Teken aan
Follow Us On Facebook Follow us on Facebook

Januarie 2019 Nuusbrief

Vaderskapverlof en Minimumlone – Hoe Gaan die Nuwe Wette Jou Beïnvloed?

Werkgewers en werknemers moet hulself vertroud maak met vier nuwe Wette wat ‘n aantal belangrike veranderinge ten opsigte van ons arbeidswetgewing teweeg bring.

Die onderstaande is slegs ‘n kort opsomming van die veranderinge wat waarskynlik die grootste aantal persone en besighede gaan beïnvloed. Ons beveel aan dat jy advies na gelang van jou spesifieke omstandighede inwin.

In ‘n neutedop - 

Uitbreiding van ouerskapsverlof (“ouerlike verlof” volgens die wet) 

Tot dusver was werkende moeders, met die geboorte van ‘n baba, geregtig op onbetaalde verlof in die vorm van vier opeenvolgende maande “kraamverlof”. Indien hulle bygedra het tot die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF), kon hulle ook by die fonds aansoek doen om kraamvoordele.

Hierdie verlof sal nou uitgebrei word tot - 
  • “Ouerskapsverlof” of “ouerlike verlof”: “Ouers” (insluitende vaders en selfdegeslag lewensmaats/gades) – kry nou tien opeenvolgende dae se ouerlike verlof.

  • “Aannemingsverlof”: Aannemende ouers van ‘n kind onder die ouderdom van twee jaar – aannemingsverlof van tien opeenvolgende weke, of ouerskapsverlof van tien opeenvolgende dae (waar daar twee aannemende ouers is, berus die besluit by die ouers self oor watter een van hulle die tien weke aannemingsverlof gaan neem en watter een van hulle die tien dae ouerlike verlof gaan neem).

  • “Opdraggewende ouerlike verlof”: Opdraggewende ouers in ‘n surrogaat-moederskapsooreenkoms – hier is dieselfde bepalings as vir aannemende ouers van toepassing. Dit hou in dat die opdraggewende ouers tussen hulle geregtig is op verlof. Daar is opdraggewende ouerlike verlof van minstens tien opeenvolgende weke, of ouerlike verlof van tien opeenvolgende dae (waar daar twee opdraggewende ouers is, berus die besluit by die ouers self oor watter een van hulle die tien weke ouerlike verlof gaan neem en watter een van hulle die tien dae ouerlike verlof gaan neem).
Ouers wat onbetaalde verlof neem, soos hierbo na verwys, is ook geregtig op voordele van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF).

Werkgewers met ‘n beleid ten opsigte van kraamverlof, en ook dié wat betaalde verlof verleen (in teenstelling met onbetaalde verlof), word aangeraai om in die lig van die nuutste wysigings hul beleide te hersien.


Die bekendstelling van minimumlone

Die nuwe nasionale minumloon is as volg - 
  • Plaaswerkers – R18 per uur

  • Huiswerkers – R15 per uur

  • Werkers in diens op “uitgebreide openbare werksprogramme” – R11 per uur

  • Ander werknemers – R20 per uur
Daar is ander bepalings van toepassing op werknemers wat ingevolge leerlingskap-ooreenkomste in diens geneem is.

Werkgewers wat nie die minimumloon kan betaal nie, kan aansoek doen om vrystelling vir ‘n periode tot en met ‘n jaar, maar die regulasies maak slegs voorsiening vir vrystelling van 10 persent.

Versuim om die minimumloon te betaal stel werkgewers bloot aan boetes van óf TWEE MAAL die waarde van die bedrag wat te min betaal is, óf TWEE MAAL die werknemer se maandelikse loon – watter een ookal die hoogste is. (Hierdie boetes kan opgaan tot DRIE MAAL vir tweede en verdere oortredings.)


Stakings, uitsluitings, betogings en linievorming (“betooglinievorming”, in Engels “picketing”)

‘n “Adviserende arbitrasiepaneel” sal aangestel word om te help om geskille te besleg waar ‘n staking of uitsluiting reeds vir ‘n uitgerekte tydperk aangegaan het, waar ‘n staking met geweld gepaardgaan, of waar ‘n staking ‘n akute nasionale of plaaslike krisis veroorsaak of vererger.

Nuwe regulasies oor betogings en linievorming (“betooglinievorming”) word ook oorweeg.

www.batechubb.co.za

Koop-om-te-bou: Neem kennis van die Sperdatums!

Hier is (nog) ‘n waarskuwing van ons howe dat ooreengekome sperdatums oor bouwerk, wat dikwels deel is van die bepalings waaraan kopers van erwe in residensiële landgoedere moet voldoen, as ernstig beskou moet word. Versuim jy om hieraan te voldoen, stel jy jou bloot aan stewige en herhalende boetes. Daar is altyd die buitekans dat jy die erf kan verloor.
  • ‘n Huiseienaarsvereniging (HEV) het die eienaars van ‘n erf met “dubbele heffings” beboet. Die bedrag was R105 000 nadat die eienaars nie voor die verstryking van die sperdatum met hul bouwerk begin het nie. 

  • Die eienaars het die geldigheid van die boetes op ‘n aantal tegniese en ander gronde aangeveg, maar die verwere het nie geslaag nie.

  • Die uiteinde was dat hulle hierdie boetes moes betaal, saam met die boetes vir laat betaling en ook die prokureur-en-kliënt regskostes vir beide die aanvanklike verhoor in die landdroshof en die onsuksesvolle appèl na die Hooggeregshof.

Drie Lesse vir Huiseienaarsverenigings (HEVs) en kopers

Die huiseienaarsvereniging se oorwinning in hierdie aangeleentheid benadruk ‘n aantal belangrike faktore waarvan beide HEVs en kopers kennis moet neem -
  1. Die HEV se magtiging om “herhalende boetes” op te lê is in die spesifieke bewoording van hul oprigtingsdokumente vervat. Daarom is hierdie reg gehandhaaf. Die HEV was spesifiek gemagtig om “’n stelsel van boetes of ander strafmaatreëls” op te lê. Indien die bewoording slegs “’n boete” toegelaat het, sou die Hof hul poging om ‘n herhalende boete op te lê van die hand gewys het. Dit is presies wat met ‘n ander HEV in ‘n vroeër saak gebeur het.

  2. Boetes moet in verhouding wees met die nadelige gevolge wat die situasie vir die HEV inhou. Nieteenstaande hierdie beginsel is die howe nie geneë om sommer in te meng nie, tensy “die boete wat opgelê word so streng en onvanpas is dat dit indruis teen ‘n mens se sin vir geregtigheid en billikheid.” Hier is die dubbele heffingsboetes gehandhaaf omdat die “voortdurende vertraging in die ontwikkeling van die eiendom ingevolge hul verpligting ... die onderliggende regte van ander eienaars ... en die gerusstelling van ‘n volledige ontwikkelde landgoed, benadeel het.”

  3. Die voorwaardes in die titelakte het aan die HEV die reg verleen om die erf terug te eis vir die verbreking van die bouklousule in die kontrak. Die hof beslis dat dit nié die reg om boetes te eis vervang het nie; dit was ‘n bykomende reg tot die HEV se beskikking.
Die belangrike punt vir “koop-om-te-bou” kopers om in gedagte te hou is die volgende – voordat jy koop, maak eers 100% seker dat jy wel in staat sal wees om die bouwerk teen die ooreengekome sperdatum te voltooi.

Slagoffers van Korrupsie, Hou Moed – die groot meneer kry 15 jaar agter tralies

“… it is necessary for an unequivocal message to be sent out that corruption on the part of politicians, especially those holding high office, will not be tolerated and that punishment for those who act as Mr Block has done in this case will be severe” (aldus die Hoogste Hof van Appèl)

Ons is almal moeg daarvoor om in die media te sien dat ons omring word met gevalle van korrupsie. Selfs al is jy nie een van die magdom besighede of individue wat op direkte wyse hierdeur beïnvloed word nie, is ons almal uiteindelik slagoffers van korrupsie.

Twee onlangse uitsprake van die Hoogste Hof van Appèl (HHA) bied vir ons ‘n bietjie moed vir die toekoms.

Eerstens, die agtergrond ...


Miminum vonnisse vir korrupsie
  • In terme van die Wet op die Voorkoming en Bevegting van Korrupte Aktiwiteite is die minimum vonnis vir korrupsie, indien meer as R500,000 ter sprake is, vyftien jaar tronkstraf. Dit is selfs op eerste oortreders van toepassing, tensy daar aansienlike en dwingende redes is om ‘n mindere vonnis te regverdig.

  • Die R500,000 drempel word na R100,000 verminder waar ‘n “gemeenskaplike sameswering” ter sprake is en tot R10,000 waar ‘n wetstoepassingsbeampte betrokke is.

  • Beslagleggingsbevele is ook algemeen en word gebruik om misdadigers van die voordele van hul korrupsie te ontneem. Ons sien ‘n voorbeeld hiervan in die saak hieronder, waar ‘n beslagleggingsbevel van R60 miljoen (en ongeveer R1 miljoen se boetes) bykomend tot die vonisse van tronkstraf opgelê is. 

Die groot meneer kry 15 jaar vir ‘n korrupte verhouding
  • Die eerste saak van die Appèlhof het betrekking gehad op ‘n voormalige prominente politikus en provinsiale Lid van die Uitvoerende Komitee van Finansies (bekend aan ten minste een van sy onderdane as “Big Chief”) aan die een kant, en ‘n besigheidsman met belange in ‘n eiendomsgroep aan die ander.
     
  • Beide is aan korrupsie skulding bevind. Die korrupsie is in die vorm van “belonings” wat aan die politikus betaal is vir die gebruik van sy “aansienlike politieke invloed” om die eiendomsgroep te help om persele aan regeringsdepartemente te verhuur. Dit is gedoen op goedgunstige terme en teen verhoogde huurgelde, sonder om deur ‘n behoorlike tenderprosedure te gaan.

  • Die hof het beslis dat dit irrelevant is dat die belonings eers na die tyd betaal is. “Die belonings is betaal en ontvang as deel van ‘n deurlopende korrupte verhouding, en die verstandhouding tussen die partye was dat die een hand die ander sou was, ten opsigte van ander gunste reeds bewys of wat nog in die toekoms bewys sou word.”

  • Die bewering dat die betalings gemaak is vir “konsultasiedienste” en “besigheidsbystand” het ook nie enige indruk op die hof gemaak nie. 

  • Die Grondwetlike Hof het die verdere appèl van die hand gewys. Groot Meneer moet nou begin om sy 15 jaar tronkstraf uit te dien. 

Beboet tot in die graf

Die tweede saak van die Appèlhof handel met dieselfe aangeleentheid, maar ‘n ander politikus en voormalige provinsiale Departementshoof was hier betrokke. Sy het soortgelyke klagte as die ander in die gesig gestaar, maar het gedurende haar verhoor tot sterwe gekom. 

Ten spyte daarvan het die staat ‘n Hooggeregshofbevel verkry vir die verbeuring van aandele in een van die eiendomsmaatskappye wat deur die oorledene verkry is (op daardie datum ter waarde van R28 miljoen), sowel as vir haar huis van R2 miljoen.

Op appèl het die Appèlhof die verbeuring van die aandele gehandhaaf, maar het die verbeuring van die eiendom van die hand gewys. Die hof steun op die beginsel dat verbeuring ontwerp is om die motivering om die misdaad te pleeg te verwyder, en nie om te straf nie. Die Hof het in plaas van die verbeuring van die eiendom beveel dat die eksekuteur van die bestorwe boedel die bedrag van R758,000 aan die staat moet oorbetaal. 


Slagoffers van korrupsie – wat staan jou te doen

Dalk het jou besigheid daardie tender verloor. Of dalk het iemand jou probeer omkoop. Hoe dit ookal sy, as jy op enige manier ‘n direkte slagoffer van korrupsie is, is daar net een ding om te doen: rapporteer dit!

Ons reg en ons howe is aan jou kant.

Eiendomsontwikkelaars, Wees op jul Hoede: Geagte Toevallings Kan Ernstige Gevolge vir Jou Kontantvloei Hê

“Never take your eyes off the cash flow because it’s the lifeblood of business” (Richard Branson)


‘n Onlangse uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl gee duidelikheid oor die hantering van eiendomstransaksies en die belastingimplikasies wat daarmee saamgaan. Die hof bevestig dat wanneer ‘n eiendomsontwikkelaar ‘n ooreenkoms met ‘n koper vir die oordrag van eiendom sluit, daardie inkomste geag word om die ontwikkelaar reeds op daardie stadium toe te val. Selfs al ontvang die ontwikkelaar eers sy betaling in die daaropgvolgende belastingjaar. Die ontwikkelaar moet dus die volle opbrengs van die verkooptransaksie in sy inkomstebelastingopgawe aandui vir die jaar waarin die koopooreenkoms onderteken is.

Die gevolg hiervan is dat ‘n ontwikkelaar belasting moet betaal voordat die opbrengste van ’n verkoop ontvang is - ‘n situasie wat beslis kontantvloei-probleme teweeg kan bring totdat oordrag aan die koper plaasvind.


‘n Belastingaanslag van R1.9 miljoen betwis

‘n Kaapse eiendomsontwikkelaar het ‘n ooreenkoms gesluit vir die verkoop van 25 eenhede. Elke ooreenkoms het ‘n deposito van R5,000 vereis, en die balans van die koopprys was teen voltooiing van die ontwikkeling betaalbaar. Kopers kon besit neem van die eenhede sodra die volle koopprys verseker was, of binne 60 dae na die datum van verkoop.  Teen die einde van die eerste jaar het 18 kopers besit geneem en in elkeen van die 25 transaksies was die koopprys ten volle verseker. 

Oordrag van die eiendomme het in die volgende belastingjaar plaasgevind. Die ontwikkelaar het nie die opbrengste van die verkooptransaksies in die jaar waarin die ooreenkomste gesluit is in sy belastingopgawe aangetoon nie. Die kooptransaksies is wel in die volgende jaar, die jaar van registrasie, in die belastingopgawes opgeneem. 

Die hof het SARS se besluit om die ontwikkelaar in die eerste belastingjaar ten volle te belas en aan te slaan gehandhaaf. Die aanslag was net onder R1.9 miljoen en dit was gebaseer op ‘n belasbare inkomste van R6.8 miljoen.


Waarom die ontwikkelaar verloor het

Eiendomsontwikkelaars stel hulself aan aansienlike risiko’s bloot wanneer hulle ‘n ontwikkeling aanpak. Miljoene rande moet vooruit betaal word en indien die ontwikkelde eiendomme uiteindelik nie verkoop nie, kan ontwikkelaars groot verliese ly. Daarom poog ontwikkelaars om die risiko’s te beperk deur die eiendomme vooruit te verkoop – gewoonlik voordat die bouwerk begin. Aangesien hulle eers betaling kan verwag wanneer die eiendom oorgedra word, vra hulle ‘n deposito, tesame met ‘n waarborg (gewoonlik van die koper se bank) vir die balans van die koopprys. Die alternatief is dat die koper die volle koopprys in die aangestelde aktebesorger se trustrekening inbetaal.

Sodra die ontwikkelaar sekerheid het oor die verkoop van die eiendomme, kan hy met die ontwikkeling voortgaan. Op hierdie basis sal ‘n bank die koste van ontwikkeling aan die ontwikkelaar voorskiet.

Die Appèlhof het nou bevestig dat die obrengste uit die verkoop van die eiendomme die ontwikkelaar toeval in die jaar waarin die ooreenkomste onderteken is. Dit is daarom ook in dieselfde jaar belasbaar.

Ontwikkelaars moet bewus wees van die impak hiervan op hul kontantvloei en moet dienooreenkomstig beplan.

Webtuiste van die Maand: “Op jou Merke, Gereed, Beurtkrag!”

Mediaberigte dui daarop dat beurtkrag nog vir ‘n wyle met ons gaan wees. Of jy tuis of by die werk is wanneer een van die gevreesde kragonderbrekings inskop, is een ding verseker – min dinge is erger as om onkant gevang te word.

Verhoed onaangename verrassings deur presies te weet wanneer dit jou buurt se beurt is. Deur bewus te wees van wanneer die krag af gaan wees, kan jy ten minste sekere voorsorgmaatreëls tref ten opsigte van jou kantoor/fabriek/huis.

Die eerste stap is om een van die toepassings (“apps”) af te laai wat deur Suid-Afrikaners ontwerp is om sin te maak uit die daaglikse afkondigings en verskillende beurtkragskedules. Lees oor die heel beste toepassings in “Be prepared for loadshedding with these apps” op IOL.  Indien jy in ‘n gebied woon wat oor voldoende eie kragopwekkingskapasiteit beskik, sodat beurtkrag in jou omgewing minder dikwels en minder ernstig is (onder andere Kaapstad), maak seker dat jou gekose “app” dit ook in ag neem.


Uit die HAT: 

Opdrifsel s.nw.   stompe, takke, leë sakke, ens. Deur ‘n stroom meegevoer/uitgespoel. Opdrifsels langs ‘n rivier, op die strand.

“Ons wil u graag hiermee ‘n gesonde, gelukkige en suksesvolle 2019 toewens.”




attorneys@batechubb.co.za www.batechubb.co.za attorneys@batechubb.co.za www.batechubb.co.za

Uitsluiting
Die inligting hierin vervat is van ‘n algemene aard en moet nie as professionele advies gebruik word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u professionele adviseur vir spesifieke en toegepaste advies.


© DotNews.  All Rights Reserved.


  A Client Connection Service by DotNews