Beplan jy om ‘n besigheid van die huis af te bedryf? Oorweeg jy dit om ‘n residensiële eiendom aan te koop met die doel om dit in ‘n besigheidsperseel te omskep? Dalk beplan iemand anders om ‘n besigheid in jou woonbuurt te open, en wil jy graag daarteen beswaar maak. Dan moet jy beslis kennis neem van ‘n onlangse uitspraak van die Hooggeregshof. Hier het die Hof ‘n klein kantoor, wat van 08:00 tot 16:30 in ‘n residensiële woongebied sake gedoen het, beveel om die deure te sluit.
Die Hof het vrae soos die volgende aangespreek: “Wie kan aansoek doen vir ‘n interdik?”, “Maak dit ‘n verskil indien daar ‘n sonerings-aansoek hangend is?”, “Moet die besigheid ‘n oorlas veroorsaak?”, “Maak dit ‘n verskil indien die woonbuurt se residensiële karakter in elk geval besig is om te verander?” en “Wat van die eienaars van ander eiendomme wat reeds die wet oortree, maar daarmee wegkom deur hul optrede onder die radar te hou?”
|