Teken aan
Follow Us On Facebook Follow us on Facebook

November 2018 Nuusbrief

Kan ek troeteldiere in ‘n Residensiële Kompleks aanhou?

“I never married because there was no need. I have three pets at home which answer the same purpose as a husband. I have a dog which growls every morning, a parrot which swears all afternoon, and a cat that comes home late at night.” (Marie Corelli, Engelse skrywer.)


Residensiële komplekse en landgoedere raak algaande meer en meer gewild, te danke aan die vele voordele wat hulle bied. ‘n Mens moet egter in gedagte hou dat dit ook beperkinge meebring. Om in ‘n gemeenskaplike area te woon, hou noodwendig in dat  inwoners se vryheid ten opsigte van die gebruik van die eiendom ingeperk word. Alle inwoners is onderhewig aan die Gedragsreëls wat in die gemeenskapskema geld.

Dikwels is een van hierdie beperkinge die reg om ‘n troeteldier aan te hou. Dit is daarom ook ‘n bron van groot konflik en ongelukkigheid.

Inwoners val gewoonlik in een van drie katogorieë:
  1. “Dit is vir my baie belangrik dat my hondjie/katjie/papegaai/verkleurmannetjie by my woon”.

  2. “Ek kan eenvoudig nie meer daardie skoothond-keffery/middernagtelike kattemaai /papegaai-gekrys vir ‘n oomblik langer hanteer nie – dit moet einde kry!” of

  3. “Troeteldiere – persoonlik nie vir my belangrik nie, maar nou ja, dit is in die haak solank hulle nie vir my probleme veroorsaak nie.”
Ongegag in watter kategorie jy jouself bevind is dit belangrik om, voordat jy in enige tipe kompleks intrek, vas te stel of jy en ander inwoners toegelaat word om troeteldiere aan te hou. Indien vereis word dat jy voor die tyd magtiging moet kry, kry dit eers.
  
Dit is in die belang van verkopers, kopers en eiendomsagente om hierdie onderwerp volledig in hul koopooreenkomste aan te  spreek. Dit is die beste manier om latere teleurstelling en dispute te vermy.


Deeltitelskemas

Die Regspersoon het die reg om beperkinge te plaas op die aanhou van troeteldiere. Hulle kan byvoorbeeld troeteldiere in geheel verbied, of hulle kan sekere beperkinge oplê, of verwante reëls neerlê, onder andere op die hoeveelheid troeteldiere wat aangehou mag word, die tipes honde, of grootte van die troeteldiere, die diere se toegang tot gemeenskaplike areas, geraas-beperking, vervanging van diere wanneer ‘n troeteldier afsterwe ensovoorts. Die trustees van die regspersoon moet seker maak dat daar duidelikheid is oor wát toegelaat word en wát nie. Word honde verbied? Wat van katte en wat van voëls in hokke? Wat van troetelvarke? Gidshonde? Marmotte? Slange? Goudvissies? Hoe duideliker hierdie aspekte in die reëls aangespreek word, hoe beter vir almal.

Jy moet eerder presies vasstel watter reels in jou spesifieke kompleks van toepassing is, maar die standaard “Geskrewe Gedragsreëls” hieronder sal van toepassing wees, tensy jou kompleks se regspersoon dit gewysig het. Hierdie reël bepaal as volg -

Die aanhou van diere, reptiele en voëls
  1. ‘n Eienaar of okkupeerder van ‘n deel mag nie sonder die skriftelike toestemming van die trustees (welke toestemming nie onredelik weerhou mag word nie) enige dier, reptiel of voël in ‘n deel of op die gemeenskaplike eiendom aanhou nie.

  2. ‘n Eienaar of okkupeerder wat gestremd is en wat redelikerwys ‘n gids-, gehoor- of hulphond nodig het, moet geag word deur die trustees toestemming te hë om daardie dier in ‘n deel aan te hou en die dier op die gemeenskaplike eiendom te vergesel.

  3. Die trustees is by magte om enige redelike voorwaardes ten opsigte van die aanhou van ‘n dier, reptiel of voël in ‘n deel of op die gemeenskaplike eiendom te stel.

  4. Die trustees is by magte om hul toestemming terug te trek indien enige eienaar of okkupeerder enige voorwaarde wat ingevolge subreël (3) opgelê is, verbreek.

Let daarop dat waar hierdie Voorgeskrewe Reël van toepassing is, daar spesifiek van die regspersoon vereis word om in alle omstandighede en met elke aangeleentheid “redelik” op te tree. Dit vereis ‘n delikate balans tussen die mededingende regte van troeteldier-eienaars en hul bure. Dit bring ons in ‘n grys gebied waar hewige dispute kan ontstaan. 

Juis daarom dat ons sterk aanbeveel dat voornemende kopers duidelikheid moet verkry oor hul regte, voordat hulle teken om ‘n eiendom in ‘n kompleks te koop.


Huiseienaarverenigings (HEV’s)

Huiseienaarverenigings het soortgelyke regte om die aanhou van troeteldiere te beperk, maar daar is nie “Voorgeskrewe Reëls” wat van toepassing is, soos met Deeltitelskemas nie. Die HEV se magte sal bepaal word ingevolge die toepaslike oprigtingsdokumente.  Huiseienaarverenigings beheer gewoonlik losstaande huise binne ‘n landgoed eerder as woonstelle, en is gevolglik meer geneig om tegemoetkomend te wees ten opsige van die aanhou van troeteldiere. Dit bly steeds belangrik om eers vas tel stel wat die kompleks se Reëls bepaal voordat julle daar koop.


Het die trustees dalk die kat aan die stert beet? Alternatiewe om geskille te besleg. 

Indien ‘n mens jouself in ‘n dispuut met die regspersoon of HEV of met ‘n mede-inwoner of eienaar bevind, is dit verkieslik dat die oplossing eerder gevind word deur ‘n vriendelike gesprek oor ‘n koppie koffie. So kan die partye probeer om gemeenskaplike grond te vind en ‘n positiewe uitkoms te bewerkstellig.

Indien dit onsuksesvol is, bied die (relatief) nuwe Gemeenskapskema-ombudsdiens ‘n diens om geskille op alternatiewe wyses te probeer oplos. Hierdie diens en metodes is  spesifiek ontwerp om bystand aan die strydende partye te verleen, om ‘n oplossing te vind en om te poog om ‘n goeie verhouding tussen die partye te behou. Vra jou prokureur om jou hiermee behulpsaam te wees.  


www.batechubb.co.za

Dit is weer tyd vir daardie “13de Tjek”: Is jy verplig om Jaarlikse Bonusse te Betaal?

November is hier, en werknemers regoor die land is ongetwyfeld alreeds besig om die allerwonderlikste planne te beraam met hul “Kersfees” bonus wat om die draai is. Dalk is jy een van hulle, en beplan jy om jou skulde af te betaal, of om jou gesin te bederf met ‘n spesiale vakansie. Of miskien wil jy jouself en jou geliefdes beloon deur ‘n luukse item of twee aan te skaf, sonder enige skuldgevoelens, om hierdie spesiale tyd van die jaar te vier.

Dit is alles goed en wel, maar die harde werklikheid is dat daar elke jaar ‘n stewige persentasie werkgewers is wat van mening is dat hulle nie so ‘n skielike verdubbeling van hul personeelkostes kan bekostig nie. Die werknemers word dan byeen geroep en hulle kry dan terugvoering in die lyn van “Jammer julle, ons gaan deur ‘n moeilike tyd so daar sal nie hierdie jaar bonusse wees nie. Julle kan bly wees julle het nog werk.”

Dan is daar teleurstelling en woede in die lug en verwysings na die KVBA en dreigemente van regsaksies. Dit is jammer en onnodig. Dit kan beslis verhoed word indien beide werkgewers en werknemers (a) die reg verstaan, (b) voorsorgmaatreëls tref en goed beplan, en (c) openlik met mekaar kommunikeer, nog lank voordat enige misplaaste verwagtinge van bonusse ontstaan, net om later verpletter te word. 


Eerstens, wat sê ons reg?

Ons hoor dikwels die mite dat ons arbeidsreg ‘n werkgewer outomaties sou verplig om jaarlikse bonusse te betaal. Daar is beslis nie enige sodanige bepaling in ons arbeidswetgewing nie.

Wat die reg wel aan werkgewers sê, is die volgende – 
  • Indien werknemers se indiensnemingskontrakte bepaal dat bonusse betaalbaar is, het werknemers ‘n afdwingbare reg om bonusse te ontvang. Dit is standaard kontraktereg – beide die werkgewer en die werknemer is gebonde aan die skriftelike ooreenkoms tussen hulle.

  • Dit is nie bloot die bepalings van werknemers se individuele indiensnemingskontrakte wat in ag neem moet word nie, maar ook enige beleid van die maatskappy self, en ook die bepalings van enige kollektiewe ooreenkomste.

  • Maak seker dat enige voorwaardes, byvoorbeeld met betrekking tot die winsgewendheid van die besigheid, werknemers se prestasie of werknemers se bydrae tot die besigheid se winsgewendheid, gespesifiseer word. Het jy as werkgewer onbeperkte diskresie in die besluit of bonusse betaalbaar is of nie?

  • Selfs indien daar nie spesifiek ooreengekom is dat bonusse jaarliks betaal sal word nie, kan ‘n werkgewer steeds gebonde wees om jaarlikse bonusse te betaal indien hy in die verlede gereelde bonusse betaal het. Dit kan as ‘n onbillike arbeidspraktyk beskou word om van ‘n gevestigde prosedure of gebruik af te wyk, sonder om vooraf met die werknemer te konsulteer. Afgesien van die regsbepalings, gaan dit werknemers se moraal negatief beïnvloed indien ‘n verwagting om ‘n jaarlikse bonus te ontvang, wat oor jare gevestig is, skielik met kort kennis teleurgestel word.

  • Wees versigting om onderskeid te tref tussen werknemers wat dieselfde of soortgelyke werk verrig – dit is ‘n sekere teelaarde vir dispute en klagtes van onbillike arbeidspraktyke.

Tref voorsorg en beplan vooruit

Werkgewers: Vra ‘n prokureur om jou dienskontrakte en maatskappybeleid na te gaan. Laat jou prokureur seker maak dat jy die volle diskresie behou het en dat jy nie gedwing kan word om bonusse te betaal wat die besigheid nie kan bekostig nie. Verkry regsadvies oor hoe om gereelde bonusse te betaal in jare van voorspoed, sonder om ‘n verwagting te skep wat in moeiliker jare deur werknemers afgedwing kan word. Wees op hoogte met die verwagte kontantvloei in die besigheid sodat jy (en jou werknemers) reeds vooraf sal weet indien bonusse nie daardie jaar betaal kan word nie.

Werknemers: Moenie ‘n bonus uitgee voordat jy vir seker weet welke bedrag, indien enige, aan jou betaal gaan word nie. Hou ook in gedagte dat die SAID op ‘n groter hap kan aanspraak maak as normaalweg – vra jou werkgewer vir ‘n beraming daarvan vanaf die toepaslike belastingtabelle. Wanneer jy begin dagdroom oor hoe jy jou bonus gaan uitgee, volg gerus die raad in die artikel van The Post “Use your 13th cheque wisely”, hier beskibaar.


Kommunikeer! Kommunikeer!

Ongeag aan watter kant van die indiensnemingskontrak jy jou bevind, is openlike en effektiewe kommunikasie van uiterste belang. Dit bly die sleutel om valse verwagtinge en bitter teleurstelling te voorkom wanneer die tyd aanbreek om bonusse te betaal.

Dus, werknemers, moenie skaam wees om by jou werkgewer navraag te doen oor enige moontlikhede met betrekking tot bonusbetaling nie. Werkgewers, indien daar enige onsekerheid is oor die besigheid se vermoë en/of bereidwilligheid om hierdie jaar bonusse te betaal, bring jou werknemers op hoogte van die situasie, voordat verwagtinge oor bonusse reeds gevestig is. Verkry dan regsadvies indien jy enigsinds onseker is oor die regsposisie. Ons arbeidswetgewing is gekompliseerd en enige mistastings hieroor kan jou duur te staan kom.

Wanneer is ‘n skuldenaar “Insolvent”? Die Geval van Agterstallige Onderhoud dien as Illustrasie

“Die beste bewys dat iemand solvent is, is die feit dat hy sy skulde vereffen.” (Losweg vertaal uit hierdie hofsaak.) 


Indien jy ‘n eis het vir agterstallige onderhoud, het jy verskeie metodes om jou eis af te dwing tot jou beskikking. Vra jou prokureur gerus vir advies oor die beste opsie vir jou  bepaalde eis en omstandighede. 

‘n Onlangse uitspraak van die Hooggeregshof bevestig dat een van die opsies ‘n aansoek vir sekwestrasie is. Hier het die wanbetaler desperate pogings aangewend om sekwestrasie te vermy. Net die moontlikheid van sekwestrasie bied dikwels ‘n oortuigende motivering om te betaal, ongeag of die eis op agterstallige onderhoud of enige ander vorm van skuld berus. 

‘n Insolvente persoon verloor beheer oor sy boedel en gee dit oor aan ‘n aangestelde Trustee. Die Trustee moet die insolvente persoon se bates invorder en verkoop, en die opbrengste word dan aan die bewese skuldeisers toegedeel. Die insolvente persoon kan ook beveel word om enige verdere inkomstes – soos byvoorbeeld ‘n maandelikse salaris minus redelike uitgawes – aan die Insolvente Boedel oor te betaal. Dit is ‘n duidelike voorbeeld van hoe jy beheer oor jou eie sake kan verloor.


Agterstallige onderhoud en die balju se verslag aan die hof

In hierde betrokke aangeleentheid was ‘n egskeiding ter sprake – 
  • Ingevolge die partye se skikkingsooreenkoms word ‘n pa beveel om onderhoud vir sy kinders te betaal. Hy raak agter met sy onderhoudsbetalings en uiteindelik is hy ‘n aansienlike bedrag agterstallig en verskuldig.

  • Die man se voormalige vrou verkry vonnis teen hom in die onderhoudshof vir die bedrag van R45,000. Die balju, gewapen met ‘n lasbrief vir eksekusie in die hand, lê beslag op sy motorvoertuig.

  • Ongelukkig het die balju die voertuig nie op daardie stadium verwyder en verkoop nie. Drie maande later was die voertuig skoonveld. Die man beweer dan dat hy oor geen fondse of eiendom beskik waarop beslaggelê kan word nie. Die  balju reik dan ‘n sogenaamde nulla bona relaas uit, waarin hy bevestig dat hy geen bates kon vind om op beslag te lê nie, nadat die man hom meegedeel het dat hy oor geen geld of roerende bates beskik nie.

  • Die vrou doen dan aansoek vir die sekwestrasie van haar gewese man se boedel, en hy voer die volgende twee hoofverwere aan - 

“Ek is nie werklik insolvent nie”

Om iemand se boedel te sekwestreer moet óf daadwerklike insolvensie, óf ‘n “daad van insolvensie” bewys word. Die eerste is nie altyd ‘n maklike taak nie, en alhoewel die balju se nulla bona relaas in hierdie saak wel gekwalifiseer het as ‘n daad van insolvensie, het die man steeds aangevoer dat hy nie werklik insolvent was nie. Hy het nie ontken dat die R45 000 verskuldig en betaalbaar was nie en hy het ook nie ontken dat die verskuldigde bedrag intussen met ‘n verdere R183 000 gegroei het nie. Hy het wel aangevoer dat hy die betaling op ‘n latere stadium sou maak sodra hy belastingterugbetalings van SARS sou ontvang het.

Die Hof het hierdie argument van die hand gewys, en ook ‘n bekende uittreksel uit ‘n hofuitspraak van 1907 direk aangehaal:  “Speaking for myself, I always look with great suspicion upon, and examine very narrowly, the position of a debtor who says, ‘I am sorry that I cannot pay my creditor, but my assets far exceed my liabilities'. To my mind the best proof of solvency is that a man should pay his debts; and therefore I always examine in a critical spirit the case of a man who does not pay what he owes” (ons beklemtoning). 

Die Hof beslis dat dit eenvoudig nie voldoende is vir die man om te sê dat hy een of ander tyd in die toekoms die agterstallige onderhoud gaan betaal nie. 


“Dit sal nie tot die voordeel van my skuldeisers wees, as my boedel gesekwestreer gaan word nie” 

Om ‘n sekwestrasiebevel te verkry, moet die aansoeker kan aantoon dat “daar rede is om te glo dat dit inderdaad tot voordeel van die skuldeisers van die skuldenaar sal wees indien sy boedel gesekwestreer word”.

In hierdie saak het die man beweer dat hy onderhewig was aan skuldberading ingevolge die Nasionale Kredietwet, en dat hy betalings aan sy skuldeisers gemaak het. Die probleem wat die hof hiermee gehad het was dat slegs die gelyste skuldeisers sporadies betalings ingevolge die skuldberadingsproses ontvang het. Oor ‘n tydperk van vier jaar was daar geen betalings vir onderhoud gemaak nie en die agterstallige bedrag het maandeliks met R7 000 gegroei.     

In hierdie omstandighede was die hof van mening dat sekwestrasie inderdaad tot voordeel van die man se skuldeisers sou wees.


Die Hof se diskresie

Selfs nadat jy bewys het dat jy oor ‘n “gelikwideerde” eis ( bestaande uit ‘n ooreengekome of maklik-vasstelbare bedrag) van ten minste R100 beskik, asook die insolvensie en ook die voordeel van skuldeisers bewys het, kan die hof steeds weier om ‘n sekwestrasie toe te staan. Die hof het ‘n wye diskresie “wat oordeelkundig uitgeoefen moet word, met inagneming van al die feite sowel as die algemene geskiedenis en omstandighede van die saak.” 

Die hof kon geen redes vind hoekom die vrou nie geregtig was op ‘n sekwestrasiebevel nie. Die hof bevind in haar guns en die man se boedel word gesekwestreer. 

Reis in ‘n vreemde land? Vergewis jou van die plaaslike wette of neem die risiko

 “Onkunde oor die reg is nie ‘n verskoning nie” (ou Romeinsregtelike beginsel wat steeds in verskeie regstelsels regoor die wêreld van toepassing is).


Of jy oorsee reis vir besigheid of vir ‘n vakansie, kan jou onkundigheid oor die plaaslike regsbepalings jou in ‘n moeilike situatsie laat beland. Jou verweer van “Maar ek het nie geweet dat dit hier onwettig is nie, dit is dan heeltemal wettig in Suid-Afrika” sal waarskynlik met strak gesigte en ‘n totale gebrek aan simpatie van jou bestemming se wetstoepassingsbeamptes ontvang word. Alhoewel die naaste Suid-Afrikaanse ambassade of konsulaat aan jou basiese bystand kan verleen, is dit jou oortreding van die plaaslike regsbepalings en wette – en die voorgeskrewe strawwe – wat jou in die tronk kan laat beland (of selfs in ‘n erger posisie plaas).

Ons regering het onlangs waarskuwings aan reisigers gerig en hul gewaarsku om hulself te verwitting van die wette en gebruike van die lande van hul bestemming. Dit het gevolg op die oplegging van die doodstraf op ‘n Suid-Afrikaanse dwelmsmokkelaar in Vietnam. Saam met dit die nuus dat meer as 800 Suid-Afrikaners tans in buitelandse tronke aangehou word. Nie almal van hulle word vir dwelmverwante misdrywe aangehou nie.    (Kyk na “Know your foreign laws before travelling” op die Suid-Afrikaanse regering se  webtuiste).

Rakende dwelmverwante oortredings raak dit moeilik om tred te hou met wát wáár wettig is, met dié dat baie lande in die proses is om hul posisie ten opsigte van dagga en ander “sagte” dwelms te verander, of reeds verander het. 

Hou ook in gedagte dat selfs voorskrif-medisyne ‘n mens agter tralies kan laat beland – in sekere lande kan medisyne wat heeltemal wettig is in Suid-Afrika jou in die tronk laat beland. In Dubai, kan jy byvoorbeeld tronkstraf van 6 maande tot 2 jaar opgelê word, indien jy nie oor die vereiste “mediese sertifikaat” beskik vir medikasie wat jy by jou het nie – sien hier

Hierdie waarskuwing dek egter veel meer as net onwettige dwelms en is van toepassing selfs al het jy nog nooit iets met dwelms te doen gehad nie. In Thailand, byvoorbeeld, kan tronkstraf opgelê word indien Thailand se Koninklike Familie enigsins geminag word – lees hier vir meer besonderhede oor die moeilikheid waarin mens kan beland deur nie hierdie spesifieke wet na te kom nie.

Daar is verskeie ander sulke voorbeelde van regoor die wêreld. Sekere artikels is interessant vir ‘n oorsigtelike beeld van die onverwagte regsbepalings in gewilde bestemmings (soos byvoorbeeld hierdie een). Ons beveel eerder ‘n spesifieke Google-soek oor die wette van die bepaalde land of lande wat besoek gaan word. Maak net seker dat die webtuiste wat besoek word (a) gesaghebbend en (b) op datum is. ‘n Goeie beginpunt is waarskynlik die Verenigde Koningkryk Regering se “Buitelandse Reisadvies” webblad.

DIRCO (die Departement van Internasionale Verhoudinge en Samewerking) bied ook raad en leiding op hul “Advice for South African Citizens Travelling Abroad” webblad.

Indien jy enigsins onseker is oor enige aspek, moet eerder nie kanse vat nie, vra jou prokureur om jou by te staan.

Jou Webtuiste van die Maand: 6 Maniere vir ‘n Klein Sake-onderneming om die Resessie te Oorleef

Ons is blykbaar oppad om ten minste ‘n jaar of twee van moeilike ekonomiese omstandighede te beleef. Klein sake-ondernemings het een belangrike voordeel teenoor groter mededingers – hul grootte hou hulle rats. Dit beteken dat klein ondernemings meer geredelik by veranderende omstandighede kan aanpas, wat hulle in ‘n posisie plaas om die geleenthede wat met verandering en uitdagings gepaardgaan, met beide hande aan te gryp.

Hier is ‘n paar goeie en praktiese idees oor hoe om daarmee te begin – “6 ways SA small businesses can survive the dire economy - which may last until 2020” is beskikbaar op BusinessInsider.


Uit die HAT: 

Pasella: (s.nw) (Zoeloe/Xhosa) Iets ekstra op die koop toe; present.  Ek het vir die pen betaal, maar die potlood was ‘n pasella. 
(b.nw) (bw.) Sonder dat jy daarvoor (hoef te) betaal; gratis. Wanneer ‘n mens op die vliegtuig stap, kry jy ‘n koerant pasella.
attorneys@batechubb.co.za www.batechubb.co.za attorneys@batechubb.co.za www.batechubb.co.za

Uitsluiting
Die inligting hierin vervat is van ‘n algemene aard en moet nie as professionele advies gebruik word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u professionele adviseur vir spesifieke en toegepaste advies.


© DotNews.  All Rights Reserved.


  A Client Connection Service by DotNews