. Sodanige heffings moet in elk geval regtens tydens die verkoop van die eiendom as ‘n voorkeur betaal word; dit is nie nodig om ‘n formele eis in te dien vir die bewys van agterstallige heffings nie. 

  • Die banke het die Hooggeregshof genader om hierdie bevinding van die Meester tersyde te stel. Die hof gee die banke gelyk. Die hof bevind dat in gevalle waar die regspersoon die voortou met regsaksie neem, sal die regspersoon ook verplig wees om, saam met die verbandhouers, pro rata by te drae tot enige tekorte met die kostes van sekwestrasie.
Voordat die trustees van ‘n regspersoon sou besluit om aansoek te doen vir die sekwestrasie van ‘n eienaar om agtestallige heffings te verhaal, moet hul seker maak dat daar nie ‘n risiko bestaan dat hulle ‘n bydrae sal moet maak tot die kostes van sekwestrasie nie.

www.batechubb.co.za

Sekuriteitsmaatskappy in die visier: Die slaghuis as slagoffer

“Somewhat ironically, given the fact that the phrase “not a sausage” is originally derived from the Cockney rhyming slang “sausages and mash” meaning “cash”, they got away with not a sausage from the butchery but a great deal of cash” (uit die uitspraak wat hierna bespreek word)

Wanneer jy ‘n sekuriteitsmaatskappy kontrakteer om jou alarm te monitor en om gewapende reaksiedienste te bied, betaal jy hulle om jou teen misdadigers te beskerm. Hoe gemaak as dit nie gebeur nie? 

‘n Onlangse saak in die Hooggeregshof het hieroor gehandel. 


Die alarm, die inbrekers en die bevestiging dat alles in orde is   
  • ‘n Groep geoefende misdadigers het by ‘n slaghuis ingebreek. Hulle het deur die dak toegang tot die slaghuis verkry en in die proses het hulle die alarm geaktiveer. Die inbrekers het die twee kluise met hoekslypers oopgesny. Hulle ontsnap en verdwyn in die niet van die nag met sakke vol kontant. 

  • Die sekuriteitsmaatskappy was kontraktueel daartoe verbind om sekuriteitsdienste aan die slaghuis te lewer. Dit hou in “monitering, reaksie, verslagdoening en die onderhoud van sekuriteitsdienste”. Die maatskappy het die aand wel die alarmsein ontvang, wat aangedui het dat daar ‘n sekuriteitsbreuk in die dak of die plafon van die slaghuis was. 

  • ‘n Sekuriteitsbeampte is na die perseel gestuur. Hy het binne 2 ½ minute ‘n vinnige inspeksie van die perseel afgehandel. Hy rapporteer dan dat sover as wat hy kan sien, alles in orde is. Hy los dan ook ‘n briefie in die deur waarin hy bevestig dat hy kom ondersoek instel het na ‘n insident en dat hy alles in orde gevind het.
      
  • Die plek waar daar by die dak ingebreek is, was nie van die pad af sigbaar nie. Die sekuriteitsmaatskappy kon nie die bestuurder van die slaghuis, die eerste sleuteldraer, in die hande kry om toegang tot die perseel te verkry nie, omdat sy selfoon se battery pap was. Die maatskappy het geen poging aangewend om die tweede sleuteldraer, die eienaar van die slaghuis te kontak nie. Hulle het wel daarop gewys dat die eienaar hulle in die verlede baie duidelik en selfs op onbeskofte wyse laat verstaan het dat hy slegs in ‘n noodgeval direk gekontak kan word. Die eienaar het dit egter ontken en die hof was bereid om sy weergawe hieroor te aanvaar. 

  • Op die betrokke aand het hierdie optrede van die sekuriteitsmaatskappy, die inbrekers in staat gestel om ongesteurd en sonder haas hul werk met die hoekslypers te kon klaarmaak. Die slaghuis het die sekuriteitsmaatskappy gedagvaar om hul skade te verhaal. 


Die uitsluitingsklousules  

Die hof bevestig dat die optrede van die sekuriteitsmaatskappy nalatig was en dat dit kontrakbreuk daarstel. Die hof oorweeg dan die maatskappy se betoog dat die twee uitsluitingsklousules hul teen hierdie eis beskerm:–
  1. Die eerste uitsluitingsklousule bepaal dat daar geen aanspreeklikheid is nie, tensy die kliënt “nalatigheid … of pligsversuim” kan bewys nie. 

  2. Die tweede uitsluitingsklousule was baie breed, in die vorm van ‘n algemene en algehele uitsluiting wat die sekuriteitsmaatskappy sou vrywaar teen enige aanspreeklikheid of verlies, ongeag hoe dit ookal ontstaan het. 
Die hof bevind dat die klousules mekaar weerspreek en dat daar dus onduidelikheid hieroor bestaan. Die eerste, beperkte klousule moet dus gevolg word. Aangesien daar duidelike nalatigheid aan die kant van die sekuriteitsmaatskappy bewys is, beveel die hof die sekuriteitsmaatskappy om skadevergoeding aan die slaghuis te betaal, vir alle verwante skade wat die slaghuis kan bewys. 


Die les vir sekuriteitsmaatskappye 

Nalatige optrede soos hierdie sal ‘n diensmaatskappy se reputasie erge skade aandoen. Dan is daar ook die risiko van regsaanspreeklikheid. 
  1. Laat jou prokureur die diensooreenkoms deurgaan. Maak seker dat die ooreenkoms ‘n enkele, duidelike uitsluitingsklousule bevat. Let daarop dat wye, allesinsluitende uitsluitingsklousules moeilik raak om af te dwing. Vandag is daar erkende grondwetlike oorwegings, openbare beleid, goeie trou en die bepalings van die Verbruikerswet wat ter sprake kom. Die Verbruikerswet vereis dat kontrakte regverdig moet wees en dat dit billike en redelike bepalings moet bevat, terwyl enige uitsonderings of uitsluitings in eenvoudige taal uitdruklik onder die aandag van die verbruiker gebring moet word. 
      
  2. Tweedens, as jou ooreenkoms bepaal dat jy iets spesifieks moet doen, soos om met die  alternatiewe sleuteldraer kontak te maak, as jy die eerste nie in die hande kan kry nie, moet jy hieraan voldoen. Indien daar staande instruksies gegee word wat strydig is met die ooreenkoms of diensvereistes, moet dit genotuleer word om bewys te word. Dit mag selfs nodig wees om die ooreenkoms aan te pas of om gewysigde instruksies in ‘n addendum te beliggaam. Vra jou prokureur vir advies en om hiermee van hulp te wees.

  3. Laastens, maak seker dat jul reaksie op ‘n alarm wat afgaan konsekwent toegepas word en ooreenstem met die ooreengekome optrede. Anders loop julle die risiko van ‘n bevinding van nalatigheid. In hierdie geval was die hof nie beïndruk met die sekuriteitsbeampte se gejaagde inspeksie van net oor die twee minute nie. Daar is selfs voorgestel dat dit meer van pas sou wees as hy met die inspeksie die perseel van ‘n aangrensende stegie sou benader het. 

Die les vir kliënte 

Ons het aangedui dat daar soms ‘n geleentheid is om die uitsluitingsklousules regtens aan te vat. Dit is egter nie altyd so maklik nie. Ons reg erken dat diensverskaffers geregtig is om hul, binne die raamwerk van die regstelsel, by ooreenkoms teen aanspreeklikheid te beskerm of ten minste te beperk.
  
Indien jy dus ‘n slagoffer van ‘n misdaad was te wyte aan jou sekuriteitsmaatskappy se nalatigheid, verkry regsadvies – dalk het jy ‘n eis!

Eiendomstransaksies – Pasop vir die wolf in skaapsklere!

“Pasop vir die wolf in skaapsklere” (Uit een van Esopus se fabels.)

Misdaadvlakke in die kuberruim neem drasties toe. Wanneer jy vaste eiendom koop of verkoop raak jy outomaties ‘n aantreklike teiken. Die redes is voor die hand liggend –
  • Daar is altyd groot bedrae geld by eiendomstransaksies betrokke. 

  • Elektroniese kommunikasie tussen prokureurs en kliënte is vandag die deursnee manier van kommunikeer. Dit skep ‘n vrugbare teelaarde vir die onderskepping van kommunikasie en daaropvolgende misleiding. 

Kyk na hierdie nagmerrie situasie  

Jy het jou eiendom verkoop vir ‘n ronde R5 miljoen. Jy kry bevestiging dat die transaksie deur is en dat oordrag in die aktekantoor geregistreer het. Wanneer jy op jou genomineerde bankrekening, Bankrekening A, ingaan, sien jy egter nog geen fondse wat reflekteer nie. Dan skakel jy die prokureurs wat die oordrag namens jou hanteer het. Hulle is baie vinnig om aan jou te bevestig dat hulle wel die fondse oorbetaal het en wel na rekening B ingevolge jou onlangse skriftelike instruksie wat jy aan hul kantoor versend het. Rekening B is egter deur ‘n kuberskelm opgestel, die fondse is soontoe oorgeplaas en intussen onttrek. Hier is probleme en skielik is jou hele opbrengs waarskynlik reeds weg. Wat het gebeur?


Hoe die skema werk 

Kubermisdadigers is aktief en aan die voorpunt van die gebruik van tegnologie vir duistere redes. Daar is legio skemas waarby hulle betrokke is; ons kyk na die twee wat tans algemeen voorkom:  – 
  1. Jou prokureurs se betaling aan jou: As die verkoper gee jy opdrag aan jou prokureurs om die opbrengs van die transaksie na jou genomineerde bankrekening oor te betaal. Voor oordrag – dikwels op die laaste nippertjie – kry die prokureurs ‘n e-pos wat lyk of dit van jou af kom, met die besonderhede van jou nuwe “bankrekening B” wat jy onlangs verander het. Saam met dit dan die versoek of “opdrag” dat jou hele opbrengs na jou nuwe bankrekening oorbetaal moet word. Jou e-pos kommunikasie tussen jou en jou prokureur is onderskep en jou besonderhede is gekloon. As die prokureurs die geld na bankrekening B oorbetaal het, is jou geld weg!  

  2. Jou betalings aan jou prokureurs: Die risiko is waar die koper die gehele of gedeeltelike betaling vir die eiendom by die oordragprokureurs moet inbetaal. Hereregte en oordragskostes kan ook wesentlike bedrae uitmaak. Die verkoper betaal weer vir verbandkansellasie en kommissie aan die eiendomsagente. 
Die kuberskelms gaan op soortgelyke manier te werk om die inligting te onderskep. Hierdie keer kry jy ‘n formele skrywe van “die prokureurs” met besonderhede van Bankrekening C waarin jy die oorbetalings vir die transaksie moet betaal. Die kommunikasie lyk natuurlik eg, met logos en kontakbesonderhede daarop, maar die skrywe is nie regtig van die prokureurs af nie. Die bankrekening bestaan wel, maar dit is natuurlik ook nie die prokureurs se rekening nie.  

Die inligting oor die bankrekening mag in die e-pos self wees of in ‘n aanhangsel aangedui word. Die e-pos mag ‘n kennisgewing wees dat die bankrekeningbesonderhede verander het of dit kan bloot ingesluit word op die veronderstelling dat jy nie eers sal agterkom dat die bankrekeningbesonderhede verskil van die vorige skrywes nie.

Bankrekening C het geen verbintenis met die prokureurs se trustrekening nie. Wanneer jy dan geld hierheen oorplaas, is die fondse binnekort net weg.


Hoe kan ek myself beskerm? 

Die probleem onstaan gewoonlik met die onderskepping van e-pos kommunikasie of met die oes van inligting aanlyn.  

Die volgende is erkende maniere om jou risiko te beperk- 
  • Maak seker dat jou rekenaar se anti-virus, “anti-malware” en ander sagteware vir rekenaarsekuriteit op datum is en vind uit hoe om jou teen “phishing” en ander duistere aktiwiteite te beskerm. (Sien bv. Nedbank se “Fraud Awareness” blad  hier.) Wees in die algemeen versigtig met alle vorme van elektroniese kommunikasie – selfs kommunikasie wat van ‘n betroubare bron soos jou prokureur of ouditeur af kom. 

  • Kyk na die riglyne vervat in die artikel “Is That Sender For Real? Three Ways to Verify the Identity of An Email” op FRSecure se blog. Al die wenke daarin vervat is belangrik, maar gebruik ten minste die wenke om vas te stel waar die e-pos vandaan kom. Kyk dan na jou vorige korrespondensie om te sien of die besonderhede ooreenstem met die besonderhede van die aanvanklike korrespondensie toe die oordragsproses begin het. 

  • Wees versigtig. As iets nie reg voel nie of nie reg lyk nie, mag daar ‘n goeie rede daarvoor wees. Dalk word slegs ‘n selfoonnommer gegee of word ‘n generiese e-pos adres soos Gmail gebruik. Dalk is die bewoording vreemd of die adres lyk nie reg nie. As iets jou pla, ondersoek verder en maak seker dat alles in orde is. 

  • Die belangrikste is om nie net ‘n e-pos te aanvaar waarin jy kennis kry dat die prokureursfirma se bankrekeningbesonderhede verander het nie. Besoek hulle persoonlik of bevestig dit telefonies om seker te maak hieroor. Moet ook nie die telefoonnommer gebruik wat in die gewraakte e-pos aangedui word nie; verkry die nommer by ‘n alternatiewe bron!

‘n Laaste gedagte – is jy dalk die swakste skakel in die ketting? 

As die kliënt kan jy nie net staatmaak op jou prokureurs om seker te maak dat hul netwerke veilig en hul prosedures gevolg word nie. Dink aan hoe banke streng veiligheidsprotokolle volg en tog hoor ons gereeld van bankkliënte wie se kaarte gekloon is of op ander maniere ingeloop is. Indien jou eie rekenaar, netwerk of jou optrede die swakste skakel in die ketting is, dan is dit wat die kuberskelms gaan teiken en uitbuit! 

Gebruik die wenke hierbo om jouself te beskerm. Indien jy enigsinds ongemaklik is oor enige wysigings of instruksies, moet nie enige kanse vat nie – kontak jou prokureurs om sekerheid hieroor te verkry.

Om geld uit te leen wat “op versoek” terugbetaal moet word : Pasop vir verjaring!

“…prescription started its deadly trudge on the day the loan at issue in these proceedings was advanced” (dit kom netso uit die uitspraak.)


Jy weet waarskynlik dat gewone skulde na ‘n periode van drie jaar verjaar. Die skuld kan dan nie meer verhaal word nie. Daarom is dit vir ‘n skuldeiser belangrik om te weet wanneer verjaring van enige skuldbedrag begin om te loop. Van daardie oomblik begin die stophorlosie tik.  

Die Grondwetlike Hof het onlangs ‘n geval van verjaring hanteer met ‘n lening wat “op versoek” terugbetaalbaar was. 


Wat beteken dit as skuld “op versoek” terug betaal moet word? 

As jy geld aan iemand uitleen, wat “op versoek” betaalbaar is, dan hoef dit nie betaal te word totdat jy die lening opvra nie. Dit is algemeen om sulke lenings tussen familielede te maak of tussen verwante besighede of maatskappye binne ‘n groep. Jy sou dalk dink dat omdat hier geen datum vir terugbetaling ooreengekom is nie, dat verjaring nie loop nie. Dit is dan totdat jy die lening oproep, wat oor 5 maande of 5 jaar of 50 jaar kan wees. 

Tog nie. ‘n Lening wat “op versoek” terugbetaalbaar is, is vanaf dag een opeisbaar en betaalbaar. Jy kan wel “op versoek” ‘n datum aandui vir terugbetaling. Jy kan dus op enige dag vra vir die lening om terug betaal te word. Dit hou in dat verjaring begin loop op die dag waarop die lening toegestaan word en nie op die dag waarop jy besluit om die lening op te roep nie. 

Dit klink wel vreemd en moontlik verwarrend, maar ons neem ons leiding van die beslissing van die Grondwetlike Hof. (Die verduideliking wat volg is tegnies; as jy eerder net wil weet wat die praktiese resultaat is, kan jy hierdie gedeelte los en kyk wat hieronder op praktiese vlak aangaan.)  


Is die lening op die “never-never” of nie?
  • Maatskappy A leen aan Maatskappy B ‘n bedrag van R3,05 miljoen. Die partye kom ooreen dat die lening terugbetaalbaar sal wees wanneer die uitlener ‘n skriftelike kennisgewing aan die lener gee om die lening binne 30 dae terug te betaal.  

  • Maatskappy A het ses jaar later betaling van die lening opgevra en skriftelike kennisgewing hiervan aan Maatskappy B gelewer. Geen betaling is ontvang nie. Maatskappy A het ‘n jaar later as gevolg van die versuim om te betaal ‘n aansoek vir likwidasie teen Maatskappy B geloods. Die verskuldigde bedrag het intussen tot R4,6 miljoen gegroei. Die Hooggeregshof het hierdie aansoek vir likwidasie van die hand gewys. Die hof handhaaf Maatskappy B se verweer dat die lening na drie jaar reeds verjaar het.   

  • Die Appèlhof en daarna die Grondwetlike Hof het hiermee saamgestem -

    • ‘n Kontraktuele skuld is betaalbaar soos wat dit in die ooreenkoms bepaal is. As geen datum vir betaling ooreengekom is nie, dan is die fondse onmiddellik na kontraksluiting betaalbaar. 

    • As die ooreenkoms egter duidelik bepaal dat die skuldeiser die tyd vir nakoming kan bepaal en dat die skuld by ooreenkoms eers dan verskuldig en betaalbaar raak, dan sal verjaring eers vanaf daardie dag loop. 

  • Op die gegewe feite (en op die howe se interpretasie van hierdie spesifieke ooreenkoms) het A se reg om betaling op te eis onmiddellik ontstaan toe die lening aanvanklik toegestaan en die geld oorbetaal is. A kon enige tyd vir B die ooreengekome 30 dae kennis gee om te betaal; gevolglik het hierdie eis 3 jaar later al verjaar.  
A kan dus nie die aangeduide bedrag van R4,6 miljoen en verdere rente verhaal nie. Die regskostes in die Hooggeregshof, daarna in die Appèlhof en uiteindelik in die Grondwetlike Hof sou ook verdere finansiële onkostes meebring. 

Die hof wys daarop dat skulde tussen familielede dikwels op die “never-never” basis hanteer word en om aan te haal “(the debt) won’t be due, in any sense, legal, technical or practical, until you say, ‘Please won’t you pay back’.” In die geval van die meeste handelsooreenkomste, sal verjaring egter dadelik begin loop sodra die geld oorbetaal is, tensy die partye baie duidelik ‘n ander reëling in hul leningsooreenkoms vervat. 


Uit ‘n praktiese oogpunt wil jy nie hê dat jou eis verjaar en jy jou geld kwyt is nie. 

Dit is ingewikkeld en verwarrend. Die Grondwetlike Hof se uitspraak was ook nie eenparig nie. Die hof was 6-5 verdeeld met die beslissing oor verjaring. Uit ‘n praktiese oogpunt wil jy jou geld en jou eis beskerm. 

As jy nie ‘n datum van terugbetaling ooreenkom nie, maar wel die lening “op versoek” kan opvra, moet jy baie duidelik in die ooreenkoms uiteensit wat die partye presies daarmee bedoel. As die bedrag wat ter sprake is dit regverdig, verkry eerder vanuit die staanspoor professionele regshulp om die ooreenkoms op te stel.

Webwerf van die maand: Wat is die nuwe datums vir indiening van belastingopgawes?

SARS het nuwe indieningsdatums aangekondig vir die 2018 belastingseisoen. Moet jy ‘n opgawe indien? Indien wel, wanneer moet dit ingedien word? Is jy ‘n voorlopige belastingbetaler? Sukkel jy dalk om op eFiling te registreer? 

SARS se webwerf het die antwoorde op al jou navrae en wel by “Tax Season 2018 For Individuals” op hul webblad hier. Selfs al hoef jy nie ‘n opgawe in te dien nie, kan dit dalk die moeite werd wees om dit wel in te dien. Jy is dalk geregtig op ‘n terugbetaling of jy moet dalk kan bewys dat jou Belastingsake in orde is en dat jou opgawes ingedien en op datum is. 
 
Indien jy jou belastingsake verkeerd kry, kan dit jou heelwat probleme met SARS op die hals haal. Dit is dan beter om vanuit die staanspoor die dienste van ‘n deskundige belastingpraktisyn te gebruik om jou hierin by te staan. 


Uit die HAT:  

krooskarweier (s.nw) (informeel, skertsend) ruim gesinsvoertuig soos ‘n bussie of stasiewa.   


attorneys@batechubb.co.za www.batechubb.co.za attorneys@batechubb.co.za www.batechubb.co.za

Uitsluiting
Die inligting hierin vervat is van ‘n algemene aard en moet nie as professionele advies gebruik word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u professionele adviseur vir spesifieke en toegepaste advies.


© DotNews.  All Rights Reserved.


  A Client Connection Service by DotNews