Teken aan
Follow Us On Facebook Follow us on Facebook

Oktober 2018 Nuusbrief

Verkoop jou huis: Openbaar gebreke

“Honesty is the best policy” (Benjamin Franklin)


'n Onlangse beslissing in die Hooggeregshof wys weereens dat eerlikheid die beste beleid is wanneer jy jou huis verkoop. Maak eerder volle openbaring van alle gebreke wat aan jou bekend is. Anders loop jy die risiko van skadevergoedingseise en litigasie. 


Gebreke en Defekte

Die kopers het R2,3 miljoen vir hulle huis betaal. Die verkoper het haar oorspronklike vraeprys van R3,6 miljoen verminder om die transaksie deur te kry. Die kopers het die verkoper gedagvaar vir skadevergoeding oor verskeie gebreke in die huis. Hierdie gebreke het eers na oordrag van die huis aan die lig gekom. Die Landdroshof het skadevergoeding van R92,352-80 aan die koper toegeken. Die Hooggeregshof het hierdie toekenning op appèl gehandhaaf. Die verkoper moet ook die regskostes betaal, wat aansienlik gaan wees. Die verkoper se verlies is 'n praktiese les aan ons almal en wys die gevare daarvan om bekende gebreke van potensiële kopers te probeer wegsteek.

Die verkoper het nie die bestaan van die gebreke ontken nie. Die verkoper het ook nie beweer dat sy die gebreke aan die kopers uitgewys of bekend gemaak het nie. Sy het wel verskeie regstegniese verwere teen die kopers se eise aangebied.  
  • Lekkende dakke, gebrekkige vensters, gebreekte spieëls, gebrekkige swembadtoerusting en ontbrekende sleutels: Die verkoper het aangevoer dat al hierdie gebreke "patent" was (maklik geïdentifiseer kon word met ‘n behoorlike inspeksie) eerder as "latent" (verborge of nie-ooglopend). Volgens die verkoper het die kopers ruim geleentheid gehad om die perseel deeglik te inspekteer, maar het hulle gekies om dit nie te doen nie en het dus geen eis nie. Die hof het egter bevind dat daar geen bewyse was om hierdie stellings te bevestig nie. Daar was byvoorbeeld geen aanduiding dat die kopers die huis op 'n reënerige dag besigtig het nie. Die lekkasies sou dan duidelik gesien kon word. 

  • Die elektriese heining: Ten opsigte van latente gebreke, soos die elektriese heining wat nie gewerk het nie, het die verkoper haar op die beskerming van die voetstootsklousule in die koopooreenkoms beroep. Ingevolge ons reg rus daar 'n algemene plig op ‘n verkoper om items sonder gebreke aan ‘n koper te lewer. ‘n Verkoper behoort te probeer om sy aanspreeklikheid vir latente gebreke te beperk deur die voetstootsklousule in die ooreenkoms in te sluit. Terselftertyd moet die verkoper weet dat dit nie beskerming bied waar die verkoper bedrieglik opgetree het nie.

    'n Koper sal wel die voetstootsklousule kan omseil deur te bewys dat die verkoper ten tye van die kontraksluiting bewus was van die bestaan van die latente gebrek in die huis en doelbewus die gebrek aan die koper versteek het of versuim het om dit uit te wys.

    Die hof bevind in hierdie geval dat daar ‘n plig op die verkoper gerus het om die spesifieke gebreke aan die koper uit te wys. 

  • Die swembadfilter en skoonmaker: Die koopooreenkoms het 'n maand waarborg ten opsigte van toerusting en toebehore ingesluit, wat die swembad se toerusting ingesluit het. Die verkoper het aangedui dat dit in ‘n goeie werkende toestand was ten tyde van die verkoopstransaksie. By nadere inspeksie het dit geblyk dat dit as gevolg van jare se gebruik en slytasie in geheel vervang moes word. Die verkoper moes aan haar waarborg voldoen. 

  • Die elektriese nakomingsertifikaat: Die verkoopooreenkoms het die gebruiklike elektiese nakomingsertifikaat vereis. Dit het later geblyk dat die verkoper se sertifikaat ongeldig was. Die huis se elektriese bedrading het dus nie aan die vereistes voldoen nie. Die kopers kon die herstelkostes om die huis se bedrading aan die voorskrifte te laat voldoen, van die verkoper verhaal. 

Nota vir jou as verkoper

Moet eerder nie aanvaar dat die koper die bestaande gebreke met ‘n inspeksie van die woning sal kan vind nie. Moet ook nie net aanvaar dat die voetstootsklousule jou teen alle aanspreeklikheid gaan beskerm nie. Inspekteer jou eiendom deeglik. Maak ‘n skriftelike lys van alle gebreke wat jy kon vind of gebreke waarvan jy bewus is. Hierdie lys moet as ‘n aanhangsel tot die ooreenkoms gevoeg word en beide die verkoper en die koper moet dit onderteken as bewys dat hul kennis geneem het daarvan. Goeie regsadvies op hierdie stadium, kan vir die partye baie tyd, frustrasie en geld bespaar.

www.batechubb.co.za

Dagga – Hoe wettig is dit nou?

Ons sien reeds teenstrydige uiteensettings oor die gevolge van die onlangse uitspraak van die Grondwetlike Hof oor die persoonlike gebruik van dagga en wat dit in die praktyk beteken.

Of jy met die uitspraak saamstem of nie, of jy al persoonlik met kannabis / marijuana / weed / dagga kennis gemaak het of van voorneme is om dit binnekort te doen of nie, behoort ons almal bewus te wees van die gevolge van die uitspraak.

Hier is 'n paar punte om by stil te staan:-
  • Wees eerder versigtig: Die Parlement het twee jaar om die betrokke wette te verander om hul grondwetlike gebreke aan te spreek. Totdat dit gebeur, gaan hier nog baie grys gebiede wees. Dan is dit altyd beter om versigtig te wees. Jy wil nie die een wees wat ‘n toetssaak moet deurloop en finansier nie, veral as jou werk of jou skoon rekord in die gedrang kom nie. 

  • Dit bly ‘n beperkte uitspraak: Die hof het definitief nie die gebruik van "dagga" voor die voet gewettig nie. Die hof het wel bepaal dat dit nie meer ‘n misdryf vir ’n volwasse persoon sal wees –

    • Om dagga in sy of haar private ruimte en vir persoonlike gebruik te besit of te gebruik nie; en 

    • Om dagga in ‘n private ruimte en vir sy of haar persoonlike gebruik te kweek nie. 
Dit beteken dat as jy dagga wil koop of aan iemand anders wil verskaf, selfs in ‘n privaat omgewing, jy steeds op risiko is om vervolg te word en gestraf te word. Dieselfde geld vir enige besit of gebruik deur ‘n minderjarige persoon (jonger as 18 jaar).
  • Die risiko van inhegtenisneming: Die hof stel die volgende geval voor. 'n Polisiebeampte tref dagga by ‘n persoon aan en vermoed dat dit nie vir persoonlike gebruik bedoel is nie. Die beampte sal die persoon kan ondervra om hom of haar tevrede te stel dat die dagga wel vir persoonlike gebruik is. As die polisiebeampte die verduideliking aangehoor het en die verduideliking nie bevredigend vind nie, sal die beampte die persoon in hegtenis kan neem. Daarna sal dit die hof se taak wees om te beslis of die persoon die dagga vir persoonlike gebruik besit of nie. Dieselfde oorwegings sal van toepassing wees rondom die verbouing van dagga.

    Daar is nog geen duidelikheid oor wat as 'n private plek of private ruimte beskou sal word nie. Die hof meld wel in die verbygaan dat daar ander plekke as 'n persoon se huis of ‘n private woning sal wees, waar die reg op privaatheid steeds van toepassing sal wees.

    Hier is dus steeds ooglopende risiko’s. Jy kan steeds onder arres geplaas word indien die polisiebeampte van mening is dat die hoeveelheid dagga wat jy in jou besit het (of verbou), meer is as wat jy redelikerwys persoonlik kan gebruik. Dieselfde kan gebeur in ‘n plek wat jy as ‘n private ruimte beskou, terwyl die beampte van mening is dat dit nie ‘n private ruimte is nie. 
  • Bestuur onder die invloed: Ons wet bepaal dat niemand op 'n openbare pad mag bestuur nie ... of 'n voertuig bestuur of die bestuurdersitplek van 'n motorvoertuig mag beset waarvan die enjin aan die gang is ... terwyl die bestuurder onder die invloed van bedwelmende drank of 'n dwelm met ‘n narkotiese effek is nie. Dit is natuurlik ‘n bykomende bekommernis as dit kom by forensiese toetse as jy gearresteer is. Wie wil nou in 'n polisiesel aangehou word, terwyl die beamptes inderhaas reëlings moet tref vir sodanige forensiese toetse? 

  • Die werksplek: Die hof se beslissing is slegs van toepassing op private plekke of private ruimtes. Dit lyk dus onwaarskynlik dat werknemers ooit met gebruik of besit in 'n gewone kantoorsituasie kan wegkom. Wat van 'n werknemer wat vir werk aanmeld terwyl hy nog steeds onder die invloed is? Dit is ooglopend 'n baie slegte idee. Werknemers het 'n algemene plig om hul take en werksfunksies behoorlik te verrig.  As jy dit nie doen nie, stel jy jou op die minste bloot aan 'n dissiplinêre waarskuwing. Vir enigiemand in ‘n posisie waar totale soberheid ononderhandelbaar is, is hier uiteraad baie meer as net 'n waarskuwing op die spel. Hier dink ons aan swaar masjienoperateurs, mediese personeel soos chirurge en narkotiseurs, vlieëniers (en ander vlugverwante- en navigasiepersoneel), skeepskapteins, bus-en vragmotorbestuurders om maar net ‘n paar van die ooglopende posisies aan te raak.  

Werkgewers: ‘n Laaste nota

Het julle ‘n nugterheidsbeleid in plek? ‘n Beleid wat behoorlik opgestel is, behoort enige onduidelikheid en dispute oor die werkgewer se vereistes uit die weg te ruim. In die lig van hierdie nuutste uitspraak, doen ons aan die hand dat dit juis nou ‘n goeie tyd is om jou prokureur te versoek om die werk se nugterheidsbeleid deur te gaan, op te dateer en dan te implementeer.

Notules van direksievergaderings is belangrik - “Wie, Wat, Waar, Wanneer en Hoekom?”

“A company must keep minutes of the meetings of the board, and any of its committees…” (Aldus ons Maatskappywet.)


Ons sien toenemend goeie voorbeelde van waarom dit so belangrik is dat direksies gereeld openlik en krities met mekaar moet vergader en met die uitdagings van hul maatskappy moet omgaan. Ons kan die belangrikheid van behoorlike notules en rekordhouding van besluite en besluitnemingsprosesse nie genoeg beklemtoon nie. Dink maar aan Steinhoff en ander korporatiewe skandale wat regoor die wêreld voorkom.

Ons Maatskappywet verleen enersyds aan direkteure wye magte om hul maatskappye te bestuur; terwyl dit andersyds fidusiêre en wetlike verantwoordelikhede op direkteure plaas in die uitvoering van hul pligte. Indien dit nie nagekom word nie, is daar gevolge vir die direkteure in hul persoonlike hoedanighede sowel as vir die maatskappy as entiteit.

Een van die eerste linies van verdediging om hierdie risiko te beperk is om seker te maak dat daar behoorlike notules van alle direksie- en komiteevergaderings gehou word. 


Die sleutel tot goeie notules - Wie? Wat? Waar? Wanneer? Hoekom?

Ons kan baie leer uit die artikel van die Amerikaanse regsfirma Patterson Belknap Webb & Tyler: “A Minute Guide to Minutes” (hier beskikbaar) waarin hulle praat van die belangrike “5Ws”. 

Jy sal die volgende inligting in die notules wil aanteken:
  • Wie? Die name van almal wat die vergadering bywoon; hul hoedanighede; indien lede van die direksie of ander deelnemers slegs gedeeltes van die vergadering bywoon, moet dit so aangeteken word en ook die besonderhede van watter gedeelte hul wel aan deelgeneem het. Notuleer alle verskonings vir afwesigheid wat aangebied word. Dit sal van belang wees as daar later gevra word of die vergadering die vereiste kworum gehad het om geldige besluite  te kon neem.

  • Wat? Wat het in die vergadering gebeur? Ons wil dit volledig aanteken. Die agenda, die aangeleenthede wat bespreek is, die besluite wat geneem is en optrede wat gevolg het (resolusies moet regtens in volgorde genommer en gedateer word), opsommings van enige insette of aanbiedinge wat deur buitestaanders  gemaak is (dink aan voorleggings van personeellede, ouditeure, regsadviseurs of besigheidskonsultante), enige regulatoriese aspekte wat in die vergadering opgekom het soos verklarings van belangebotsings (wetlike vereiste) en ook enige teenkanting teen besluite wat by die vergadering geneem word, moet genotuleer word, tesame met die redes vir die teenkanting.

    Die direkteure moet ten alle tye in die beste belang van die maatskappy optree. Hulle moet die uitdagings en geleenthede wat die maatskappy ervaar verstaan. Hulle moet voorberei vir vergaderings en hulle moet hul onafhanklike, ingeligte insette tot voordeel van die maatskappy by vergaderings kan lewer. Die notules moet hierdie insette reflekteer. Alle direkteure behoort ten minste sewe dae voor die vergadering ‘n volledige stel vergaderingsdokumente te ontvang om die direksie die geleentheid te bied om behoorlik vir die vergadering voor te berei. Direkteure moet ook tydens die vergadering hul eie notas byhou as bewys van hul onafhanklike deelname aan die vergadering en die bydraes wat hulle gelewer het.

    Indien daar kontensieuse aspekte bespreek of besluite geneem is, is dit ‘n goeie idee om jou regsverteenwoordiger opdrag te gee om die konsepnotules eers saam met jou deur te gaan. Veral as daar litigasie of verdere ondersoeke gaan volg. Dink maar aan ondersoeke deur SARS, of die Raad op Mededinging, of litigasie deur tenderaars of partye wat deur die besluite benadeel is.

    Ons strewe na gesonde balans met die notules – ‘n balans tussen te veel besonderhede en te min. Die notules moet alle aspekte van belang bevat, sonder om in onnodige besonderhede vas te val. 
  • Waar?  Die notules en alle dokumente wat daarmee saamgaan moet veilig bewaar word. Die maatskappysekretaris of die verantwoordelike direkteur moet seker maak dat notules vir die voorgeskrewe minimum periode van sewe jaar bewaar word. 

  • Wanneer? Dit is belangrik dat notules so gou moontlik na afloop van die vergaderings opgestel, gesirkuleer en deur die teenwoordiges aanvaar moet word. Terwyl die vergadering en die besprekings en die besluite nog vars in almal se gedagtes is, kan enige weglatings en regstellings dadelik aangespreek en uitgeklaar word. Dan kan almal die notule aanvaar en onderteken.

  • Hoekom (“Why”)?  Direksievergaderings is van uiterste belang vir die goeie bestuur van ‘n maatskappy en vir die direksie se strategiese besluitneming. Volledige notules van hierdie vergaderings kan van onskatbare waarde wees in gevalle van toekomstige litigasie of latere regulatoriese ondersoeke. 
Wanneer die notules deur die voorsitter van die vergadering onderteken is, word dit die bewys van alle besluite wat by die vergadering geneem is en alle resolusies wat aanvaar is.  Dit verskaf die belangrike geskiedkundige konteks en rekord van die besluite en die redes vir hierdie besluite wat by die vergadering geneem is. Dit behoort duidelik te wees waarom ons hierdie belangrike proses van besluitneming en rekordhouding as prioriteit moet hanteer.

Werknemers : Wanneer moet hulle aftree?

“Retirement at sixty-five is ridiculous. When I was sixty-five I still had pimples” (So het die komediant George Burns geskerts.)


Ons het rekordgetalle werknemers wat nou hul sestigs betree. As jy ‘n werkgewer is, of dit nou ‘n familie-besigheid is, of ‘n korporatiewe omgewing met duisende werknemers,  moet julle nou al seker maak dat julle gepaste beleide in plek het, om verpligte aftrede te hanteer.

Dit is uiters belangrik. Een van die dae het julle ‘n werknemer wat 55, of 60, of 65 jaar oud word. As jy van voorneme is om te sê “baie geluk my maat, lekker aftrede vir jou, sien jou van tyd tot tyd” moet jy dringend weer na die situasie kyk.

Nie alle werknemers is reg vir aftrede nie. Sommiges as gevolg van finansiële  redes. Sommiges wil nog aktief bly in hul beroepe of gebied van deskundigheid. Dit is natuurlik goeie nuus vir almal as dit ook in pas is met die werkgewer se behoeftes en beplanning.

 
Wat is die voorgeskrewe ouderdom van aftrede? 

In kort, ons het nie ‘n standaard ouderdom van aftrede nie. Ons aanvaar geredelik dat 65 die algemene ouderdom van aftrede is. As jy as werkgewer iemand sondermeer op 65 wil groet en verplig om die werksplek te verlaat, gaan jy jou vasloop. Dit is diskriminasie wat op ouderdom gebaseer is. Dit is ‘n voorbeeld van outomaties onbillike ontslag en dit plaas die werkgewer op risiko van ‘n hofbevel om maande se vergoeding aan die werknemer te moet betaal.    

Waar die werknemer die gebruiklike of die ooreengekome ouderdom van aftrede bereik het vir werknemers wat in daardie hoedanigheid en in daardie spesifieke posisie diens doen, sal diensbeëindiging wel in orde wees. 

Kom ons kyk na die verskillende moontlikhede –
  • “Ooreenkoms”: Die ideale situasie is natuurlik om met elke werknemer ‘n skriftelike diensooreenkoms te hê, waarin die verpligte ouderdom van aftrede ook tussen die partye vasgestel is. Indien dit nie reeds deel is van die ooreenkoms nie, moet jy dit nou tussen julle ooreenkom en op skrif stel. Beide die werkgewer en die werknemer moet instem tot hierdie byvoeging en dit dan onderteken – dit is beslis nie iets wat die werkgewer net eensydiglik kan afdwing nie. 

  • “Gebruiklike ouderdom van aftrede”: Die werkgewer sal kan probeer om ‘n hof te oortuig dat daar ‘n gebruiklike ouderdom van aftrede in die spesifieke werksplek bestaan. Die werkgewer sal dan moet aantoon dat hierdie gebruik konsekwent op alle vorige werknemers van toepassing was en dat die spesifieke werknemer hiervan bewus was. Nou kan ons sien hoekom dit makliker is om dit in die ooreenkoms te hê en ook om ‘n formele “aftrede beleid”  te hê.  

Hoe julle dit ookal benader, julle kan nie eensydiglik optree nie

Die Arbeidshof het onlangs so ‘n situasie hanteer. Die hof bevestig ook dat enige wysigings tussen die partye in die diensverhouding slegs by wyse van uitdruklike ooreenkoms tussen werkgewer en werknemer gedoen kan word. 
  • Hier het die diensooreenkoms nie enige bepalings oor ‘n verpligte of outomatiese aftree-ouderdom bevat nie. Daar was wel ‘n verwysing na die werkgewer se “Handleiding oor Personeelbeleid en Personeelprosedures” wat by die ooreenkoms ingesluit was en waarin ‘n aftree-ouderdom van 65 aangedui is. 

  • Die Handleiding is later vervang met ‘n beleid oor Diensvoorwaardes en die aftree-ouderdom is hierin aangedui as 60 jaar. Die nuwe beleid was nie van toepassing op enige werknemer wat ingevolge hul dienskontrak geregtig was om op 65 af te tree nie.

  • Hierdie spesifieke werknemer het 60 jaar oud geword en sy dienstermyn is ingevolge die nuwe beleid beëindig. Die werknemer het hom tot die Arbeidshof gewend. 

  • Die hof bevind in die guns van die werknemer dat die werkgewer nie eensydiglik die diensbepalings mag verander nie. Die werkgewer moet die werknemer weer in diens neem en toelaat om te werk tot die ouderdom van 65 ingevolge die oorspronklike bepalings wat gegeld het toe hy aanvanklik aangestel was. 

Wat moet gebeur as die aftree-ouderdom aanbreek

Die diensooreenkoms moet verkieslik duidelike bepalings oor die aftreeprosedures bevat. Moet dit nie net verby laat gaan nie. Indien julle sou ooreenkom op ‘n verlengde diensperiode, moet julle ‘n gewysigde diensooreenkoms laat opstel om enige toekomstige onduidelikhede of dispute daaroor te vermy. 


Werknemers  – weet wat jou regte is

Diskriminasie wat op ouderdom gebaseer is, is maar net een vorm van diskriminasie wat teen die wet is. Staan op vir jou regte indien daar teen jou gediskrimineer word. Ons reg sal jou beskerm teen enige arbitrêre vorm van direkte of indirekte diskriminasie. Dit sluit vorms van diskriminasie in as gevolg van ras, geslag, etniese of sosiale oorsprong, kleur, seksuele oriëntasie, ouderdom, liggaamlike- of geestestoestand, geloof, politieke oortuigings, opvattings, sienings, kultuur, taal, huwelikstatus of gesinsverantwoordelikhede.

Wat om te doen wanneer iemand tot sterwe kom

Die wete dat die dood onafwendbaar is, beteken nie dat ons nie geskok en hartseer is wanneer dit met iemand naby aan ons gebeur nie. Ons skram dikwels daarvan weg om hieroor te dink, maar dit kan van onskatbare waarde wees as ons voorberei en weet wat om te doen, wanneer daardie hartseer dag wel aanbreek. 


Die formaliteite 

Daar is heelwat administratiewe dinge wat gereël moet word wanneer iemand dood gaan. Die gesinsdokter, begrafnisondernemer en geestelike bediener kan met baie van hierdie praktiese reëlings en formaliteite help.  
  • Jy gaan ‘n Kennisgewing van Dood (“Notice of Death”) nodig hê. Die identiteit van die oorledene, die datum, die tyd en die oorsaak van dood word hierin aangedui. Indien die oorledene by die huis gesterf het, kan die gesinsdokter hiermee help. Die oorledene sal na ‘n lykshuis of na ‘n begrafnisondernemer vervoer word. Indien die dokter nie kan aandui dat die oorledene aan natuurlike oorsake dood is nie, mag ‘n outopsie nodig wees om die oorsaak van dood vas te stel. ‘n Dokter sou die oorledene in die voorafgaande ses maande moes ondersoek het, ten einde die oorsaak van dood as natuurlike oorsake te sertifiseer. Waar die dood aan “onnatuurlike oorsake” toegeskryf word (dit is ongelukke of ‘n vermoede van optrede van ander persone wat die dood veroorsaak het), moet jy die polisie kontak. Die polisie moet dan ‘n outopsie by die naaste Staatslykshuis reël. 

  • ‘n Doodsverslag (“Death Report”) word dan uitgereik, tesame met ‘n Begrafnisbevel (“Burial Order”). Die Departement van Binnelandse Sake magtig  verskeie persone om hierdie dokumente te kan uitreik. Dit sluit tradisionele leiers, polisiebeamptes en gemagtigde begrafnisondernemers in. Indien die oorledene veras moet word, moet ‘n tweede dokter so ‘n verassing bevestig. 

  • Die Departement van Binnelandse Sake sal na ontvangs van die Kennisgewing van Dood en die Doodsverslag die Doodsertifikaat (“Death Certificate”) uitreik.  Dit kan ‘n paar weke neem, maar jy sal wel dadelik ‘n verkorte Doodsertifikaat by die Departement kan kry. Die Eksekuteur van die oorledene se boedel sal die doodsertifikaat benodig om met die proses te begin en jy of die eksekuteur sal ook die doodsertifikaat benodig vir die verwerking en uitbetaling van lewensversekeringspolisse.

  • Die dood moet ook binne veertien dae by die Meester van die Hooggeregshof aangemeld word (sien hieronder). 

Praktiese aangeleenthede 
  • Maak ‘n lys van die familielede en die nabye vriende wat jy oor die afsterwe moet kontak. Indien jy enige hulp of ondersteuning van hulle benodig, sê dit vir jou mense. Hierdie is ‘n tyd wat mense jou graag sal ondersteun.

  • As die oorledene alleen gewoon het, is daar praktiese dinge wat dadelik aandag moet kry. Dink aan troeteldiere wat versorg moet word (in geval van iemand wat alleen op ‘n plaas of plot woon, kan dit selfs ‘n kudde diere wees), veiligheidsreëlings vir die woning, bederfbare items in die yskaste en vrieskaste, koopkrag wat aangevul moet word,  waardevolle items in die woning wat dalk na veiligheid verskuif moet word en vuurwapens wat bewaar moet word om net ‘n paar te noem.  

  • Indien die oorledene ‘n orgaanskenker is, moet jy die betrokke organisasie so gou moontlik in kennis stel – tyd is hier van kritieke belang. 

  • Verkry so gou moontlik die oorledene se ID dokument, paspoort, titelaktes en soortgelyke belangrike dokumente. 

  • Vind die oorledene se testament (hopelik is daar ‘n testament) en kontak die eksekuteur wat in die testament genomineer is. Die eksekuteur sal ‘n afspraak met jou reël en ook vir jou aandui watter dokumente om saam te bring. Indien jy as persoon as eksekuteur benoem is, maak kontak met jou prokureur om jou met die aanmeldings- en beredderingsproses van hulp te wees. 

  • As daar geen testament is nie, moet die dood en die boedel nog steeds by die Meester van die Hooggeregshof aangemeld word. Jou prokureur kan jou ook hiermee van hulp wees. Afgesien van die ander aanmeldingsdokumente moet jy ook ‘n inventaris van die bates in die boedel indien. As algemene reël sal die Meester slegs ‘n eksekuteur aanstel indien die waarde van die boedel meer as R250,000 beloop. Anders sal die Meester ‘n Meestersverteenwoordiger aanstel om die bates van die boedel in besit te neem, die skulde en uitgawes van die boedel daarmee te vereffen en die restant van die boedel ingevolge die testament (of ander regsvoorskrifte) tussen die erfgename te verdeel. 

  • Stel vas of die oorledene begrafnisdekking gehad het. Indien wel, stel by hulle vas wat jy by die versekeraars moet indien sodat hulle die fondse vir die begrafnis kan uitbetaal. Regtens is daar geen voorskrif of vereiste dat ‘n begrafnis of gedenkdiens vir die oorledene gehou moet word nie. Hier moet ons kyk na die wense van die oorledene indien dit bekend is, of anders moet ons die gebruike van die familie navolg. Die gebruike en vereistes van die oorledene se geloof moet ook nagekom word. Die begrafnisondernemers sal leiding neem met die begrafnisreëlings.
attorneys@batechubb.co.za www.batechubb.co.za attorneys@batechubb.co.za www.batechubb.co.za

Uitsluiting
Die inligting hierin vervat is van ‘n algemene aard en moet nie as professionele advies gebruik word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u professionele adviseur vir spesifieke en toegepaste advies.


© DotNews.  All Rights Reserved.


  A Client Connection Service by DotNews