Ons almal weet hoe belangrik dit is om ooreenkomste op skrif te plaas, selfs waar ons reg nie spesifiek van ons vereis om dit te doen nie. Dit maak sin om vooraf seker te maak dat alles waarop ons ooreengekom het volledig en duidelik op skrif uiteengesit is. Om dit nie te doen nie, is ‘n resep vir dispute, vertragings en duur litigasie.
Wat gebeur wanneer iets waarop julle mondelings ooreengekom het, vir een of ander rede nie in die skriftelike kontrak vervat is nie? Kan jy mondelinge getuienis lewer om dit te bewys of te bevestig? ‘n Onlangse uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl illustreer die regs- en praktiese beginsels wat hier ter sprake is. Hier was die betrokke partye ‘n vrugte- en wynplaas en die boorder van boorgate. Hy het sy vernuf as waterwyser gebruik om water op te spoor. Die punt in geskil – het die boorder die boorgat se wateropbrengs in hul ooreenkoms gewaarborg of nie.