Teken aan
Follow Us On Facebook Follow us on Facebook

Februarie 2018 Nuusbrief

Veiligheidslandgoed: Is die Reëls afdwingbaar?

“It is well established that contractual provisions are against public policy ‘… if there is a probability that unconscionable, immoral or illegal conduct will result from the implementation of the provisions according to the tenor’” (aldus die uitspraak wat hieronder bespreek word). 


Wanneer jy eiendom in ‘n veiligheidslandgoed of enige ander vorm van ‘n gemeenskapskema koop, gaan jy ingevolge die eiendomsvoorwaardes, ’n lid van die betrokke huiseienaarsvereniging of regspersoon van die skema moet word. Jy sal ook aan die betrokke reëls en regulasies moet voldoen. 

Nie alle reëls kan deur die skema afgedwing word nie. Eiendomsagente kan gerus kyk na die onlangse uitspraak waarin bevind is dat die afdwinging van spoedbeperkings en die inperking van die beweging van huishoudelike werknemers ondersoek is. Die Hooggeregshof bevind dat dit nie die skema se plek is om dit te doen nie.

Maak seker dat jy weet wat die reëls behels voordat jy in die skema koop. Ons howe sal oor die algemeen sulke kontraktueel ooreengekome reëls afdwing. 

Die Hooggeregshof het onlangs weer bevestig dat die omvang van die reëls darem nie onbeperk is nie.  


Spoedbeperkings ....  en ook beperkte toegangs- en vertrektye vir huishoudelike werknemers
  • ‘n Groot gholflandgoed spog met honderde vrystaande eie titel huise en ook deeltiteleenhede, asook uitgebreide gemeenskaplike gebiede insluitende paaie, sypaadjies en tuine. Die volgende twee stelle reëls staan uit en word deur die hof onder oorweging geneem -

    • Die spoedbeperking van 40 kilometer per uur op die landgoed se paaie, en 

    • Die beperking wat op huishoudelike werknemers se toegang tot die landgoed geplaas word. Die landgoed se reëls bepaal dat  huishoudelike werknemers vanaf 6 uur in die middag tot die volgende oggend om 6 uur nie in die landgoed mag inkom nie. Hul vrye gebruik en beweging op die landgoed se paaie word ook ingeperk en hul toegangskaarte moet jaarliks hernu word. 

  • Een van die eienaars het met die landgoed swaarde gekruis oor die toepassing van hierdie reëls. Hier het onbetaalde spoedkaartjies daartoe gelei dat die eienaar en sy gesin se toegangskaarte geblokkeer is. Hulle het dus nie meer vrye toegang tot die landgoed gehad nie en natuurlik dan ook nie meer vrye toegang tot hul eie huis gehad nie. 

  • Die hof bevind dat beide stelle reëls onwettig en ongeldig is. Die hof bepaal dan dat die reëls binne ‘n periode van 12 maande aangepas moet word. 

Die eerste stel reëls: Spoedbeperkings en snelstrikke 

Die hof gee toe dat die paaie wel binne die grense van die landgoed aangetref word. Die paaie bly egter openbare paaie ingevolge die Padverkeerswetgewing. Die landgoed is dus nie by magte om op hul eie spoedbeperkings vas te stel of te reguleer nie. Die aangewese provinsiale minister van verkeersake of munisipale eweknie moet die nodige magtiging hiervoor verleen. 

Die hof het die landgoed twaalf maande grasie gegee om die nodige toestemming van die owerhede te verkry. In die aansoek sal die landgoed die noodsaak en verpligting om kinders, voetgangers, inwoners, ander padgebruikers en die wildslewe op die landgoed te beskerm voorhou en dit sal waarskynlik toegestaan word. 


Die tweede stel reëls: Beperkings wat op huishoudelike werknemers van toepassing is 

Die hof was duidelik daaroor dat hierdie inperkings indruis teen die bepalings van die Grondwet. Die werknemers se grondwetlike regte is geskend insluitende hul basiese regte van gelykheid, vryheid van assosiasie, vryheid van beweging, vryheid van indiensneming en billike arbeidspraktyke. 

Die hof maak die opmerking dat hul posisies sterk herinner aan die van werknemers tydens die apartheidsjare. Werknemers is goed genoeg om huishoudelike take op die landgoed vir hul werkgewers te verrig. Hulle mag net vrylik rondbeweeg wanneer hulle byvoorbeeld huishoudelike take vir hul werkgewers verrig soos om babas en klein kinders in babawaentjies rond te stoot. Andersinds word hul vryheid van beweging drasties ingeperk, in stryd met regte wat in publieke reg en in die Grondwet verskans is. 

Die hof bevind dan “to the extent that these rules restrict the rights of domestic employees from freely being on and traversing public roads in the estate, I consider them to be unreasonable and unlawful.” Hierdie bevinding word vir twaalf maande opgeskort om aan die landgoed die geleentheid te gee om hul reëls aan te pas ten einde aan die Grondwet te voldoen. 


‘n Waarskuwing aan alle gemeenskapskemas

Alle Huiseienaarsverenigings en Regspersone van gemeenskapskemas behoort ‘n ondersoek te doen na hul reëls en regulasies om seker te maak dat dit aan die wet voldoen. Indien daar ander landgoedere in die land is wat, hetsy deur onkunde, hetsy deur arrogansie, nog steeds hierdie skryende, inbreukmakende bepalings in hul reëls het, is dit nou tyd om dit onverwyld aan te spreek. Dit is die duidelike waarskuwing wat die hof in soveel woorde rig.

www.batechubb.co.za

Werknemers neem kennis. Botsende belange kan tot afdanking lei.

Eerlikheid is die beste beleid, aldus Benjamin Franklin.


Op werknemers rus ‘n algemene verpligting om lojaal, eerlik en in die beste belang van hul werkgewers op te tree. Dit hou ook in dat werknemers enige moontlike botsing tussen hul eie belange en die belange van hul werkgewers moet vermy. 

‘n Onlangse beslissing van die Arbeidshof bevestig dat optrede in stryd met hierdie verpligting tot afdanking kan lei. 


‘n Munisipale amptenaar word afgedank 
  • ‘n Munisipale amptenaar was vir 29 jaar in diens van die munisipaliteit. Hy het versuim om ooglopende gevalle van botsende belange te verklaar. Die besighede was amptelike verskaffers aan die munisipaliteit. Een besigheid is deur sy vrou bestuur en die ander deur sy broer. 

  • Die munisipaliteit het ‘n duidelike beleid oor die verklaring van belange en oor private werk in plek. Hy mag nie enige werk aan vriende of familie toeken nie. Hy was ook onder verpligting om enige botsende belange te verklaar sodra dit ontstaan het. 

  • Die werknemer en sy vrou was in gemeenskap van goedere getroud. Hy het dus direkte voordeel geniet uit alle sake wat die munisipaliteit met sy vrou se besigheid gesluit het. Hy het ‘n direkte belang gehad toe hy (en sy vrou) nie hierdie botsing verklaar het nie, met sy vrou se aansoek om as verskaffer van die munisipaliteit goedgekeur te word. 
Die vraag is nie soseer of hy wel sy invloed gebruik het om munisipale werk na sy vrou se besigheid te verwys nie. Hy het nie hierdie botsende belang verklaar nie. Die ondersoek is eerder of hierdie nalate te wyte was aan oneerlikheid. Hiervoor moet drie vrae vir oorweging gevra en beantwoord word:  
  • Was daar reëls oor botsende belange?

  • Indien wel, het die werknemer die reëls wetende verbreek?  

  • Indien die reëls wel verbreek is, was die verbreking van so ernstige aard dat afdanking ‘n gepaste bevinding sou wees? 
Hier het die Arbeidshof die beginsels toegepas. Die hof bevind dat die werknemer hom skuldig gemaak het aan ernstige wangedrag, hy was grof oneerlik en sy lang jare diens kon hom nie van sy wangedrag verskoon nie. 

Onder die omstandighede bevind die hof dat afdanking ‘n geregverdigde sanksie was en die werknemer word gevolglik ontslaan.

Jou eis kan verjaar. Maak seker dat jy vertroud is met die verskillende gevalle van verjaring.

“Ignorantia iuris nocet” (‘n Romeinse spreekwoord wat bevestig dat onkunde oor die reg baie skadelik kan wees.) 


Die meeste van ons is bewus daarvan dat mens ‘n eis betyds moet indien, anders kan jy jou eis as gevolg van verjaring in geheel kwyt wees.  

Wat daarvan as jy niks gedoen het nie omdat jy nie eers geweet het dat jy wel ‘n eis teen iemand het nie. 

Die Grondwetlike Hof het onlangs oor so ‘n geval uitspraak gelewer. Die ondersoek is oor die bron van jou onkunde. 

‘n Eis vir skade as gevolg van onregmatige arrestasie 
  • ‘n Suid-Afrikaner wat in ‘n landelike gebied woon is gearresteer. Die polisie het hom vir vier of vyf dae aangehou, waarna hy vrygelaat is. 
     
  • Jare later het hy die aangeleentheid met sy buurman bespreek. Die buurman was ‘n prokureur en eers op hierdie stadium het hy verstaan dat hy ‘n eis vir onregmatige arres en aanhouding teen die polisie kon indien.  Hy het die Minister van Polisie vir skadevergoeding van R350 000 gedagvaar. Die Minister opper dan die ooglopende verweer van verjaring teen die eis.  

  • Die hof bevind dat die eis inderdaad verjaar het en nie meer afgedwing kan word nie. Die hof vra of die eiser se onkunde oor sy reg om ‘n eis in te stel gebaseer was op die feite of oor die reg. 
      
As jy onkundig oor die feite is…

Verjaring kan eers begin loop wanneer jy kennis het oor die identiteit van die skuldenaar en oor die feite waarop die eis berus.  

As jy dus onkundig is oor die feite waarop jou eis gebaseer is, sal verjaring gestuit word totdat jy die ontbrekende inligting verkry. Jy moet egter redelik optree. Jy sal geag word die nodige inligting te hê, indien jy die inligting deur redelike navrae en met redelike ondersoek self kon verkry. 
 
 
Wat van onkunde oor die regsituasie? 

Die eiser het nie geweet dat hy ‘n eis teen die Minister van Polisie kon indien, voordat dit te laat was nie. Hy het nie geweet dat indien jy gearresteer word, jy binne 48 uur voor ‘n hof gebring moes word nie. 

Hy was onskuldig, onkundig en oningelig oor die regsposisie en die gevolge daarvan. 

Hy was dus onkundig daaroor dat die optrede van die polisie onregmatig was en dat hy ‘n eis teen hulle kon indien. 

Hierdie onkunde is onkunde oor die regsposisie en nie oor die feitelike posisie nie. Onkunde oor die reg stuit egter nie verjaring nie en gevolglik het sy reg om ‘n eis teen die polisie in te stel verjaar. 


Remedie 

Dit klink dalk onregverdig en hierdie saak is een wat simpatie wek. Dit is wel nodig om sekerheid en stabiliteit by mense en instellings te skep oor sosiale en regskwessies. Die Grondwetlike Hof het die laaste sê. Jy kan jou nie beroep op jou onkunde oor die regsituasie as dit by verjaring van ‘n eis kom nie. 

Daar is eintlik net een manier om dit te verhoed. Verkry so gou moontlik regsadvies.

Trustee: Eiendomstransaksie – wat is die risiko dat jy persoonlik aanspreeklik gehou kan word?

Wanneer enigiemand van ‘n trust koop of aan ‘n trust verkoop moet jy jou prokureur opdrag gee om die ooreenkoms vir jou deur te gaan. Jy wil sekerheid hê dat die nodige beskerming in die ooreenkoms ingebou is om jou teen die risiko’s te beskerm. 

Om met ‘n trust ‘n ooreenkoms aan te gaan verg nakoming van spesifieke reëls. Soos in ‘n onlangse saak in die Hooggeregshof gesien kan word, maak die tandaardvoorwaardes in ‘n ooreenkoms nie altyd voldoende voorsiening vir hierdie bykomende trustvereistes nie. 


‘n Verkoper dagvaar ‘n ongemagtigde trustee vir R2 miljoen – persoonlik.
  1. ‘n Maatskappy het ‘n saaklike reg op uitbreiding (‘n reg om addisionele geboue in ‘n deeltitelskema ontwikkeling te bou) aan ‘n trust verkoop.

  2. Die verkoopsooreenkoms is slegs deur een van die twee trustees geteken.

  3. Die verkoopsooreenkoms was ongeldig, aangesien die trustee wie geteken het, geen magtiging gehad het om die koopooreenkoms  alleen te teken nie.

  4. Die verkoper het die trustee gedagvaar in ‘n poging om hom persoonlik aanspreeklik te hou vir die verkoopprys van R1,45 miljoen (met die rente ter sprake was dit nader aan R 2 miljoen).

  5. Die verkoper het staat gemaak op ‘n standaard klousule in die verkoopsooreenkoms – waarin die trustee “waarborg dat hy by magte is om te teken en homself in sy persoonlike hoedanigheid bind” dat die trust sal presteer in terme van die ooreenkoms. 

  6. ‘n Verdere klousule het bepaal dat alle ongemagtigde ondertekenaars as borge en as kopers in hul persoonlike hoedanighede teenoor die verkoper gebonde sou wees. Die verkoper se probleem was dat die bepaling spesifiek voorsiening gemaak het vir enige persoon wat namens ‘n te stigte maatskappy of ‘n te stigte beslote korporasie sou teken. Daar was niks wat ‘n ongemagtigde trustee op soortgelyke wyse in sy persoonlike hoedanigheid aanspreeklik sou hou nie.

  7. Die verkoper het die hof probeer oortuig dat die trustee wel as borg aanspreeklik gehou moes word, of dat daar ‘n geïmpliseerde term in die ooreenkoms was wat hom persoonlik verantwoordelik sou hou. Die hof het nie saamgestem nie. Die hof het beide die verkoper se eise van die hand gewys.

Die risiko vir trustees


Die hof wys daarop dat die verkoper die trustee persoonlik sou kon dagvaar, nie vir die verkoopprys nie, maar eerder vir die skade wat die trustee veroorsaak het met sy waarborgbreuk. 

Daar is ‘n tydige waarskuwing hierin vir alle trustees – jy loop die gevaar dat ‘n skadevergoedingseis in jou persoonlike hoedanigheid teen jou ingestel kan word.  Jy moet dus ten alle tye seker wees dat jy ten volle gemagtig is om te teken, dat jy oor die nodige aanstellingsbrief van die Meester van die Hooggeregshof beskik, dat die trust oor al die magte beskik waartoe jy dit verbind en dat al die bepalings in die trustakte aan voldoen word.


‘n Les vir eindomkopers en -verkopers


Vir die verkoper om hier met so ‘n eis vir skadevergoeding te slaag, sou hy die volle omvang van die skade, die oorsaak van die skade, asook die stappe wat hy geneem het om die skade te beperk, moes aantoon en bewys. Sy posisie sou baie duideliker, veiliger en makliker gewees het indien hy, voor die ondertekening van die ooreenkoms -  
  1. Seker gemaak het dat die nodige ondertekeningsmagte verkry is en ook dat daar aan die bepalings van die trustakte voldoen is (met die oog op voorkomende optrede), en

  2. ‘n Klousule in die ooreenkoms bygevoeg het waarin sterk en duidelike remedies teen ongemagtigde trustees ingevoeg is. 
Dit geld natuurlik netso om iemand te beskerm wat eiendom by ‘n trust koop.

Enige foute hier kan jou duur te staan kom - verkry eerder die nodige regsadvies voordat  jy enige iets onderteken.

Webtuiste van die Maand: Tydsberekening is Alles

“Tydsberekening is in alle dinge die mees belangrike faktor.”  (So sê Hesiod, ‘n Griekse digter, filosoof en ekonoom uit die antieke tyd.)


Daar is baie sleutels en “Geheime tot Sukses” (in beide ons besigheids- en persoonlike lewens). Een van die belangrikste basiese vertrekpunte is om te verstaan hoe om die regte tydstip te kies vir die verskeie dinge wat ons doen om maksimum effektiwiteit en uitkoms te verseker.
  • Wat is die beste tyd van die dag om kreatief te wees?

  • Wanneer moet ons fokus op besluitneming, analisering en onderhandlinge?

  • Wanneer is ons op ons mees produktiewe?

  • Is daar ander reëls wat op “Naguile” van toepassing is?

  • Wat kan ons doen om ons produktiwiteit te verhoog, veral waar ons geen keuse het as om die projek op ‘n nie-optimale tyd te doen nie? 

  • Vir watter tyd van die dag moet ons doktersafsprake en chirurgie skeduleer? 

  • Wanneer moet ons op ons versigtigste wees op die paaie?

  • Wat is die optimale ouderdom om te trou? 

  • Moet jy die Slegte Nuus of die Goeie Nuus eerste gee?
Lees wat wetenskaplike navorsing te sê het oor “This Is the Best Time to Do Anything: 4 Powerful Secrets from Research” op die Barking Up the Wrong Tree blog hier.


Uit die HAT: 

Harmansdrup s.nw (medisinaal) outydse, taaierige patente medisynesoort;haarlemensis;haarlemmerolie. (figuurlik) iemand wat draaierig/tydsaam/stadig is.
attorneys@batechubb.co.za www.batechubb.co.za attorneys@batechubb.co.za www.batechubb.co.za

Uitsluiting
Die inligting hierin vervat is van ‘n algemene aard en moet nie as professionele advies gebruik word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u professionele adviseur vir spesifieke en toegepaste advies.


© DotNews.  All Rights Reserved.


  A Client Connection Service by DotNews