Dit is ongelukkig so dat baie besighede tans onder uiters moeilike omstandighede moet sake doen. ‘n Mens kan dus ‘n toename in die aantal besighede (of hul bates) wat verkoop word, verwag. Indien jy dit oorweeg om ‘n besigheid of sy bates te koop, maak seker dat jy bewus is van die risiko’s indien die verkoop van ‘n besigheid/sy bates nie geadverteer word nie.
‘n Fout op hierdie gebied kan jou duur te staan kom, aangesien jy maklik beide jou nuut-aangeskafte besigheid en jou geld kan verloor. Ons bespreek dit aan die hand van ‘n onlangse R8 miljoen Hooggeregshofsaak, waar eiendom deur ‘n ontwikkelaar verkoop is kort voordat die ontwikkelaar gelikwideer is. Die koper het aangevoer dat advertering van die verkoop nie ‘n vereiste was nie, aangesien die verkoper nie ‘n “handelaar” was nie. Die Hof het egter van die koper verskil en die verkooptransaksie is nietig verklaar. Beide die oordrag van die eiendom aan die koper, sowel as die verband wat deur die bank oor die eiendom geregistreer is, is tersyde gestel.
|