Gestel jy, as werkgewer, wil graag hê dat jou werknemer op Saterdagoggende moet werk, maar sy weier op grond van haar godsdienstige oortuigings. Haar geloof verbied haar om op die “Sabbat” te werk. Wie se regte sal in so ‘n geval hier seëvier?
Hierdie is gevaarlike waters om jouself in te bevind. Ons reg is besonder streng in gevalle waar werknemers skuldig bevind word aan “outomaties onbillike ontslag”. Sodanige onbillike ontslag kan geskied op enige van die gelysde “arbitrêre gronde”, en van hierdie gronde sou “godsdiens”, “gewete” en “geloof” hier van toepassing wees.
‘n Onlangse saak wat deur die Arbeidsappèlhof aangehoor is, dien as goeie voorbeeld van hoe hierdie regsbeginsels in die praktyk toegepas word, asook die gevare daaraan verbonde as jy nie hieraan voldoen nie.