Teken aan
Follow Us On Facebook Follow us on Facebook

Augustus 2019 Nuusbrief

Wees gewaarsku! Die e-pos swendelary neem toe

“Voorsorg is beter as nasorg!” (Bekende gesegde)


Is dit werklik nog nodig om mense te waarsku oor internetbedrog by eiendomstransaksies? Ongelukkig is daar te veel gevalle waar die slenters werk en bly die waarskuwings nodig. Volgens die Wetsgenootskap van Suid-Afrika is ons die land met die tweede hoogste getal kuber-aanvalle in die wêreld.
    
Die Vrywaringsversekeringsfonds vir Regspraktisyns meld in hul verslag 110 gevalle van internetbedrog met ‘n totale eiswaarde van R70 miljoen wat in die periode Julie 2016 tot Augustus 2018 by die fonds ingedien is. 

Die bedrieërs se tegnieke raak meer gesofistikeerd. Hulle maak staat op die slagoffers se gerustheid, wat beteken dat jou eie waaksaamheid onontbeerlik is as deel van jou beskerming.  

As dit kom by eiendomstransaksies is die kans altyd daar dat bedrieërs die transaksie op ‘n manier gaan probeer onderskep. 
  • Met eiendomstransaksies is daar altyd groot bedrae geld ter sprake. 

  • Elektroniese kommunikasies tussen prokureurs en kliënte skep bykomende moontlikhede vir onderskepping en wanvoorstelling. 

Almal se nagmerrie – die laaste Rand is weg! 

Jy het jou eiendom vir R5 miljoen verkoop en die eiendom is nou in die naam van die koper geregistreer. Die opbrengs van die transaksie wys egter nie in jou bankrekening A nie. Jy skakel die oordragprokureur om op te volg. Hulle deel jou mee “ons het jou opdrag uitgevoer, ons het die opbrengs in jou nuwe bankrekening B inbetaal”. Bankrekening B is egter deur ‘n bedrieër oopgemaak en jou R5 miljoen is weg!

As koper het jy gemoedsrus aangesien jy die volle  koopprys in die oordragprokureur se nuwe bankrekening C inbetaal het. Dan deel die oordragprokureur jou mee dat daar geen betaling op hul stelsel wys nie. Na verdere ondersoek kom dit aan die lig dat jy die koopsom na die verkeerde bankrekening oorbetaal het. Die bedrieër is weg met jou geld; nou is jy jou droomeiendom sowel as jou hardverdiende geld kwyt! 

Wat het gebeur? 


Hoe werk hierdie skemas? Ons kyk na twee scenarios.

Kubermisdadigers is altyd aan die gang en hul metodes word deurlopend verbeter. Ons is almal voortdurend op risiko. Tans werk die twee mees algemene metodes as volg –
  1. Jou oordragprokureur se betaling aan jou: As die verkoper gee jy ‘n skriftelike opdrag aan jou oordragprokureur om die opbrengs van die transaksie na jou genomineerde bankrekening – rekening A - oor te betaal. Net voor oordrag, dikwels in die laaste minute voor oordrag, kry die oordragprokureur ‘n e-pos van jou met die instruksie om die opbrengs nou na rekening B oor te betaal. Dit lyk asof dit van jou af kom, maar die e-pos kommunikasie tussen jou en die firma is onderskep en die bedrieërs is slinks aan die werk. Die bankbesonderhede is verander en jou geld is vir altyd weg. As jy vanuit die staanspoor die regte oordragprokureurs aanstel, behoort dit nie te gebeur nie. Die bedrieërs se metodes is egter so gesofistikeerd dat almal wat by die transaksie betrokke is, versigtig moet wees, al is die firma hoe bekend en betroubaar.  

  2. Jou betalings aan die oordragprokureurs: Die koper moet die hele of gedeelte van die koopprys aan die oordragprokureur oorbetaal. Die Hereregte vir SARS en ander uitgawes en kostes van die transaksie maak dikwels ook ‘n groot bedrag uit en dit moet ook aan die oordragprokureur oorbetaal word. Die verkoper sal verantwoordelik wees vir nakomingsertifikate, uitklaringsertifikate, agentekommissie en verbandkansellasiekostes.

    Ook hier word kommunikasie per e-pos onderskep. Dan ontvang jy ‘n e-pos wat eg lyk maar inderdaad bedrieglik is. Daarin ontvang jy instruksies om die koopprys en kostes na rekening C oor te betaal. Op die oog af lyk dit of die e-pos van die oordragprokureur se kantore gestuur is. Dit is egter deel van die bedrogspul, al bevat dit gewoonlik die kontakbesonderhede, telefoonnommers en e-posbesonderhede van die regte firma, maar met die aangepaste bankbesonderhede. Die vervalste besonderhede verskyn dalk in die e-pos self of in ‘n aanhangsel. Soms sal dit ‘n boodskap bevat dat die bankrekeningbesonderhede verander het, anders werk hul op die veronderstelling dat niemand sal weet dat die bankrekeningbesonderhede verander het nie. Wanneer die geld egter na daardie rekening oorbetaal word, is dit weg vir altyd! 

Wie kan jy vir jou verlies aanspreeklik hou? 

Teen die tyd dat jy agterkom dat jy ingeloop is, is die misdadigers lankal weg en is die kanse skraal dat hulle aan die pen gaan ry. 

Wie is jou volgende teiken? Kan die ooordragprokureur aanspreeklik gehou word? ‘n Onlangse uitspraak van die Hooggeregshof handel wel met so ‘n geval.


Hofbevinding van nalatigheid: Betaal asseblief R1 miljoen. 

In hierdie spesifieke geval het die hof bevind dat die oordragprokureur wel nalatig was en dat sy skadevergoeding van R967,510-53 aan haar kliënt moes betaal. 

Die oordagprokureur het ‘n eiendomsoordrag namens die verkoper hanteer. ‘n Bedrieër het daarin geslaag om korrespondensie tussen die kliënt en haar aktesekretaresse te onderskep. Hierna het die aktesekretaresse ‘n instruksie per e-pos ontvang om die opbrengs van die transaksie in ‘n nuwe bankrekening oor te betaal. Die klassieke Scenario 1 soos hierbo bespreek.

Die verkopers dagvaar die oordragprokureur vir skadevergooeding.  Die oordragprokureur ontken dat sy nalatig was. Die hof bevind egter dat die oordragprokureur nie haar mandaat met die nodige vaardigheid, omsigtigheid en noulettendheid uitgevoer het as wat mens onder hierdie omstandighede van die redelike prokureur en aktebesorger sou verwag het nie. 

Die feite gaan egter in elke geval bepalend wees. ‘n Redelike en noulettende prokureur sou onder hierdie spesifieke omstandighede bykomende stappe geneem het om die inligting en die veranderende instruksies wat ingevolge die bedrieglike e-pos ontvang is, te verifieer. 
 
In die meeste gevalle sou die oordragprokureur nie nalatig opgetree het nie. Jy sal moet aantoon dat die probleem nie by jou nie, maar by jou prokureur ontstaan het. Dit gaan moeilik wees en as jy onsuksesvol is, bly die verlies by jou.


Beskerm jouself. Wees uiters versigtig. 

Voorsorg is altyd beter as nasorg. Om te litigeer is uitmergelend en duur. Selfs al is jou eis suksesvol, mag jou oordragprokureur se versekeringsdekking dalk nie voldoende wees nie. 

Daar is wel stappe wat jy kan neem om jou risiko te beperk: 
  • As verkoper het jy die keuse om die oordragprokureur van jou keuse aan te stel. Kies dus die oordragprokureur wat jy vertrou om jou oordrag professioneel, sorgsaam en verantwoordelik te hanteer.   

  • Jou prokureur kan al die omsigtigheidstappe neem wat nodig is. As daar egter probleme aan jou kant is, kan die transaksie ook op risiko wees. Sorg dat jou anti-virus op datum is en dat jou sekuriteitsagteware in plek is.   Wees bedag op internetbedrog, “phishing”, “skimming”, elektroniese aanvallle, trojane en ander kubergevare. Elektroniese kommunikasie moet met ‘n gesonde skeut van skeptisisme hanteer word – selfs dit wat oënskynlik van ‘n veilige bron soos jou prokureur afkomstig is.

  • “Is That Sender For Real? Three Ways to Verify the Identity of An Email” is op FRSecure se webjoernaal beskikbaar. Hier is handige wenke ter sprake, die belangrikste hiervan is om vas te stel waar die e-pos werklik vandaan kom. 

  • Kyk dan of dit in alle opsigte ooreenstem met die e-pos van die prokureursfirma wat jy met die aanvang van die transaksie gebruik het. 

  • Wees versigtig. Is daar enigiets in die korrespondensie wat jou ongemaklik stem? Is die enigste kontakbesonderhede ‘n selfoonnommer? Is die enigste e-posadres ‘n generiese een soos Gmail? Klink die bewoording of die versoek in die e-pos nie heeltemal reg nie? Wees eerder versigtig, ondersoek die situasie verder en gaan slegs voort nadat jy absoluut seker gemaak het dat jy met die regte kantoor te doen het.
     
  • Moet veral nie blindelings reageer op ‘n kennisgewing per e-pos dat die prokureursfirma se bankbesonderhede verander het nie. In so ‘n geval moet jy eerder die firma besoek of telefonies bevestiging tot jou totale tevredenheid oor die situasie kry. Moet dan ook nie goedsmoeds die kontakbesonderhede in die e-pos gebruik nie; dit kan natuurlik ook gedokter wees.

www.batechubb.co.za

Kan jou Bank jou geld sonder jou Toestemming neem?

“A bank is a place that will lend you money if you can prove that you don't need it” (Bob Hope)


‘n Onlangse uitspraak van die Hooggeregshof het uitsluitsel gegee oor die netelige vraag of jou bank geld wat dit namens jou in een rekening hou, mag aanwend vir die vereffening van jou skuld aan die bank in ‘n ander rekening. Dit sonder spesifieke toestemming of kennis aan jou. 


Eerstens, wat is “skuldvergelyking”?

Om die belang van hierdie nuwe uitspraak te verstaan, is dit nodig om die gemeenregtelike beginsel van “skuldvergelyking” te bespreek. (Die gemenereg is die ongeskrewe regsbeginsels van ons regstelsel.) In eenvoudige terme laat skuldvergelyking ingevolge die gemenereg toe dat een skuld deur ‘n ander uitgekanselleer mag word. Gestel byvoorbeeld ek skuld vir jou R1,000, maar terselfdertyd skuld jy R900 aan my. Ek is dus beide ‘n skuldeiser en ‘n skuldenaar van jou, en die omgekeerde is ook die geval. Indien ons koppe stamp, kan ek die een skuld van die ander aftrek, met die netto effek dat ek aan jou R100 verskuldig is.

Kredietuitleners, en in besonder banke, het in die verlede dikwels hierdie beginsel gebruik vir die invordering van bedrae wat aan hulle verskuldig mag wees. Indien jy byvoorbeeld agterstallig sou raak met jou verband- of kredietkaartpaaiemente, kon jou bank die agterstallige bedrag summier vanuit jou lopende rekening neem sodra jou salaris inbetaal is. Dit sonder jou toestemming en sonder kennis aan jou. 

Banke het nog altyd aangevoer dat hierdie vermoë waaroor hulle beskik dit vir hulle makliker maak om geld uit te leen. Hulle het beweer dat dit hul risiko verlaag deur aan hulle beter sekuriteit te verleen ingeval dinge skeef sou loop. Deur kennis te gee of om toestemming te vra sou, volgens die banke, aan opstandige skuldenaars die geleentheid gee om vinnig die beskikbare fondse uit hul rekeninge te onttrek, en daardeur die invorderingsproses te frustreer. Aan die ander kant van die saak is natuurlik die moontlikheid dat ‘n mens jouself skielik in ‘n posisie kan bevind waar jy nie geld het om van te lewe nie - om nie eers jou ander skuldbetalingsverpligtinge te noem nie. So ‘n situasie is veral moeilik vir diegene in laer inkomstegroepe of wat hope skuld het.

In 2005 verwelkom ons die NKW (Nasionale Kredietwet)...


Hoe die NKW dinge verander het

In breë trekke beperk die NKW (wanneer dit van toepassing is – sien die volgende paragraaf) skuldvergelyking op so ‘n wyse dat die belangrike besluite by die verbruiker self berus. Die verbruiker het die reg om te kies of sy toestemming tot skuldvergelyking nodig is al dan nie, op watter rekeninge en bedrae dit wel toegepas mag word, wanneer dit toegepas mag word, en selfs met betrekking tot watter skulde van die verbruiker dit toegepas mag word.

Is die NKW op jou spesifieke skuld van toepassing? In die meeste gevalle sal die antwoord “ja” wees. In ‘n neutedop (daar is ‘n paar uitsonderings, en ons beveel aan dat jy jou prokureur nader vir spesifieke regsadvies) is die NKW van toepassing op die meeste persoonlike lenings, huislenings, oortrokke fasiliteite, kredietkaartskulde, bate-finansieringsooreenkomste, huurooreenkomste, ensovoorts. Dit dek verbruikers wat individue is, asook sekere regspersone (sekere maatskappye en dies meer – verkry regsadvies indien jy onseker is).

 
Dit bring ons by die Hooggeregshof

Nieteenstaande die bogenoemde, het minstens een bank (en dit is onwaarskynlik dat dit die enigste een is wat hierdie praktyk toepas) aangehou om gemeenregtelike skuldvergelyking toe te pas sonder hul kliënte se toestemming. Die bank sou met ander woorde fondse vanuit ‘n kliënt se bankrekening neem om die kliënt se skulde ingevolge ‘n ander kredietooreenkoms te vereffen. Die bank het aangevoer dat volgens hulle interpretasie van die NKW, die Wet se beperkinge op skuldvergelyking nie op hierdie omstandighede en op die bank se kredietooreenkomste van toepassing was nie. ‘n Belangrike punt hier was dat die bank se kredietooreenkomste nie enige verwysings na skuldvergelyking bevat het nie. (Waar ‘n ooreenkoms wel skuldvergelyking sou aanspreek, dan sal die NKW se beperkinge beslis van toepassing wees.)

Nadat die Nasionale Kredietreguleerder klagtes van verbruikers hieroor ontvang het, het  die Reguleerder die Hooggeregshof genader vir uitleg van die NKW se bepalings en om uitsluitsel oor die regmatigheid van die bank se praktyk te gee.
 

Die Hooggeregshof se beslissing 

Indien die NKW op die spesifieke kredietooreenkoms van toepassing is, dan mag die bank nie gemeenregtelike skuldvergelyking toepas nie, tensy jy skriftelik daartoe ingestem het. 

In ‘n neutedop – jy het ‘n keuse! Banke en ander krediet-uitleners moet jou toestemming vra voordat hulle geld vanuit jou een rekening aanwend vir die vereffening van jou skuld in ‘n ander rekening.

Hoe om te keer dat Wesenlike bewysstukke vernietig word

“Verras jou vyand” (Uit Sun Tzu se vertaalde werk ‘Art of War’)


Jy vermoed dat iemand wat jy dagvaar (of beplan om te dagvaar) noodsaaklike bewysstukke in hul besit gaan vernietig of verberg. Dalk deur dokumente te versnipper of deur elektroniese rekords uit te wis. Of dalk deur rekenaar-hardeskywe (wat inkriminerende inligting bevat), te verwyder. Jy vrees dat, indien jy nie hierdie bewysstukke tot jou beskikking het nie, jou saak vanuit die staanspoor gekelder is, of ten minste erg benadeel is.

Gelukkig bied ons reg aan jou ‘n kragtige en spoedige remedie. Die “Anton Piller” bevel. Ingevolge so ‘n bevel kan die Hooggeregshof ‘n deursoeking vir, en beslaglegging van die relevante bewysstukke magtig, sodat dit in veilige bewaring gehou kan word tot en met die verhoor.


Verrassingsklopjagte en pogings om te vis vir inligting

Die “Anton Piller” bevel is ‘n drastiese en drakoniese remedie. Om voor-die-hand-liggende redes is dit ‘n “verrassingsklopjag” op die ander party. Deur voor die tyd aan die ander party kennis te gee van jou beoogde hofaansoek sou die doel daarvan verydel word.
 
Dit beteken dat die ander party ‘n onaangekondige en aansienlike inbraak op sy of haar privaatheid gaan moet verduur. Dit kan weer aanleiding gee tot allerlei ontwrigting en ook potensiële skade aan sy of haar besigheid.

Daarom stel ons howe streng vereistes waaraan voldoen moet word voordat so ‘n bevel in jou guns toegestaan sal word. ‘n Onlangse uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl (HHA) dien as voorbeeld - 
  1. ‘n Ontwikkelaar en ‘n verkoper van rekenaarsagteware was van voorneme om ‘n maatskappy met wie hulle voorheen besigheid gedoen het, te dagvaar vir beweerde kontrakbreuk en onregmatige mededinging. Hulle doen aansoek by die Hooggeregshof en ‘n Anton Piller bevel word toegestaan. Ingevolge die bevel kon die Adjunk-balju, onafhanklike prokureurs en forensiese spesialiste toegang tot die maatskappy verkry vir die deursoeking en beslaglegging van “dokumente wat in die bevel gespesifiseer word, rekenaartoerusting en enige ander bergingstoestelle.” Die bevel is daarna tersyde gestel en die ontwikkelaar nader die HHA vir verlof tot appèl, in ‘n poging om die bevel te herstel.

  2. Die Hof weier om verlof tot appèl toe te staan. In sy beslissing het die Hof die vereistes vir ‘n Anton Piller bevel (om bewysstukke te bewaar) onder die volgende drie hoofopskrifte ontleed en toegepas– 

    • Dat jy ‘n eisoorsaak teen die ander party het, wat jy beoog om na te volg. Volgens die Hof het die ontwikkelaar dit wel bewys.

    • Dat die ander party “spesifieke dokumente of goed in sy besit het wat noodsaaklike bewysstukke daarstel ter ondersteuning van [jou] eisoorsaak...” Dit, volgens die Hof, het vereis dat die ontwikkelaar die “dokumente wat dit beoog het om te bewaar met die nodige graad van spesifisiteit moes identifiseer.” ‘n “Sambreelsoektog vir ongespesifiseerde dokumente of bewysstukke, wat dalk of dalk nie bestaan nie, word nie toegelaat nie.” Jy moet spesifiek wees.

      Volgens die Hof was die ontwikkelaar se saak gebrekkig omdat sy verklarings nie daardie presiese noodsaaklike inligting wat in die besit van [die ander party] was en wat bewaar moes word, voldoende geïdentifiseer of gespesifiseer het nie. Die verklarings het bloot voorgestel dat die geheel van [die ander party] se besigheidsdatabasis deursoek moes word vir ‘n “sleutelwoord”. So ‘n deursoeking was, sê die Hof, “indringend, en ‘n poging om vir inligting te vis deur elke aspek van [die ander party] se besigheid te ondersoek”, wat sensitiewe en vertroulike inligting ingesluit het en waarop die ontwikkelaar nie geregtig was nie.
    • Dat jy ‘n “grondige vrees of vermoede het dat hierdie bewysstukke verberg or vernietig gaan word, of dat dit op een of ander manier skoonveld gaan wees teen die tyd wat die saak tot verhoor kom...” Maar in hierdie geval, sê die Hof, het die ontwikkelaar nie daarin geslaag om te bewys dat die ander party onbetroubaar of oneerlik was nie. Boonop het die ontwikkelaar “nie daarin geslaag om ‘n feitelike grondslag uiteen te sit waaruit ‘n objektiewe gevolgtrekking gemaak kon word van ‘n grondige vrees of vermoede dat bewysstukke versteek sou word nie.”
  1. Die Hof het beslis dat in hierdie betrokke aangeleentheid, die bevel “afgewyk het van die basiese veronderstelling waarop Anton Piller-bevele toegestaan word, naamlik om bewysstukke te bewaar, en nie om daarvoor te soek nie” (eie beklemtoning).  Verder was die uitvoering van die bevel “niks meer as ‘n poging om vir inligting te vis nie” (eie beklemtoning). Die sagteware-ontwikkelaar kon gevolglik nie daarin slaag om sy Anton Piller bevel te herstel nie.

Onregmatige Okkupeerders: Uitsetting is wel moontlik, maar dit is beslis nie maklik of vinnig nie

“It is only once the court concludes that there is no defence to the claim for eviction and that it would be just and equitable to grant an eviction order that it is obliged to grant that order” (Volgens hierdie uitspraak.) 


“Koop grond, hulle maak dit nie meer nie”, was die woorde van Mark Twain. Met die eerste groen spriete van ‘n herstellende eiendomsmark wat nou skynbaar kop uitsteek, is dit nou dalk ‘n goeie tyd om sy raad te volg. 

Indien die eiendom wat jy in die oog het, deur iemand bewoon word, moet jy seker maak dat jy behoorlike regsadvies met betrekking tot die okkupeerders se regsposisie verkry voordat jy enigiets onderteken.

Ons weet almal dat onregmatige okkupeerders van eiendom sterk grondwetlike en statutêre beskerming geniet. ‘n Onlangse saak van die Hooggeregshof dien as ‘n goeie voorbeeld dat, hoewel dit moontlik is om onregmatige okkupeerders uit te sit, dit nie altyd vinnig of maklik is nie.


Die gesin wat vir twee jaar gratis verblyf geniet het
  • ‘n Koper het ‘n woonstel by die vorige eienaar se likwidateurs gekoop en het reeds op 31 Maart 2017 oordrag geneem.

  • Die nuwe eienaar het die gesin wat op daardie stadium in die woonstel gewoon het, kennis gegee om die woonstel teen 14 April 2017 te ontruim. As hulle sou versuim om te ontruim, sou dit tot uitsettingsverrigtinge lei.

  • Die gesin het geweier om te ontruim. Nadat die eienaar aan al die formaliteite van PIE (Wet op Voorkoming van Onregmatige Uitsetting en Onregmatige Okkupasie van Grond) voldoen het, het hy by die Hooggeregshof aansoek gedoen vir ‘n uitsettingsbevel.

  • Die gesin het die aansoek teengestaan. Eerstens het hulle aangevoer dat hulle die eiendom ingevolge ‘n wettige huurooreenkoms geokkupeer het. Die Hof het hierdie verweer verwerp en beslis dat die gesin in onregmatige okkupasie van die eiendom was, selfs ingevolge hul eie weergawe van die feite. Die “huurooreenkoms” (wat die eienaar ontken het ooit regmatig gesluit was) het reeds aan die einde van Mei 2017 verval. Die gesin se poging om die Hof te oortuig dat die ooreenkoms “stilswyend” hernu is, het ook nie geslaag nie. Die eienaar het dit deurlopend aan hulle voorgehou dat die gesin se voortdurende okkupasie onregmatig was.

  • Tweedens het die Hof die allerbelangrike vraag oorweeg: “Is dit regverdig en billik om [hulle] uit te sit?”
Die Hooggeregshof het ‘n 2017 uitspraak van die Grondwetlike Hof, waar die grondwetlike en statutêre regte van onregmatige okkupeerders breedvoerig bespreek is, oorweeg. Die Hof se beginpunt was gevolglik “dat niemand uit hul woning gesit mag word sonder ‘n hofbevel” nie. Enige sodanige hofbevel mag slegs toegestaan word “na oorweging van al die relevante omstandighede”, nadat die belange en omstandighede van die ookkupeerder/s in ag geneem is, en na behoorlike inagneming van die wyer oorwegings van billikheid en ander grondwetlike waardes, ten einde 'n regverdige en billike resultaat daar te stel” (eie beklemtoning). 

Dit is hier waar vrae oor behoeftigheid en die gevaar van haweloosheid ontstaan. En dit is hier waar menige eienaar al in die verlede gestruikel het.

In hierdie saak het die eienaar se regte egter geseëvier. Die Hof het op die feite bevind dat alhoewel die gesin finansieël in staat was om huur te betaal, hulle niks betaal het nie en vir twee jaar gratis verblyf geniet het. Die gesin het verder regsverteenwoordiging gehad. Hulle kon nie beskou word as ekonomies kwesbaar nie. Hulle was self in staat om alternatiewe akkommodasie te bekom.

Die Hof het verder die deurslaggewende opmerking gemaak dat die vader (in wie se naam die uitsettingsbevel gebring en teengestaan is) “vir ‘n periode van meer as twee jaar al bewus was van die werklike risiko van uitsetting, en dat hy redelik en verantwoordelik moes optree en voorsorgmaatreëls moes tref in geval ‘n uitsettingsbevel toegestaan sou word... Die beweerde risiko van haweloosheid blyk nie uit die onbetwiste feite van die saak nie, en [die vader] kan volgens geen maatstaf as behoeftig beskou of beskryf word nie.” 
  • Nadat die Hof besluit het om die uitsettingsbevel toe te staan, moes die Hof oorweeg van wanneer af die bevel geldig moes wees. Dit is ‘n belangrike vraag, want ‘n eienaar met ‘n uitsettingsbevel in die hand mag dalk nog ‘n duur wagperiode in die gesig staar voordat die bevel uitgevoer kan word. Die Hof moes oorweeg wat “regverdigheid en billikheid vereis met verwysing na die datum van inwerkingtreding van die bevel, en moet oorweeg watter voorwaardes op die bevel van toepassing moet wees. In daardie tweede ondersoek moet dit die impak van ‘n uitsettingsbevel op die okkupeerders oorweeg, en of hulle daardeur haweloos gelaat gaan word of dalk noodhulp gaan benodig om hulself elders te vestig.”

  • Gelukkig vir die eiendomseienaar het die Hof hier nie nog voorsiening gemaak vir ‘n lang wagperiode nie. Die hof gee aan die gesin agt weke om die woonstel te ontruim (wat ietwat langer was as wat versoek is, aangesien ‘n minderjarige kind se belange hier betrokke was).

  • Die gesin is ook beveel om al die regskostes te betaal.

Ter afsluiting – ‘n bietjie raad aan kopers

Die eerste prys is altyd om ‘n rotsvaste ooreenkoms met enige okkupeerders in plek te hê voordat jy ‘n bewoonde eiendom aankoop.

So moet niks – nie ‘n aanbod om te koop, of ‘n huurooreenkoms, of enige vorm van ‘n okkupasiekontrak – onderteken totdat jy en jou prokureur daaroor gepraat het en jy regsadvies hieroor ontvang het nie.

Jou Webwerf van die Maand: Toegang tot jou Erflating as jy jou oorsee bevind.

Wat gebeur wanneer jy Suid-Afrika verlaat het, en nou vanaf oorsee toegang tot ‘n erflating benodig? 

‘n Stap-vir-stap uiteensetting oor hoe om dit te doen op BizNews gee raad. Dit wissel na gelang daarvan of jy –
  • 'n Nie-inwoner is,

  • Finansieel geëmigreer het, of

  • ‘n Suid-Afrikaner is wat tydelik in die buiteland is.
Lees ook die gedeelte oor hoe belasting op erflatings werk. 

Hou in gedagte dat ‘n artikel soos hierdie noodwendig slegs vir jou ‘n breë oorsig oor die algemene beginsels wat van toepassing is, kan gee. ‘n Fout op hierdie gebied kan jou duur te staan kom. Daarom moet jy eerder professionele advies rakende jou spesifieke omstandighede verkry.


Uit die HAT: 

Victoriaans b.nw 1. Van of wat betref die periode 1837-1901, toe Victoria koningin van Engeland was: ‘n Victoriaanse huis/hotel. Victoriaanse argitektuur/opvattings/lewenswyse 2. oordrewe preuts; skynheilig: Maar jou standpunt is regtig nog Victoriaans.
attorneys@batechubb.co.za www.batechubb.co.za attorneys@batechubb.co.za www.batechubb.co.za

Uitsluiting
Die inligting hierin vervat is van ‘n algemene aard en moet nie as professionele advies gebruik word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u professionele adviseur vir spesifieke en toegepaste advies.


© DotNews.  All Rights Reserved.


  A Client Connection Service by DotNews