Teken aan
Follow Us On Facebook Follow us on Facebook

April 2019 Nuusbrief

Jou hond, kat, koei (en selfs jou bye) kan jou miljoene uit die sak jaag

“Ek was salig gevaarlik onbewus ...” 


Die algemene beginsel in ons reg is dat jy slegs vir skadevergoeding aanspreeklik gehou kan word wanneer iemand kan bewys dat dit jou “skuld” was dat hulle verlies/skade/besering opgedoen het.  (In hierdie konteks is jy skuldig wanneer jy óf opsetlik óf nalatig opgetree het.) Dit klink logies en regverdig – as dit jou skuld is, moet jy betaal. 

Wanneer die skade egter deur jou dier/e veroorsaak is, is jy in ‘n baie gevaarliker posisie. Jy kan hier gedagvaar word en op ‘n basis van “skuldlose” of “strenge aanspreeklikheid” aanspreeklik gehou word. Dit is ‘n ontnugterende gedagte. Dit beteken dat die optrede van Wagter die Woef, Kietsie die Kat, Blommetjie die Koei, of selfs (soos in ‘n ou 1926 saak) jou “mak” swerm bye, jou met ‘n rekening vir miljoene rande kan laat, sonder dat jy op enige manier nalatig of skuldig was.

Onkunde oor hierdie risiko kan jou duur te staan kom. 

Ter illustrasie kyk ons na ‘n onlangse saak in die Hooggeregshof.


Die slagoffer van ‘n honde-aanval eis ‘n bedrag van R2,3 miljoen 
  • Die eiser is deur drie groot “Pitbull tipe” honde aangeval terwyl hy in ‘n publieke straat gestap het. Die eiser was heeltemal geregtig om in daardie straat te wees en te stap. Die honde het hom sonder enige provokasie of uitlokking wreedaardig aangeval. 

  • Hy het ernstige bytplekke opgedoen en sy linkerarm moes uiteindelik by die skouer geamputeer word. ‘n Dapper verbyganger het gehelp om die honde van hom te verwilder en is ook in die proses aangeval. Hierdie dappere ingryping het gekeer dat hy verdere ernstige beserings opgedoen het.    

  • Die slagoffer het skadevergoeding van R2 341 000 van die honde se eienaar geëis. 

  • Die honde het geen geskiedenis gehad van mense byt of aanval nie. Hulle is as troetelhonde beskryf. Die honde het vrye toegang tot die eienaar se huis en tuin en agterplaas gehad. Dit was met ‘n heining en ‘n muur omring en van die straat afgeskei. ‘n Mens kon slegs toegang tot die straat deur ‘n hek verkry. 

  • Volgens die eienaar was die hek gewoonlik gesluit en op die betrokke dag was dit blykbaar met twee stelle slotte gesluit.

  • Die eienaar beweer verder dat ‘n inbreker in sy en sy gesin se afwesigheid die hek oopgebreek en oopgelos het. Die honde het op hierdie manier toegang tot die straat en die arme slagoffer verkry.

Aanspreeklikheid en die reg
  • Die slagoffer kon nie daarin slaag om te bewys dat die honde se eienaar, eerder as ‘n inbreker, die hek oopgelos het nie. Hy kon dus nie aantoon dat die eienaar op enige manier nalatig opgetree het nie.

  • Die Hof beslis dat die eienaar steeds aanspreeklik gehou word en wel op gronde van ‘n ou Romeinse regsbeginsel – die “pauperiese aksie” of actio de pauperie. Hiervolgens word die eienaar streng aanspreeklik gehou vir die optrede van sy mak dier of diere. Die grondslag van hierdie beginsel is dat aangesien ‘n dier nie oor redenasievermoë beskik nie, “’n dier nie in staat is om onregmatig op te tree nie”. Daar is al aangevoer dat hierdie beginsel uit ons reg geskrap moet word, maar op hierdie stadium word dit steeds deur ons howe toegepas. Diere-eienaars moet dus bewus wees van hierdie risiko.

  • Pauperiese aanspreeklikheid is ‘n ingewikkelde onderwerp. Dit behels baie Latynse geskrifte en geleerde regsinterpretasies en antieke wette. Jy sal spesifieke regsadvies hieroor moet verkry, ongeag aan watter kant van die eis jy jou mag bevind. In ‘n neutedop – is jy aanspreeklik vir skade wanneer jou mak dier (verskillende reëls geld ten opsigte van wilde diere) opgetree het as gevolg van opgewondenheid en in stryd met sy natuurlike gedrag.

  • Daar is wel ‘n aantal verwere tot jou beskikking, soos dat die slagoffer tot sy eie skade bygedra het deur sy eie handelinge (die uitlokking van ‘n aanval of onregmatige betreding van ‘n ander se eiendom) of – soos die verweerder in hierdie saak aangevoer het – waar die skade veroorsaak is as gevolg van die nalatigheid van ‘n ander persoon.  Weereens is dit ‘n ingewikkelde onderwerp waarvoor spesifieke regshulp verkry moet word. Ons kyk hoe die Hof in hierdie aangeleentheid met die betrokke verweer gehandel het.

  • Die betrokke verweer is beskikbaar as jy kan bewys dat ‘n derde party beheer oor die dier gehad het, maar op ‘n nalatige wyse versuim het om die beheer uit te oefen. In hierdie saak het die honde-eienaar die Hof gevra om die verweer uit te brei om sy spesifieke situasie ook te dek. Dit is, hoewel die inbreker nie beheer oor die honde gehad het nie, hy nalatig was deur aan die honde die geleentheid te bied om die slagoffer aan te val.

  • Die Hof het geweier, en beslis dat die verweer slegs toepassing vind waar die derde party beheer oor die dier gehad het. Die honde-eienaar moet dus die slagoffer betaal vir soveel skadevergoeding as wat die slagoffer kan bewys. Die gevolgtrekking – jy is aanspreeklik selfs wanneer dit iemand anders se skuld is, en selfs wanneer jy geheel en al onskuldig is, tensy die ander persoon op daardie tydstip beheer oor die dier gehad het.

Beskerm jouself!

Die eerste stap is natuurlik om die risiko dat jou diere skade aan ander kan veroorsaak, te verminder. Maak ook seker dat jou versekering aan jou die nodige dekking sal bied, indien jy wel gedagvaar word. As jy jou op “Vrywarings van aanspreeklikheid” wil beroep, moet dit noukeurig bewoord word ten einde enige kanse op beskerming te verleen.

www.batechubb.co.za

Bure aan die Bou? Ken jou regte met betrekking tot die goedkeuring van Planne

“You can be a good neighbour only if you have good neighbours” (Howard Koch, die skrywer van “Invasion from Mars”)

Jou bure doen aansoek by die munisipaliteit vir goedkeuring van hul bouplanne. Jy teken ernstig beswaar aan, want jy is van mening dat die nuwe gebou, aanbouing of verandering ‘n groot invloed op jou eiendom se waarde sal hê indien dit toegelaat word. Dit gaan onsmaaklik en aanstootlik wees. Dit gaan die hele buurt benadeel.  

Hoe moet die munisipaliteit se “besluitnemers” die planne in die lig van jou bekommernisse evalueer? Die Grondwetlike Hof het na ‘n uitgerekte regsgeding uiteindelik oor hierdie einste vraag beslis. 

Die Hof se uitspraak is van kardinale belang vir alle eiendomsontwikkelaars en eienaars wat beplan om te bou, sowel as vir hul bure, vir die eenvoudige rede: geen bouwerk kan voortgaan indien die bouplanne nog nie deur die munisipaliteit goedgekeur is nie. (Daar mag wel sekere “kleiner werke” wees, wat nie goedgekeurde bouplanne benodig nie. Kontak jou plaaslike munisipale owerheid vir besonderhede en duidelikheid hieroor.) 


Goedgekeurde planne en afgesperde balkonne

Die eienaars van ‘n gebou van sewentien verdiepings is toegelaat om balkonne te bou, wat tot reg teenaan die aangrensende gebou van vier verdiepings sou strek.  

Die aangrensende gebou se eienaars het aansoek gedoen vir goedkeuring om nog vier verdiepings by te voeg. Die balkonne van drie van die eerste gebou se vloere is egter van so aard dat dit aan die boonste verdiepings van die beplande byvoegings sou raak.
 
Soos te wagte was daar sterk beswaar teen die bouplanne aangeteken. Die munisipale besluitnemers het die planne goedgekeur en die bouwerk het begin.

Is die planne behoorlik en volgens prosedure goedgekeur? Ná ‘n reeks hofgedinge het die hoogste hof in ons land die (finale en beslissende) antwoord op hierdie vraag gegee.


Drie diskwalifiserende faktore en die “geregverdigde verwagting” toets

Midde in hierdie beslissing is daar statutêre beskerming vir kopers en bure met betrekking tot verskeie “diskwalifiserende faktore”. Die voorgestelde gebou kan nie “op so ‘n wyse opgerig word of van so aard of voorkoms wees nie dat-  (ons beklemtoning) 
  1. Die area waarin dit opgerig staan te word waarskynlik of werklik daardeur geskend sal word; 

  2. Dit waarskynlik of werklik onsmaaklik of aanstootlik sal wees;

  3. Dit waarskynlik of werklik die waarde van aangrensende of naburige eiendomme sal benadeel.”
Hier het die Hof beslis dat die bouplanne nie behoorlik goedgekeur is nie. Dit moet na die munisipaliteit teruggaan om heroorweeg te word. Die ontwikkelaar is dus terug na die beginpunt. ‘n Slopingsbevel sal na alle waarskynlikheid uitgereik word indien die ontwikkelaar nie daarin kan slaag om die planne goedgekeur te kry nie.

Die Hof beslis dat ‘n besluitnemer die impak van die voorgestelde bouwerk op naburige eiendomme moet oorweeg uit die oogpunt van ‘n “hipotetiese buurman”  wanneer die bogenoemde drie faktore oorweeg word. Sal die werke die area waarskynlik of werklik so skend, of so onsmaaklik of aanstootlik wees, dat dit die buurman se geregverdigde verwagtinge oorskry?

Dit was nog altyd duidelik dat bure in ag geneem moet word waar daar vermindering van waarde gaan wees. Hierdie uitspraak bevestig vir die eerste keer dat bure se standpunte ook relevant is, en oorweeg moet word, met betrekking tot elkeen van die drie faktore wat hierbo gelys word.


Sterker regte – maar nie vir “sensitiewe bure” nie

Dit beteken egter nie dat bure nou links en regs teen planne beswaar kan maak en verwag dat die munisipaliteit die besware ongeag die feite, sal ondersteun nie. Inteendeel, die hof maak dit duidelik dat “die geregverdigde verwagtinge toets nie ‘n subjektiewe toets aan die hand van die sensitiewe buurman daar stel nie. Dit is ‘n objektiewe toets, gebaseer op die relevante feite wat, in die gewone loop van sake, aan die besluitnemer voorgelê sal word.”

Die belangrike punt hier is dat jou regte as die “nie-bouende buurman of buurvrou” nou baie sterker geword het. Beskerm en gebruik jou regte!

Is jy gereed om jou lisensie met AARTO Strafpunte te verbeur? Dit is makliker as wat jy gedink het, en die wiele is besig om te draai.

“The one thing that unites all human beings, regardless of age, gender, religion, economic status, or ethnic background, is that, deep down inside, we all believe that we are above-average drivers.” (aldus die komediant, Dave Barry).


AARTO (die Wet op die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe) is al vir jare lank gedeeltelik in werking. Die bepalings wat handel met die strafpuntestelsel is al vir so lank in die pyplyn dat die meeste van ons al vergeet het hoe ernstig dit ons gaan beïnvloed, in ons persoonlike lewens sowel as by ons besighede. 


Elke individu en elke besigheid is op risiko 

Wetsgehoorsame motoriste sal ongetwyfeld die vastrekking van gewoonte verkeersoortreders verwelkom, maar moet ook hul eie risiko’s evalueer en bestuur.

Elke motoris, elke voertuigeienaar, elke professionele bestuurder en elke vervoeroperateur gaan ‘n groot risiko loop om hul lisensies/permitte/ operateurskaarte te verbeur. Selfs besighede buite die vervoerbedryf sal hierdie risiko moet bestuur – wat gebeur as jou verkoopspersone nie meer mag rondry nie of jou kantoorpersoneel nie meer werk toe mag bestuur nie?

Die wiele draai vinnig noudat die wysigings aan die Wet uiteindelik deur die Parlement  aanvaar is, en in werking sal tree sodra die President dit onderteken het. 


Gaan dit weer uitgestel word?

Die strafpuntevoorstel dobber al vir ‘n dekade lank rond, met verskeie mislukte wegspringpogings, en sprake van hofgedinge; en die aanvangsdatum mag dalk, of dalk nie, uitgestel word.

Nou lyk dit of die wiele wel besig is om al vinniger te draai. 

Wees voorbereid!


Ongelukkige 13 – makliker as wat jy dink.

Die strafpuntestelsel is ingewikkeld, maar om op te som: strafpunte word verdien vir ‘n hele reeks oortredings, bo en behalwe die boete wat jy moet betaal. 

Enige persoon met 13 of meer strafpunte se bestuurslisensie/ professionele bestuurspermit/ operateurskaart sal outomaties opgeskort word.  Vir elke punt bo 12 gaan die lisensie vir drie maande opgeskort word. Na drie opskortings sal die lisiensie finaal gekanselleer word.

Moenie dink dat dit die gemiddelde bestuurder noodwendig baie lank sal neem om 13 strafpunte te versamel nie. Kyk ‘n bietjie na die strafpunte van toepassing op ‘n paar van die oortredings (let wel, daar is derduisende van hulle – hierdie tabel gee slegs ‘n paar voorbeelde).


Voorbeelde van oortredings en strafpunte


 

Hoe om jou strafpunte te verminder, en afslag op boetes 

Jy word wel beloon om ‘n wetgehoorsame bestuurder te wees – 
  1. Enige strafpunte wat jy verdien het, sal met een punt verminder word vir elke periode van drie maande waarin jy geen oortredings begaan het nie.

  2. Deur boetes vroegtydig te betaal, kan jy 50% afslag kry. Implementeer ‘n stelsel om betalings te kontroleer sodat jy nie die sperdatums mis nie.

Besighede en werkgewers – bestuur jou risiko’s

Dink nou al reeds aan hoe jy die risiko van herhalende oortredings deur jou werknemers (veral dié wat as voertuigbestuurders in diens is) gaan bestuur -
  • Hoe gaan jy jou voertuigbestuurders se strafpunte monitor? Hoewel baie van die oortredings strafpunte vir beide die bestuurder en die operateur sal meebring, is daar wel sekere oortredings wat slegs op die bestuurder self van toepassing sal wees.

  • Is jou dienskontrakte gestruktureer om te verseker dat jy toegang het tot jou werknemers se bestuurstatus en strafpunte? En om met die gevolge te handel indien hulle lisensies opgeskort of gekanselleer word?

  • Kyk na jou versekeringpolisse – is julle verplig om enige veranderinge in jou werknemers se strafpunte-status te openbaar? Is daar ‘n risiko om jou dekking te verloor?

Die Hof vir Klein Eise – Vanaf 1 April Kan Jy Dagvaar Tot en Met R20,000

Die monetêre jurisdiksie van die Hof vir Klein Eise word vanaf 1 April 2019 van R15,000 na R20,000 verhoog.

Nie alle eise kan voor ‘n Hof vir Klein Eise gebring word nie – 
  • Eise van meer as R20,000 moet in die gewone howe ingestel word (jy het wel die keuse om jou groter eis deur afstanddoening te verminder tot R20,000 om sodoende aan die perk te voldoen).

  • Slegs individue kan in die Hof vir Klein Eise dagvaar, dit wil sê nie maatskappye, beslote korporasies, trusts ensovoorts nie. 

  • Die Staat en plaaslike owerhede kan slegs in die gewonde howe gedagvaar word. Buiten hierdie uitsonderings kan jy enigiemand in die Hof vir Klein Eise dagvaar, insluitende maatskappye beslote korporasies, trusts ensovoorts. 

  • Sekere soorte eise (byvoorbeeld egskeidingsaangeleenthede, sekere skadevergoedingseise, interdikte, dispute met betrekking tot testamente, ens.) moet ook in die gewone howe ingestel en deurgevoer word.
Selfs indien jou eis kwalifiseer om in die Hof vir Klein Eise aangehoor te word, oorweeg dit om jou prokureur vir advies oor jou beste plan van aksie te vra. Soms kan oënskynlike klein eise omvangryke nagevolge hê, en daar is geen plaasvervanger vir professionele advies nie.

Jou Webwerf van die Maand: Musiek vir Produktiewe Werk

“If I were not a physicist, I would probably be a musician. I often think in music. I live my daydreams in music. I see my life in terms of music.” (Albert Einstein)

Wetenskaplike navorsing is dit eens dat musiek ons inderdaad kan help om te werk, te leer, en om kreatief te wees.

Met die gebruik van oorfone kan jy heeldag na jou gunstelingliedjies luister sonder om jou kollegas (of die kliënte in Ontvangs!) te steur. Met ‘n stromingsdiens en ‘n slimfoon met ‘n groot geheue sal jy altyd oorgenoeg musiek tot jou beskikking hê. Maar waarna kan jy luister?

“Create the perfect playlist for productive work” op Quartz bespreek hoe musiek jou werksproduktiwiteit kan verhoog (werkgewers neem kennis!). Dit kyk ook na musikale tempo (slae per minuut) wat kan help om die alfa-staat in jou brein teweeg te bring sodat jou gedagtes kalm en gereed word, maar met verhoogte konsentrasievermoëns.

Dit blyk dat verskillende soorte musiek gepas is vir sekere take in die volgende vier kategorieë -
  • Eenvoudige take

  • Leerwerk

  • Werk waarvoor jy lief is

  • Kreatiewe werk

Lekker (en produktief) luister!


Uit die HAT: 

“soetvloeiend” b.nw. bw.  (digterlik) aangenaam klinkend, welluidend: soetvloeiende woorde, verse.  

attorneys@batechubb.co.za www.batechubb.co.za attorneys@batechubb.co.za www.batechubb.co.za

Uitsluiting
Die inligting hierin vervat is van ‘n algemene aard en moet nie as professionele advies gebruik word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u professionele adviseur vir spesifieke en toegepaste advies.


© DotNews.  All Rights Reserved.


  A Client Connection Service by DotNews