Teken aan
Follow Us On Facebook Follow us on Facebook
   

 
   National Wills Week

 
  Do you have a will in place? 

For the week 17 to 21 September 2018 we will with pleasure draft a basic will for you free of charge.  As highlighted in our lead article this month, having a professionally drawn and executed will is vitally important, so give us a call if we can help.


 
     

September 2018 Nuusbrief

Het jy ‘n testament nodig?

“A man who dies without a will has lawyers for his heirs” (Anoniem)


Dit is menslik om weg te skram van ons eie sterflikheid.  Tog is dit net tot ons eie voordeel en in belang van ons geliefdes om nou hieraan aandag te gee. Waarom dan so?
  1. Almal van ons gaan een of ander tyd tot sterwe kom. Niemand weet presies wanneer dit gaan gebeur nie.

  2. As jy nie ‘n testament opstel nie, doen jy afstand van die geleentheid om self duidelike aanwysings te gee oor hoe jou naasbestaandes met jou boedel moet handel, wanneer jy tot sterwe kom.

  3.  ‘n Testament wat op datum is, sal verhinder dat daar onduidelikheid oor jou laaste wense bestaan. Dit kan ook onderlinge familietwiste en duur litigasie voorkom. 
     
Wat gebeur as daar nie ‘n geldige testament is nie?

As jy sonder ‘n geldige testament tot sterwe kom, sal jou boedel ingevolge ons intestate erfreg hanteer word, wat die volgende inhou: 

Jou bates sal ingevolge regsreëls verdeel word en nie ingevolge jou eie aanwysings nie. 

Dit kan jou naasbestaandes in ‘n moeilike posisie plaas. 
  • Die administrasie en afhandeing van jou boedel sal hanteer word deur ‘n persoon of instansie wat sonder jou insette aangewys word. Jy sal eerder self jou eksekuteur wil kies en aanwys. ‘n Persoon wat jy vertrou en iemand wat die werk spoedig en met akkuraatheid sal afhandel. 

  • Jy het geen beheer oor wie aangestel word as jou minderjarige kinders se voogde nie; ook  nie oor  wie as trustees aangestel word nie as hul erflating in trust gehou moet word nie. Dit is nog belangriker as jy die enigste oorlewende ouer is.  

  •  Jou kinders se erflating sal in die Voogdyfonds gehou word tot hul agtien jaar oud word. Is dit hoe jy dit wil hê? Daar is in die verlede al beweringe van bedrog en probleme met die administrasie van hierdie fonds gemaak. 


Hoe word jou boedel verdeel as jy nie ‘n testament het nie? 

Nota: Dit is ‘n mite dat die staat jou boedel sal oorneem as jy sonder ‘n testament doodgaan. Slegs indien jy geen bloedverwante van enige aard agterlaat nie, sal dit die geval wees. 

Waar daar ten minste een ander verwante persoon of bloedverwant van jou oorleef, sal jou netto boedel (alles wat jy besit, minus al jou laste en minus die administrasiekostes en moontlike boedelbelasting) tussen jou verwante en bloedverwante verdeel word. Dit word volgens voorskrifte gedoen (a) ingevolge die intestate erfreg en (b) dit hang af hoe die erfgename aan jou verwant is. 

Eerstens, indien jy deur ‘n gade en/of nakomelinge (kinders, kleinkinders ensovoorts) oorleef word, sal jou netto boedel volgens voorgeskrewe reëls aan hulle bemaak word.
 
(Sien ook hieronder: “Wees versigtig: Jy kan jou gade finansieel in ‘n erge penarie laat.”)  

As jy sonder ‘n gade of kinders of kleinkinders of nakomelinge tot sterwe kom, raak dit meer ingewikkeld. Jou ouers, broers/susters en ander bloedverwante gaan dan moontlike erfgename raak. Indien jy verdere inligting hieroor verlang, is daar ‘n volledige uiteensetting met verduidelikende voorbeelde beskikbaar op die DOJ (Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling) se webwerf hier

Die artikel handel ook met huwelike in gemeenskap van goedere, aangenome kinders en kinders wat buite ‘n huwelik gebore word asook oor meertallige huwelike. Dit kan egter nie toegepaste regsadvies oor jou spesifieke situasie vervang nie. 


Wees versigtig: Jy kan jou gade finansieel in ‘n erge penarie laat  

As jy voortdurend uitstel om ‘n gepaste testament te laat opstel, behoort die volgende jou tot aksie te laat oorgaan.

As jy sonder ‘n testament tot sterwe kom, en jou gade oorleef jou tesame met kinders (of ander nakomelinge) sal hy of sy, ongeag ouderdom of finansiële omstandighede, die groter gedeelte van R250,000 of ‘n “kindsdeel” van jou boedel erf. Jou gade sal dus jou boedel met jou nakomelinge moet deel. Dit kan hom of haar in ‘n erge finansiële penarie laat, net omdat ‘n eenvoudige testament nie tydig opgestel is nie.    

Jy mag dalk spesifieke voorsiening wil maak vir een van jou naasbestaandes wat spesiale behoeftes het en wat nie in staat is om self na hom of haar om te sien nie. Dit kan jy net effektief doen as jy duidelike aanwysings hieroor in jou testament laat insit.
 
Dit is voor die hand liggend – maak nou ‘n gepaste testament sodat jy self besluite neem oor hoe jou boedel volgens jou spesifieke familie omstandighede hanteer moet word. 


‘n Finale gedagte – laat die wêreld in ‘n beter toestand

‘n Testament is een manier om ‘n bydrae te maak tot jou gesin se toekoms. Dit bied ook aan jou die geleentheid om ‘n organisasie wat jou na aan die hart lê te ondersteun. Baie liefdadigheidsorganisasies is afhanklik van erflatings en skenkings en jy kan ‘n groot verskil met so ‘n skenking maak.   

Daar is ook belastingerkenning vir jou boedel vir skenkings en erflatings aan liefdadigheidsorganisasies.  

Vir verdere inligting oor hoe om ‘n erflating te maak (hierdie is net een voorbeeld van baie moontlikhede) kyk na die “Children’s Hospital Trust” se “Leave a Gift in Will” webblad hier

Die proses is eenvoudig – kies ‘n liefdadigheidsorganisasie van jou keuse, besluit op die tipe erflating en die bedrag van jou erflating en gee opdrag aan jou prokureur om so ‘n bepaling in jou testament in te voeg.

www.batechubb.co.za

Koop jou eerste huis – jy benodig ‘n aksieplan

“Buy land – they’ve stopped making it” (Mark Twain)

Jy het besluit dat dit tyd is om jou eerste woning te koop. Dit is opwindend! Dit is ‘n groot stap om jou eerste woning te koop en daarin te bly. As jy die regte keuse maak, kan dit een van die beste beleggings van jou lewe wees.  

Hou die volgende in gedagte -


In die eerste plek moet jy weet hoeveel kontant jy nodig gaan hê

Maak ‘n lys van al die kostes en uitgawes wat jy nodig gaan hê (daar is ‘n oorvloed van webwerwe beskikbaar waarop jy die kostes van oordrag en die kostes van verbandregistrasies kan vasstel. Google dit en kies een wat vir jou sinvol lyk) –
  • Deposito: Tensy jy in ‘n posisie is om die hele koopprys in kontant te betaal,  gaan jy ‘n verbandlening benodig. Dalk kwalifiseer jy vir ‘n 100% verband, maar jy gaan waarskynlik moet reg wees om ‘n kontantdeposito van tussen 5% en 10% te betaal. As jy ‘n groter deposito kan betaal, is dit tot jou voordeel met ‘n kleiner verbandbedrag. 

  • Verbandregistrasiekostes: Die bank se verbandprokureurs gaan die verband in die Aktekantoor moet registreer en jy gaan hulle kostes moet betaal. Die bank sal ook normaalweg ‘n aanvanklike fooi op die lening hef.

  • Oordragskostes: Dit is standaard vir die Koper om die oordragskostes te betaal, al is dit gebruiklik vir die Verkoper om die oordragsprokureurs aan te stel. 

  • Hereregte: Dit is ‘n belasting wat SARS van jou verhaal vir die voorreg om eienaar te word van jou eiendom. As jy by ‘n ontwikkelaar koop is daar gewooonlik BTW by die koopprys ingesluit en is daar nie verdere Hereregte betaalbaar nie. Hereregte is ingevolge ‘n glyskaal betaalbaar en is betaalbaar sodra die koopprys meer as R900 000 beloop.
  • Verwante kostes: Maak ‘n lys – verhuisingskostes, vervoerkostes, aanvanklike veranderings wat jy by die nuwe huis gaan aanbring, dink ook aan ligte en gordyne/blindings en die installering van jou televisiekabels en internet verbindings om ‘n paar te noem. Maak maar die lys, dit is verbasend hoe vinnig hierdie kostes oploop. 

Wat is die prysklas waarna jy kyk? 

Jy het nou die bedrag wat jy benodig vir eenmalige kostes van die transaksie en om jou intrek te maak. Jy moet ook jou lopende en herhalende kostes in berekening bring, want dit gaan bepaal wat jy oor die langtermyn vir jou woning kan bekostig en kan betaal. 
  • Herhalende en maandelikse kostes: Maak voorsiening vir munisipale belastings, heffings, huiseienaarsversekering, water, elektrisiteit en so aan. Jy moet ook voorsiening maak vir herhalende onderhoudskostes, vir jou woning en jou tuin, oor die kort- en langtermyn.

  • Verbandpaaiemente: Dit is uiters belangrik. Gaan jy tevrede wees met die lewenstyl wat jy kan bekostig nadat jy voorsiening gemaak het vir die betaling van jou huisverband en ander verpligte uitgawes. Wanneer jy aansoek doen vir ‘n verband moet jy by verskeie banke navraag doen om die beste rentekoers te verseker. Jy moet seker wees dat jy ten alle tye jou maandelikse verbandpaaiement gaan kan betaal, selfs wanneer rentekoerse gaan styg.  Verkry goedkeuring vir jou verbandbedrag voordat jy ‘n aanbod maak. Met vandag se beperkende bepalings vir kredietverskaffers, maak dit jou lewe net makliker as jy voor die tyd weet wat die verbandbedrag is wat jy kan bekostig en waarvoor jy kwalifiseer. Dit sal jou ook help wanneer jy in finale onderhandeling oor ‘n eiendom tree as jy dan al kan aandui dat jou finansies reeds agtermekaar is. 
Wat is die resultaat? Jy het jou begroting en jy weet wat die verbandbedrag is waarvoor jy kwalifiseer. Nou oor na die volgende stap. 


Waar is my huis?  

Hier is baie vrae wat jy moet beantwoord. 
  • Ligging, ligging, ligging: Op watter omliggende areas gaan jy konsentreer? Waar wil jy woon? Watter lewenstyl is op hierdie stadium van jou lewe gepas vir jou? Watter geriewe wil jy naby jou woning hê? Doen navorsing oor die gebied. Wat is die gemiddelde koopprys vir die omgewing? Is dit in pas met jou begroting? Het die omgewing ‘n geskiedenis van positiewe groei in huispryse en is die vooruitsig dat dit so sal voortgaan? Hoe lyk die misdaadvlakke in die omgewing? 

  • Soekfunksies: Jy het jou prysklas en jy het die gebiede wat vir jou reg lyk. Nou moet jy daardie huis gaan soek. Lekker! Die meeste navorsing word aanlyn gedoen, maar jy kies natuurlik die metode waarmee jy gemaklik is.  

  • Eiendom in ‘n gemeenskapskema: Jy moet seker maak oor die Reëls en Regulasies wat op jou as eienaar van toepassing gaan wees. Maak seker dat die Huiseienaarsvereniging of Regspersoon se finansies in orde is en dat die belangrike onderhoudswerk oor die jare gedoen is. Vra vir die geouditeerde finansiële state en bestuurstate. Kry duidelikheid op skrif oor enige spesiale heffings of enige ander groot uitgawes wat aangegaan moet word of wat in die pyplyn is. 

  • Planne, afwykings en die res: Vra vir afskrifte van alle goedgekeurde bouplanne (kyk of daar enige afwykings van die planne was of dalk onwettige strukture opgerig is), doen navraag oor en kyk self vir enige gebreke soos dakke wat lek, probleme met fondasies ensovoorts. Oorweeg dit eerder om ‘n professionele verslag aan te vra, tensy jy self in geheel in staat is om self die toestand van die huis vas te stel. Twee stelle oë is altyd beter as een, veral as dit deur ‘n kenner gedoen word. 
Benader die transaksie as die mees belangrike finansiële besluit wat jy in jou lewe gaan maak. Dit is waarskynlik die geval.


Jy gaan ‘n aanbod maak. Die regsposisie

Jy is nou gereed om ‘n aanbod op die huis van jou keuse te maak. Daar is opwinding in die lug. Gaan die verkoper jou aanbod so aanvaar? Of dalk ‘n teenaanbod maak? Jy kan nou nie meer wag nie. Die Koopooreenkoms word aan jou voorgehou, die pen word aan jou uitgehou – ‘Teken net hier, ons sal die res doen.”

Hou net vas!  

Hoekom enige kanse neem. Voordat jy teken, moet jy eers die Koopooreenkoms saam met jou eie prokureur deurgaan. Laat jou eie prokureur die nodige soeke by die Aktekantoor doen en die bestaande titelakte en die voorwaardes daarop deurgaan. Is daar enige beperkende voorwaardes op die titelakte waardeur jou eienaarskap ingeperk word? Is daar serwitute waardeur ander mense sekere regte oor jou eiendom verkry? So kan mens aangaan. 

Met die verkoop van eiendom moet alles op skif wees. Mondelinge ondernemings en bevestigings wat aan jou gemaak word, moet beslis op skrif gestel word en deur beide partye onderteken word en moet as addendums tot die koopooreenkoms gevoeg word. Gee dit aan jou prokureur deur en maak seker dat dit op skrif deel word van die koopooreenkoms.

Arrestasie en aanhouding vir Dronkbestuur: Skadevergoeding as gevolg van Seksuele aanranding tydens aanhouding

Hierdie geval onderstreep weereens waarom jy of enigiemand anders nie jou voertuig moet bestuur as daar selfs die moontlikheid is dat jy of jou aangewese bestuurder oor die wetlike beperking van alkohol is nie. Vir gewone bestuurders (nie-professionele bestuurders) is dit tans ingevolge die asemtoets ‘n alkoholinhoud van 0.24mg per 1,000ml asem wat gemeet is of ‘n bloedalkoholvlak van 0.05g per 100ml bloed wat gemeet is.

Indien jy deur die owerhede gevang word (statisties gaan ‘n gereelde dronkbestuurder een of ander tyd gevang word - jaarliks is daar 75 000 sulke arrestasies in die land) kan dit gebeur dat jou hele lewe omvergewerp word, nog voordat jy die binnekant van die hof gesien het. 

Die polisie is verplig om jou fundamentele regte te beskerm terwyl jy in aanhouding is. Ons het almal al gehoor van gevalle waar iemand in aanhouding in polisieselle aangerand of beseer is. ‘n Saak wat onlangs in die Hoogste Hof van Appèl aangehoor is, het oor so ‘n erge geval gehandel.


‘n Man is deur ‘n groep mans verkrag
  • ‘n Gesinsman is gearresteer en van ‘n lys ernstige misdade aangekla.

  • Die klagtes was dat die beskuldigde bestuur het terwyl hy onder die invloed van alkohol was, dat hy roekeloos en nalatig bestuur het en dat hy versuim het om te stop nadat hy in ‘n ongeluk betrokke was. Dit was nadat hy op ‘n Saterdag om 02h30 in die oggendure in ‘n huis se grensmuur vasgejaag het. Hierna het hy probeer om van die ongelukstoneel weg te jaag, terwyl hy sy beseerde passasiers agtergelaat het. 

  • Nadat hy aangekla is, het senior polisiebeamptes gelas dat hy op borgtog van R500 vrygelaat kon word. Hy het ‘n vaste adres gehad, hy was in vaste diens, hy was getroud en hy het ‘n kind van 5 jaar oud by die huis gehad. Hy het geen vorige veroordelings gehad nie, daar was geen uitstaande lasbriewe vir sy arrestasie nie, hy was nie uit op borg vir enige ander misdaad nie en hy het ook geen oortreding begaan terwyl hy op borgtog was nie. 

  • Voordat hy op borgtog vrygelaat kon word, is hy na ‘n ander polisiestasie oorgeplaas. Toe sy vrou daar opgedaag het met die geld om vir sy borgtog te betaal, is sy uitgelag en meegedeel dat geen borg vasgestel is nie.

  • Die bestuurder het die res van die naweek in die polisieselle in aanhouding deurgebring. Hier is hy herhaaldelik aangeval en deur ‘n onbekende getal aangehoudenes verkrag. Gedurende die aanvalle het hy sy bewussyn verloor. Hy was te bang om die aanvalle aan te meld en het weerwraak aanvalle teen hom gevrees. Tydens die hofverrigtinge kon hy nie sy bewering staaf dat daar nie voldoende inspeksies van die selle gehou was nie. Hy kon ook nie bewys dat die polisie se versuim om hom te skuif, nadat hy die polisie gewaarsku het dat hy gedreig is dat hy vekrag gaan word, nalatig was nie. Die polisie het die aanval en die seksuele geweld tydens die aanhouding egter nooit ontken nie. 

  • Die bestuurder is tydens die daaropvolgende hofverrigtinge op borg vrygelaat en die klagtes teen hom is uiteindelik in geheel teruggetrek. 

  • Hy het hierna ‘n eis vir skadevergoeding ingestel. Soos met enige eis vir skadevergoeding moes hy wederregtelike optrede van die polisie teenoor hom bewys. Hy moes bewys dat hierdie optrede skade vir hom veroorsaak het en hy moes ook skuld in die vorm van nalatigheid of opsetlike optrede aan die kant van die polisie bewys. 

  • Die hof bevind dat die polisie wel verantwoordelik is om op die volgende basis skadevergoeding te betaal –

    • Die wederregtelike optrede van die polisie is nooit ontken nie,  

    • Die polisie was reeds nalatig deur hom nie op borgtog vry te gelaat het nie.

    • Tweedens was hulle nalatig deur hom nie van gewelddadige misdadigers te skei, wat saam met hom aangehou was nie. 

    • Die hof bevind ‘n direkte en waarskynlike verbintenis tussen die gebeure en die foute van die polisie wat tot die aanval gelei het.
       

Die polisie is aanspreeklik; gaan skadevergoeding help?

Die hof gee die gesinsman gelyk en ken algemene skadevergoeding van R200 000 aan hom toe. ‘n Mens moet dan vra of dit voldoende is vir die trauma en moontlike herinneringe aan die verskriklike insidente wat lewenslank by hom gaan bly.  Ons howe is konserwatief by die bepaling van algemene skade. Die getuienis van die kliniese sielkundige oor die ernstige gevolge wat die insidente op die gesinsman gelaat het, word volledig in die hofuitspraak weergegee en dit is ‘n sombere uiteensetting. 

Intense trauma, post-traumatiese stres, deurlopende behandeling met anti-depressante (al is dit ses jaar na die insident), diepe vernedering, erge vrese ook oor HIV, seksuele probleme, ‘n gebroke huwelik, probleme met sy verhouding met sy kind, swak self-beeld, persoonlikheidsverandering, sporadiese herinneringe van die verskriklike naweek  – die lys hou aan.  Die gevolge het ook na sy werksituasie oorgespoel. Hy kon nie meer in groepe werk nie en hy is ook oor die gebeure gespot. Sy werksverhouding het daaronder gely en sy diens is uiteindelik beëindig. Hy het probeer om homself om die lewe te bring en het hierna vyf dae in die intensiewe sorgeenheid van die hospitaal deurgebring.
 
Dit beteken nie dat ons nalatigheid of magsmisbruik van ons polisielede moet duld nie. Daar is gereelde berigte oor groot eise wat teen die polisie (en ander staatsinstellings) vir vergrype ingedien word en wat vir miljoene rande buite die hof geskik word. Hiervoor is dit noodsaaklik om so gou as moontlik na ‘n insident die nodige regshulp te verkry.

“Jy word afgedank” teenoor “Nee, ek bedank” – wie is reg?

Een van jou werknemers moet van ernstige wangedrag aangekla word en jy begin met ‘n dissiplinêre verhoor. Ten einde te voorkom dat hy afgedank word, spring die werknemer jou voor en bedank dan self met onmiddellike effek.

Kan jy met die dissiplinêre proses aangaan? Tot onlangs was die gesag van die Arbeidshof dat die bedanking die diensverhouding tot ‘n einde gebring het. Die werknemer en die werkgewer se paaie het geskei en die werknemer is nou buite bereik van die werkgewer. 

Die Arbeidshof het hierdie situasie weereens oorweeg en het nou in die guns van die werkgewer beslis. 


Soek daardie gaping
  • Die uitvoerende direkteur en hoofkurator van ‘n kunsmuseum is deur sy werkgewer gevra om skriftelik op bewerings van ernstige wangedrag teen hom te reageer.

  • Hierna het hy aangedui dat hy sonder ‘n kennisgewingstydperk en met onmiddellike effek bedank. Hy het die Arbeidshof genader om sy bedanking te erken en om te verklaar dat die werkgewer nie meer jurisdiksie gehad het om met enige dissiplinêre stappe teen hom aan te gaan nie. 

  • Die Arbeidshof het hierdie aansoek geweier en die hof bevind dat –
    • Die diensooreenkoms kom eers tot ‘n einde wanneer die bedanking aan die einde van die ooreengekome kennisgewingsperiode in werking tree (in hierdie geval was dit vier weke).

    • Dit is net die werkgewer wat kan besluit om ‘n bedanking met onmiddellike effek te aanvaar of nie. Die werkgewer kan daarop aandring dat die ooreengekome kenisgewingstydperk gewerk moet word, besluit om die ooreenkoms te kanselleer en skadeveroeding te eis, ‘n ander ooreenkoms met die werknemer aan te gaan of afstand doen van die regte wat in de oorspronklike ooreenkoms vervat is. 

    • In hierdie spesifieke geval het die werkgewer nie die werknemer se aanbod om onmiddellik te bedank, aanvaar nie. Die werkgewer was dus geregtig om binne die raamwerk van die oorspronklike diensooreenkoms met die dissiplinêre proses aan te gaan.
Hierdie skuiwergat is dus toegemaak. Die dissiplinêre proses kan dus voortgaan en indien ernstige wangedrag bevind word, bestaan die sterk moontlikheid van ontslag.

 
Hoe moet die wekgewer dit benader?

Indien jy as werkgewer van voorneme is om aan te gaan met dissiplinêre stappe, moet jy dit aan die werknemer duidelik maak dat sy aanbod of poging om met onmiddellike effek te bedank, nie aanvaar word nie. Aan die einde van die kennisgewingstydperk gaan die diensooreenkoms wel tot ‘n einde kom. As jy dus wil voortgaan met die dissiplinêre proses moet jy dadelik die nodige stappe neem. Verkry kundige regsadvies van ‘n arbeidsregkenner om jou met die prosesse en bepalings en slaggate van ons arbeidsreg te help.

Jou webwerf van die maand: Slaap soos ‘n (groot) baba

Slapeloosheid is ‘n ernstige toestand. Dit het ‘n negatiewe invloed op jou vermoë om logies te dink en te redeneer, op jou oordeel en besluitneming, op jou aandag en gemoedstoestand. In uiterste gevalle gaan dit gepaard met depressie, angstigheid en selfs met simptome van paranoia. Oor die lang termyn is versteurde slaapgewoontes ‘n bydraende faktor tot die verhoogde risiko van demensie en Alzheimers. Chroniese slapeloosheid word selfs met ‘n korter lewe verbind. Dit kan dus letterlik jou lewe verkort. 

Dit is ook algemeen. Dalk nie verbasend in die tyd en oorweldigende inligtings-era waarin ons leef nie.  Meer as ‘n derde van ons dui gereeld aan dat ons probleme ervaar om aan die slaap te raak of aan die slaap te bly.

Navorsing oor slaappatrone en slapeloosheid het wel die onverwagse bevinding gemaak dat senior bestuurspersone die beste slaapgewoontes van almal van ons het. Hoe meer senior die bestuurspos, hoe beter slaap die persoon. Dit klink nie reg nie. As jy ‘n senior bestuurspos het, het jy seker baie meer stres? As jy meer stres het, gaan jy sekerlik in die aande onrustiger slaap?

Hoe doen hierdie sakeleiers dit? Hoe kan almal van ons hieruit leer? 

Mindful Magazine se artikel “Senior Executives Get More Sleep Than Everyone Else” hier gee vir ons die riglyne (en ‘n eenvoudige asemhalingsoefening) oor hoe om hierdie goeie slaapgewoontes aan te leer. 


Uit die HAT: 

perdedokter  1. (informeel) veearts    2.  (skertsend) mediese dokter wat ruwe metodes gebruik 

attorneys@batechubb.co.za www.batechubb.co.za attorneys@batechubb.co.za www.batechubb.co.za

Uitsluiting
Die inligting hierin vervat is van ‘n algemene aard en moet nie as professionele advies gebruik word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u professionele adviseur vir spesifieke en toegepaste advies.


© DotNews.  All Rights Reserved.


  A Client Connection Service by DotNews