|
BUROKRATE EN BAKSTEENMURE – VEG TERUG!
|
“Bureaucracies are inherently antidemocratic. Bureaucrats derive their power from their position in the structure, not from their relations with the people they are supposed to serve” (Alan Keyes, ‘n Amerikaanse politikus)
Administratiewe rompslomp is ‘n groeiende probleem, nie net in Suid-Afrika nie maar ook wêreldwyd. Dit is dus verblydend dat daar twee onlangse hofbeslissings is, waar ondoeltreffende/ongeïnteresseerde/korrupte burokrate persoonlik vir regskostes aanspreeklik gehou word, waar hul wangedrag iemand dwing om hul optrede in die hof aan te veg.
|
Geval 1: Regeringsamptenare word beveel om persoonlik regskostes te betaal
‘n Pasiënt van ‘n provinsiale hospitaal se seun was met ernstige gestremdhede gebore as gevolg van mediese nalatigheid. Die Hof het bevind dat die betrokke Departement van Gesondheid vir skadevergoeding aanspreeklik was en het ook bevind dat die departement haar regskostes op die bestraffende prokureur en kliënt skaal moes betaal. Die hof het verder beveel dat 50% van sodanige regskostes (volgens media skattings waarskynlik sowat R500,000), persoonlik deur drie amptenare betaal moes word -
- ‘n Prokureur in diens van die Staatsprokureur wat die saak hanteer het;
- ‘n Senior regsadministratiewe beampte in diens van die Departement van Gesondheid; en
- ‘n Mediese praktisyn werksaam as ‘n mediese–regsadviseur van die Departement van Gesondheid.
Hierdie bevel volg op die Hof se bevindings dat die staat se besluit om die eis te verdedig gewoon roekeloos was. Die hof het al drie amptenare se hantering van die saak gekritiseer en die hof het ‘n lang lys van mislukkings, onverskilligheid en onbevoegdheid uitgewys. Die hof beskou die benarde toestand van die moeder en haar erg gestremde seun as tekenend van die verwoesting en skade wat openbare amptenare in Suid-Afrika deur hul gevoelloosheid, onbevoegdheid en onverskilligheid kan berokken.
Geval 2: Moeilikheid met tenders en ‘n skerp bewoorde waarskuwing aan pligsversakende amptenare
Die Hoogste Hof van Appèl het die toekenning van ‘n munisipale tender op grond van ‘n reeks ongerymdhede, foute en gebrekkige prosedures tersyde gestel. Die hof het die Munisipaliteit gewaarsku dat indien sulke optrede herhaal sou word, hulle die kans sou staan dat die hof die besluitneming van die munisipaliteit sal wegneem om self die tender toe te ken.
Die hof waarsku verder dat identifiseerbare amptenare wat vir die situasie verantwoordelik is, persoonlik vir die kostes aanspreeklik sal wees. Die hof maak dit duidelik dat die tyd aangebreek het vir howe om ernstig te oorweeg om amptenare wat soos hierbo eiesinnig optree, persoonlik aanspreeklik te hou vir verspilde kostes wat in die proses aangegaan word. Dit is die hof se mening dat persoonlike aanspreeklikheid wel die nodige ontnugterende effek op die pligsversakende amptenare sal hê.
Indien jy jou dus teen ‘n muur van burokrasie vasloop....
Die hof maak dit duidelik dat openbare amptenare nie geterroriseer moet word nie. Hulle hoef ook nie in vrees te lewe dat ‘n geringe fout wat hulle sou maak, tot die ekstreme sanksie van ‘n persoonlike kostebevel sal lei nie.
Daar is natuurlik baie amptenare wat hulle werk doeltreffend en eerlik doen en ons moet hulle ten volle hierin ondersteun en erkenning gee.
Indien jy egter ongelukkig genoeg is om jou teen ‘n muur van burokratiese rompslomp, ongeïnteresseerdheid of ondoeltreffendheid vas te loop, moet nie net gaan lê nie. Laat jou prokureur ‘n formele waarskuwing aan die amptenare rig. Miskien sal die moontlikheid van persoonlike aanspreeklikheid hulle beweeg om die publieke dienste te verskaf wat hulle betaal word om te doen.
|
NOTA AAN PROKUREURS: Die uitspraak in “Saak 1” L v MEC for Health, Gauteng (17077/2012) [2014] ZAGPJHC 337 is beskikbaar op Saflii. Mediaverslae dui daarop dat ‘n appèl waarskynlik ingedien sal word.
Die uitspraak in “Saak 2” Mogale City Municipality v Fidelity Security Services (Pty) Ltd and Others (572/2013) [2014] ZASCA 172 is beskikbaar op Saflii. |
|
|
|
|
Kontrakte moet altyd ‘n sogenaamde “geen wysigingsklousule” bevat wat bepaal dat geen verandering van die ooreenkoms van enige krag of effek sal wees nie, tensy dit op skrif gestel en deur alle partye onderteken is.
‘n Onlangse saak in die Hoë Hof rakende ‘n eiendomsdispuut toon aan hoekom dit belangrik is.
Verhuurder teen Huurder: Die restaurant wat swaar tye beleef ...
|
|
|
|
As gevolg van die aanvaarding van ‘n ondernemingsreddingplan kan jou eis teen jou hoofskuldenaar regtens drasties verminder word. Hoe raak dit jou eis teen borge wat hulself voorheen verbind het om jou hoofskuldenaar se skuld te vereffen?
In vorige uitgawes van LawDotNews het ons gewys op die uiteenlopende beslissings wat in verskillende afdelings van die Hoë Hof oor die hantering van borgskappe tydens besigheidsredding gegee is. Ons kan nou berig dat daar onlangs ‘n uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl hieroor gegee is. ‘n Meer eenvormige benadering behoort nou van toepassing te wees. Skuldeisers sal bly wees om te verneem dat die Appèlhof bevestig het dat die borgstellings wel afdwingbaar bly; dit bly die verantwoordelikheid van die skuldeiser om die borgstelling af te dwing.
Lees meer vir jou lys van aksie . . .
|
|