Teken aan
Follow Us On Facebook Follow us on Facebook

Maart 2018 Nuusbrief

Kan jy nog 'n huis met gebreke verkoop? Die Voetstootsklousule

Dit is belangrik vir kopers en verkopers om die invloed van die Wet op Verbruikersbeskerming op die verkope van alle items en bates – huise, voertuie, enigiets- goed te verstaan. Ook die effek daarvan op die bekende voetstootsklousule. 


Eerstens, wat is die onderskeid tussen patente en latente gebreke? 

Dit is belangrik om hierdie onderskeid te verstaan. 
  • “Patente gebreke” is gebreke wat met ‘n oorsigtelike ondersoek duidelik te sien is. Dink maar aan ‘n gebreekte deur, beskadigde teëls, gekraakte spieëls, vensters of windskerms om ‘n paar voorbeelde te noem. 

  • “Latente gebreke” is nie opsigtelik nie. Jou deursnee koper sal nie met ‘n oorsigtelike ondersoek die probleem raaksien of ontdek nie.  Dink maar aan dakke wat met seisoenale reën lek, ondergrondse dreine wat nie meer werk nie, geysers wat lek en so aan. 

Wat behels die voetstootsklousule? 

Ingevolge ons gemene reg gee ‘n verkoper ‘n geïmpliseerde waarborg dat die bate in orde is wanneer hy dit verkoop. Dit kan die verkoper in ‘n moeilike posisie plaas want dit stel die koper in staat om aan te dring op ‘n vermindering in die koopprys of selfs kansellasie van die hele transaksie en teruggawe, indien dit blyk dat daar fout is met die produk.

Daarom word die voetstootsklousule algemeen met ‘n verkoop gebruik. Die verkoper sê daardeur vir die koper: “Jy neem die item in die toestand soos wat dit tans is. Die risiko van enige gebreke is op jou as die koper. As verkoper bied  ek jou geen waarborge oor die item nie.” ‘n Verkoper kan egter nie altyd daaragter skuil nie. ‘n Verkoper wat bewus is van latente gebreke en wat dit met opset verberg om die koper te mislei, sal nie deur die voetstootsklousule beskerm word nie.  


Dan het ons die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming

Die Wet op Verbruikersbeskerming het die posisie van die verbruiker aansienlik verbeter. ‘n Koper is geregtig om goedere te ontvang wat van goeie kwaliteit is, sonder gebreke, duursaam en veilig is en wat redelikerwys geskik is vir die gebruik waarvoor dit bestem is. 
  
Indien enigiets wat jy koop defektief is of nie werk nie of onveilig is –
  • Is jy geregtig om die item binne ses maande nadat jy die item ontvang het aan die verskaffer terug te gee. Teruggawe geskied op die verskaffer se onkostes en risiko’s. 

  • As verbruiker is die keuse joune – jy kan aandring op ‘n volle terugbetaling vir die item, of jy kan aandring dat die item vervang word of jy kan aandring dat die item reggemaak moet word. Die verskaffer kan jou as verbruiker nie dwing om enige van die opsies uit te oefen nie. 

Is alle transaksies onderhewig aan die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming?

Hierdie is ‘n belangrike aspek. Die Wet op Verbruikersbeskerming is slegs van toepassing indien die verkoper daardie item in die normale loop van sake verkoop. Dit hou in dat ‘n “private verkoop” tussen twee privaat individue waarskynlik nie onderhewig sal wees aan die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming nie. 

As jy dus ‘n voertuig van ‘n motorhandelaar koop, gaan die Wet op Verbruikersbeskerming op die transaksie en op die voertuig van toepassing wees en die voetstootsklousule gaan die handelaar nie help nie. As jy egter dieselfde voertuig van jou buurman (of enige ander privaat individu) koop, gaan die voetstootsklousule wel van toepassing wees en gaan jy nie die beskerming van die Wet op Verbruikersbeskerming geniet nie. 


Wat dan van eiendomstransaksies?

Ontwikkelaars, bouers en beleggers sal sonder twyfel onderhewig wees aan die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming. Wat van private verkopers? Dit lyk of ‘n transaksie waar ‘n private verkoper sy huis verkoop, nie onderhewig sal wees aan die Wet op Verbruikersbeskerming nie. Ons sal egter nie 100% sekerheid hê totdat ‘n hof finaal hieroor beslis nie of totdat die wetgewing gewysig word om duidelikheid hieroor te gee nie. Wees dus eerder aan die veilige kant. 


Praktiese advies aan Verkopers 

Die beste beskerming lê in ‘n volledige openbaarmaking van enige gebreke. Lig die koper in van enige gebreke in die eiendom. Dit moet volledig aangeteken word en as ‘n aanhangsel deel wees van die koopooreenkoms. ‘n Koper wat volledig ingelig is oor die gebreke in die eiendom en wat die transaksie dan sluit sal nie na die tyd kan kla oor die toestand van die eiendom nie. 

Indien die verkoop van eiendom deel vorm van jou normale handelsaktiwiteite, sal die Wet op Verbruikersbeskerming wel op jou van toepassing wees. Daar is streng vereistes en nagevolge indien die bepalings nie nagekom word nie. 

As jy ‘n gewone privaat verkoper is, moet jy seker maak dat jy deur ‘n voetstootsklousule beskerm word. Jy kan jouself ook verder beskerm en jou eiendom deur ‘n onafhanklike deskundige laat inspekteer. Die huisinspeksiediens se verslag kan dan ook deel vorm van die koopooreenkoms.   


Praktiese advies aan Kopers 
 
Jy sal nie graag in die hof wil baklei oor die toepaslikheid van die Wet op Verbruikersbeskerming op jou transaksie nie. Ook nie of die voetstootklousule geldig is nie. In ‘n private transaksie sal dit moeilik wees om die verkoper wat deur ‘n voetstootsklousule beskerm word, aan te vat. Jy sal moet kan bewys dat die verkoper jou probeer mislei het deur die bekende gebreke weg te steek. 

Dit is veel beter om ‘n ingeligte koper te wees en voor die tyd die toestand van die eiendom vas te stel. Indien die verkoper jou nie van ‘n volledige verslag voorsien nie, is dit beter om self een aan te vra, al moet jy as die koper daarvoor betaal. As jy kyk na die totale koopprys, is dit die moeite werd om sekerheid oor die toestand van die eiendom te verkry.

www.batechubb.co.za

Agterstallig met die betaling van onderhoud?

Dit is al ‘n goeie begin om ‘n volledige onderhoudsbevel vir jouself en vir jou kinders te verkry. Wat as jy te make het met iemand wat glad nie van plan is om die onderhoud te betaal nie?  

Nuwe bepalings in die Onderhoudswet bied twee nuwe hulpmiddels om ‘n bestaande Onderhoudsbevel af te dwing –
  1. Opsporing van die ontduikers: Mense wat onderhoud ontduik sal dikwels goed daarin slaag om onsigbaar te bly. Die Onderhoudshof is nou by magte om enige netwerkdiensverskaffer te beveel om alle kontakinligting van die betrokke persoon wat hulle op stelsel het, aan die hof beskikbaar te stel. 

  2. Kredietburo’s se swartlys: Onderhoudsbetalings wat agterstallig is kan ook ‘n wesenlike invloed op toekomstige kredietwaardigheid hê. Die Onderhoudshof gaan voortaan die besonderhede van diegene wat nie onderhoud betaal nie, by die kredietburo’s aanmeld.  
Hierdie is bykomend tot die bestaande regsmiddele wat beskikbaar is, soos strafregtelike vervolging (drie jaar se gevangenisstraf is moontlik), arrestasie en aanhouding vir minagting van die hof, beslaglegging op bates en ook beslaglegging op salaris. 

Honde en ander diere sonder maniere: Die omgekrapte volstruis en die eis van R6,75 miljoen

Jou hond byt jou buurman. ‘n Besoeker hardloop weg van ‘n omgekrapte volstruis op jou eiendom en word in die proses beseer. Kan jy persoonlik hiervoor aanspreeklik gehou word? 

‘n Onlangse uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl gee vir ons die antwoorde. 

Die eis van R6,75 miljoen vir ‘n morsaf Achilles sening  
  • ‘n Besoeker is na ‘n plaas genooi om te help om wildebeeste aan te keer en te vang. Die wild op die plaas het volstruise, kameelperde en ander boksoorte ingesluit. 

  • Die besoeker het gedink ‘n volstruis jaag hom, hy het weggehardloop, geval en in die proses is sy Achilies sening daarmee heen.  

  • Hy het ‘n eis vir skadevergoeding in die bedrag van R6,75 miljoen teen die eienaar van die plaas ingestel. Sy aanvanklike eis in die Hooggeregshof was suksesvol. Die hof bevind dat hy geregtig is om die skade wat hy kan bewys, van die plaaseienaar te verhaal. 

  • Dit is hierdie bevinding wat na die Hoogste Hof van Appèl verwys is. Die Appèlhof het nie saamgestem nie en stel die bevinding tersyde. 

  • Die hof bevind dat die eiser self ‘n groot aandeel gehad het in die insident. Die hof bevind dat hy die volstruis meermale geterg het en kwaad gemaak het. Die hof bevind dat op die dag van die insident het hy selfs ‘n klip na die volstruis gegooi terwyl dit rustig rondgestap het. Hierdie optrede van die eiser het direk aanleiding gegee tot die volstruis se jaagtog.  

  • Hierdie onvanpaste optrede van die eiser het die insident veroorsaak. Dit bied ook ‘n volledige verweer aan die eienaar. Die eis word dus op appèl van die hand gewys. 

Wees versigtig – jy kan aanspreeklik wees sonder dat dit jou skuld is!

In die uitspraak kyk die hof na die moderne tendense en uitsprake waar diere ter sprake kom. Die hof kyk ook na die geskiedenis en hoe die Romeinse reg hiermee gehandel het. Hoe hanteer mense hierdie gevalle en eise waar diere, (mak en wilde diere) skade en beserings veroorsaak. 

Regsgeleerdes met ‘n akademiese inslag sal vir ure besig kan wees om die geskiedenis na te gaan. Historiese konsepte soos die actio de pauperie, edictum de feris, qua vulgo iter fit word aangeraak. Die volgende is ‘n meer praktiese opsomming –
  • Wanneer diere skade veroorsaak, is die eienaar op risiko om aanspreeklik gehou te word. Ons reg erken strenge aanspreeklikheid. Jy kan dus aanspreeklik gehou word vir jou diere se optrede, al was daar geen opset of selfs nalatigheid aan jou kant te vinde nie. In die geval van mak diere soos ‘n hond is daar ‘n bietjie meer beskerming vir jou. Jy sal net aanspreeklik wees indien die hond uit opgewondenheid of kwaadwilligheid optree. Met wilde diere is daar egter geen sodanige beperking nie.
     
  • Daar is darem ook verwere wat die eienaar kan aanbied. Jy sou kon aanvoer dat die slagoffer self ‘n aandeel gehad het in die insident deur die dier te terg of te provokeer of deur sy eie bydraende nalatige optrede. Verkry regshulp as jy hierdie verwere verder wil ondersoek.

  • ‘n Slagoffer sou ook ‘n eis kon indien op sterkte van nalatige optrede. 

Hoe kan jy jouself beskerm? 

Beskerm jouself. Sorg dat jy jou risiko beperk en dat jou diere nie ‘n gevaar vir ander inhou nie. Maak ook seker dat jy versekeringsdekking in plek het om jou te beskerm ingeval van ‘n insident en ‘n eis. Kommersiële organisasies soos wildsplase en wildreservate moet duidelike kennisgewings aanbring om enige risiko te skuif en moet ook seker maak dat besoekers vrywaringsvorms teken. Besoekers moet ook ingelig word oor die bestaan van die risiko’s. Verkry advies om seker te maak dat die vrywarings geldig gaan wees en die vereiste dekking gaan bied.

Boedels en Testamente: Dit is nou duurder om dood te gaan, aldus die Meester

Die opwaartse aanpassing van Meestersgelde is van toepassing op alle boedels van persone wat op of na 1 Januarie 2018 tot sterwe kom.

Die Meestersgelde werk op ‘n glyskaal en word bereken volgens die waarde van die bestorwe boedel. Die verhoging wordal lank verwag. Die vorige maksimum was R600 in ‘n bestorwe boedel. Die nuwe maksimum is R7000 en dit sal van toepassing wees op alle boedels met ‘n batewaarde van R3,6 Miljoen of meer.  

Die tabel lyk as volg –


Webwerf van die maand: Die kuns om ‘n Slimfoon se battery gelaai te hou

Ons raak al hoe meer afhanklik van die gemak, inligting en deurlopende konnektiwiteit wat ons slimfone ons bied. Daarom dat ons so ‘n premie plaas op ‘n battery wat lank hou.  

Ons kan ook nie meer net ‘n battery vervang nie. Die dae dat ons ‘n spaar battery met ons kon ronddra of ‘n sterwende battery met ‘n generiese battery kon vervang is verby. Jy kyk nou na die kostes en vertraging om ‘n professionele persoon te kry om dit vir jou te doen.
 
Daarom is dit belangrik dat jou battery so lank as moontlik hou. Bring jouself op hoogte met die ware feite met die artikel “Smartphone charging myths – Are you killing your battery?” beskikbaar op MyBroadband se webwerf.


Uit Die HAT: 

Ontluistering: (s.nw) berowing van luister/aansien: Ontluistering van leiers wat groot aansien gehad het.     


attorneys@batechubb.co.za www.batechubb.co.za attorneys@batechubb.co.za www.batechubb.co.za

Uitsluiting
Die inligting hierin vervat is van ‘n algemene aard en moet nie as professionele advies gebruik word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u professionele adviseur vir spesifieke en toegepaste advies.


© DotNews.  All Rights Reserved.


  A Client Connection Service by DotNews