Teken aan
Follow Us On Facebook Follow us on Facebook

Mei 2019 Nuusbrief

Veiligheidslandgoed: Kan spoedvrate beboet word?

“When the [property owners] chose to purchase property within the estate and become members of the Association, they agreed to be bound by its rules” (geneem uit hierdie uitspraak)


Ons weet dat daar besliste voordele daaraan verbonde is om eiendom in ‘n veiligheidslandgoed of ander gemeenskapskema te koop. Eienaars streef na goeie lewenskwaliteit en ‘n hoër potensiaal vir jou eiendom om in waarde toe te neem. 

Neem net kennis dat jy jouself as koper na alle waarskynlikheid tot ‘n stel reëls en regulasies wat deur die Huiseienaarsvereniging (HEV) of die Deeltitelskema se Regspersoon opgelê word, gaan verbind. Maak seker dat jy met hierdie reëls tevrede is voordat jy enigiets teken! Ons howe het onlangs weer die algemene beginsel bevestig dat jy gebonde is aan dit waartoe jy jouself kontraktueel verbind. ‘n Onlangse uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl (HHA) dien as ‘n gepaste voorbeeld hiervan.

Huiseienaarsverenigings en Regspersone behoort in die besonder verheug te wees oor hierdie uitspraak, wat die vorige uitspraak omgekeer het. Die Hooggeregshof het aanvanklik beslis dat die spoedbeperkingsreëls wat deur die betrokke landgoed opgelê is, ongeldig was, aangesien dit ‘n onregmatige poging sou wees, om die magte van die Staat ten opsigte van openbare paaie oor te neem. 


Spoedoortredingsboetes op ‘n gholflandgoed 
  • ‘n Groot gholflandgoed, bestaande uit ongeveer 890 eie- en deeltiteleiendomme met aansienlike gemeenskaplike areas en fasiliteite, word deur ‘n netwerk van paaie en straatjies gedien. ’n Spoedbeperking van 40km/h is ingestel, met boetes wat vir die oorskryding van die spoedgrens opgelê word. 

  • ‘n Huiseienaar is met R3,000 beboet vir sy dogter wat die spoedbeperking herhaaldelik oorskry het. Die eienaar het geweier om te betaal, waarna die partye die dispuut in die howe verder geneem het. 

  • Aanvanklik het die Hooggeregshof beslis dat die spoedbeperkingsreël ongeldig was, aangesien die landgoed se paaie “openbare paaie” sou wees.

  • Die Appèlhof verwerp hierdie uitspraak egter en beslis dat die landgoed ‘n “privaat dorpsgebied” is en dat sy paaie “privaat paaie” is. Dit was vanuit die staanspoor met die ontwikkeling van die landgoed die geval. Die “algemene publiek” het geen reg op toegang tot die landgoed se paaie nie. Toegang word deur elektriese heinings rondom die perseel ingeperk. Toegang word slegs met streng kontrole by toegangspunte aan eienaars, huurders, werknemers, gaste, genooides en ander “behoorlik gemagtigde persone” verleen. 

  • Die Appèlhof gaan verder en bevind dat selfs indien die paaie “openbare paaie” was, het eienaars vrywilliglik ingestem en hulself kontraktueel verbind om die landgoed se paaie onderhewig aan die gedragsreëls te gebruik.  Aangesien genooides slegs op die landgoed toegelaat word met die eienaar se voorafgaande toestemming, is die reël wat bepaal dat die eienaar aanspreeklik is vir oortreding van die reëls deur ‘n genooide persoon, geldig.

  • Die landgoed se instelling van ‘n spoedbeperking is beslis nie onredelik nie. Die teenwoordigheid van kinders, voetgangers en diere (wilde diere en troeteldiere) op die landgoed vereis beskerming teen haastige bestuurders. 
Die eindresultaat is dat die landgoed se spoedbeperking geldig is. Die landgoed mag wel boetes vir oortredings oplê. Die hof beveel dat die eienaar sy dogter se boetes, sowel as ‘n gedeelte van die (aansienlike) regskostes, moet betaal.


www.batechubb.co.za

Het jy per ongeluk die Verkeerde Persoon Betaal? ‘n Duur Les van R862 000

“There’s no such thing as a free lunch” (Die ekonoom Milton Friedman se siening.)


In hierdie dae van aanlyn bankdienste en elektroniese betalings is dit nie ongewoon om met ‘n skok te besef dat jy ‘n foutiewe betaling aan iemand gemaak het nie. Óf na die verkeerde ontvanger, óf die verkeerde bedrag. As dit met jou sou gebeur, en die ontvanger weier om jou terug te betaal, wat kan jy daaraan doen?

Die ander belangrike vraag is natuurlik of die gelukkige ontvanger van ‘n onverklaarbare en onverwagte betaling in sy bankrekening kan voortgaan en die meevallertjie spandeer? Die antwoord hierop is ‘n baie besliste “nee”. Daar mag nog ‘n paar dinge in die lewe wees wat werklik verniet is, maar hierdie is nie een daarvan nie.

‘n Onlangse uitspraak van die Hooggeregshof hanteer die vereistes vir ‘n suksesvolle eis vir “ongeregverdigde verryking”. 


Die bank se toepassing en die betaling van R861,940

n Banktoepassing 
  • ‘n Getroude paartjie was die begunstigdes van ‘n fout in hul bank se toepassing (“app”). Die banktoepassing het nie gewerk soos wat dit moes nie.

  • As gevolg van die fout, ontvang hulle dubbele betalings in hul twee rekeninge, in die totaal van R861,940.

  • Die bank het die paartjie gedagvaar om die geld terug te betaal, aangesien hulle ten koste van die bank “ongeregverdigd verryk” is.

  • Die paartjie het aanvanklik ontken dat enige duplisering van betalings gebeur het. By die verhoor sing hulle ‘n ander deuntjie. Hulle erken dan dat hulle wel die dubbele betalings ontvang het, maar voer aan dat hulle dit in kontant aan die bank terugbetaal het.

  • Die man beweer dat hy die geld aan ‘n werknemer van die bank  terugbetaal het, wat die kontant in ‘n kluis geplaas het vir “ingeval iemand dit kom opeis”. Die betrokke bankamptenaar is intussen oorlede. Die man kon nie sê hoeveel geld hy oorhanding het nie, hy kon nie datums verskaf nie, en hy het geen kwitansies of ontvangsbewyse aangevra of ontvang nie. Die verhoorhof aanvaar sy getuienis en die bank se aanvanklike eis misluk.

  • Die bank neem die uitspraak op appèl na ‘n “volle regbank” (‘n “volle hof” van drie of meer Hooggeregshofregters). Hierdie hof verwerp die man se weergawe as “inherent onwaarskynlik”. Die getroude paar word beveel om al die geld aan  die bank terug te betaal, tesame met rente en regskostes.

Wat moet jy bewys?

Die vereistes vir ‘n eis van “ongeregverdigde verryking” is die volgende – 
  1. Die ontvanger is inderdaad deur die ontvangs van die geld verryk (dit hoef nie geld te wees nie, dit kan ook ‘n ander bate wees)

  2. Jy is deur die oorgawe van die geld (of bates) “verarm” 

  3. Die ontvanger is verryk, en sy verryking geskied ten koste van jou

  4. Daar bestaan geen wettige basis wat die verryking regverdig nie.
Die Hof (volbank) beslis dat, nadat die getroude paar erken het dat daar nie ‘n wettige basis was waarop hulle die geld ontvang het nie, die onus (bewyslas) na hulle verskuif het om te bewys dat daar geen verryking aan hulle kant was nie. Die feit dat hulle nie kon bewys dat hulle die geld teruggegee het nie, het dus die einde van hul saak beteken.

Moenie moed verloor as die feite van jou saak nie noodwendig al die vereistes wat hierbo uiteengesit word, bevat nie. Ons regstelsel hou dalk ander oplossings en regsremedies vir jou in. Vra jou prokureur vir advies.

Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk en Werkgewers: Berei nou reeds voor vir die veranderinge in belasting op buitelandse inkomste

“An income tax form is like a laundry list - either way you lose your shirt” (Volgens die komediant Fred Allen.)


Hierdie artikel is vir jou van belang indien jy óf ‘n Suid-Afrikaner is wat in die buiteland werk, óf jy so ‘n persoon in jou diens het. Indien jy nie in enige van daardie kategorieë val nie, oorweeg dit gerus om hierdie artikel aan te stuur aan iemand wat daarby kan baat vind.

As werknemer wat buitelandse vergoeding ontvang (salaris, verlofbetalings, bonusse, toelae, kommissie, ens.), geniet jy tans onbeperkte belastingvrystelling (op slegs dáárdie vergoeding, nie op ander buitelandse vergoeding nie), mits jy in die buiteland werk – 
  • Vir meer as ‘n totaal van 183 dae gedurende enige 12 maande periode, en

  • Meer as 60 van daardie dae agtereenvolgend is.
Dit gaan egter vanaf 1 Maart 2020 verander. Hierna sal slegs die eerste R1 miljoen per jaar van jou vergoeding vrygestel wees – jy sal in Suid-Afrika belasting moet betaal op alles wat jy meer as hierdie eerste R1 miljoen per jaar in die buiteland verdien. Met die swak Rand wat geen tekens van verbetering toon nie, gaan ‘n groot aantal buitelandse werknemers en hul werkgewers hierdeur beïnvloed word.


Is jy ‘n “belasting-inwoner”?

Slegs “belasting-inwoners” gaan hierdeur beïnvloed word. Die eerste ding wat jy dus moet vasstel is of jy steeds ‘n belasting-inwoner is of nie. Dit is ‘n redelike tegniese ondersoek, so indien daar enige twyfel bestaan, wees liewer veilig en verkry eerder professionele advies.

Om die tegniese aanslag te illustreer – fisiese emigrasie/hervestiging en "finansiële emigrasie" is verskillende begrippe en beteken nie dieselfde as "belastingemigrasie" nie. 

Verder is die Inkomstebelastingwet se toets om te bepaal of ‘n persoon ‘n belasting-inwoner is al dan nie, nie ‘n toonbeeld van duidelikheid nie. Jy is ‘n “inwoner vir belasting-doeleindes” indien jy ‘n gewone inwoner is óf ‘n inwoner ingevolge die “fisiese teenwoordigheidstoets" – 

  1. Volgens SARS is jy ‘n “gewone inwoner” indien Suid-Afrika die land is waarheen jy “natuurlik en gewoonlik na sal terugkeer na jou omswerwinge”, jou “gewone of hoofwoonplek”, of jou “werklike woning”. 

  2. Selfs indien jy nie ‘n “gewone inwoner” is nie, kan jy steeds ‘n inwoner wees ingevolge die fisiese teenwoordigheidstoets as jy fisies in Suid-Afrika teenwoordig is vir meer as –

      1. 91 dae in totaal gedurende die betrokke jaar van aanslag; en

      2. 91 dae in totaal gedurende elkeen van die vyf jare van aanslag wat die betrokke jaar van aanslag voorafgaan; en

      3. 915 dae in totaal gedurende daardie vyf voorafgaande jare van aanslag.”   

        Ingevolge die fisiese teenwoordigheidstoets word jy egter nie as ‘n Suid-Afrikaanse belasting-inwoner beskou nie, indien jy vir ‘n periode van ten minste 330 agtereenvolgende dae in die buiteland teenwoordig is. 

Moet jy “belasting-emigrasie” oorweeg?

Indien jy inderdaad ‘n belasting-inwoner is, moenie die moontlikheid oorweeg om daardie status te verander voordat jy volledige, professionele belastingadvies ingewin het nie. “Belasting-emigrasie” en “finansiële emigrasie” is ingewikkelde prosesse vol slaggate. Jy kan byvoorbeeld geregtig wees op buitelandse belastingkortings of ander verligting op jou belasbare (dit wil sê meer as R1 miljoen) buitelandse verdienste, of daar is dalk ander voordele daaraan verbonde vir jou om eerder ‘n belasting-inwoner te bly. Daarom is dit belangrik om jou spesifieke omstandighede met ‘n deskundige te bespreek om vas te stel wat in die geheel vir jou die beste sal wees. 

Die belangrikste is om kennis te neem dat verandering op pad is. Behoorlike en ingeligte langtermynbeplanning is die beste manier om seker te maak dat daar nie enige onvoorsiene, onplesierige belastingverrassings in die toekoms gaan kop uitsteek nie.

Eiendomsagente: Beskerm Jou Handelsgeheime (en Jou Kommissie)

“In kort is ‘n Geldige Getrouheidsfondssertifikaat (GFS) ‘n lisensie om te praktiseer, daarsonder kan jy nie praktiseer nie.” (Vertaalde aanhaling uit hierdie uitspraak.)  


‘n Eiendomsagent sal weet dat sonder ‘n geldige Getrouheidsfondssertifikaat (GFS) jy nie op enige kommissie geregtig is vir die suksesvolle verkope of verhurings wat jy bewerkstellig nie. Al die harde werk om uitvoering aan jou mandaat te gee, is tot niet. Jou kliënt hoef jou niks te betaal nie.

Uit ‘n onlangse uitspraak van die Hooggeregshof, sien ons ook dat ‘n eiendomsagentskap nie enige handelsbeperkings wat met sy werknemers gesluit is, sonder die sertifikaat kan afdwing nie. Hierdie is ‘n wesentlike risiko, veral wanneer jou handelsgeheime vir jou so waardevol is soos wat dit vir meeste agentskappe is.

Die maatskappy wat van ‘n BK omgeskakel het, sonder om sy Getrouheidsfondssertifikaat (GFS) te verander
  • ‘n Beslote Korporasie (BK) wat as ‘n eiendomsagentskap sake doen, beskik oor ‘n Getrouheidsfondssertifikaat (GFS).

  • Die BK word formeel na ‘n maatskappy omgeskakel. Die naam van die agentskap word behou, en die enigste verandering aan die naam is dus dat die “BK” aan die einde daarvan “(Edms) Bpk” word.

  • Die agentskap maak ‘n kritiese fout. Vir ‘n periode van vyf jaar na die omskakeling na ‘n maatskappy, word hul Sertifikaat steeds elke jaar in die naam van die BK uitgereik. In hierdie periode neem die agentskap ‘n kandidaateiendomsagent in diens. Die indiensnemingsooreenkoms bevat ‘n handelbeperkingsklousule wat die werknemer verbied “om betrokke te wees by of deel te neem aan die eiendomsbedryf vir ‘n tydperk van ses maande na die beëindiging van die ooreenkoms.”

  • Die kandidaateiendomsagent bedank en sluit by ‘n ander agentskap aan. Die maatskappy nader die Hooggeregshof vir ‘n interdik om die agent te verhoed “om vertroulike inligting wat verband hou met sy besigheidsake, eiendomslyste, pryse, waardasies, ens. te gebruik en/of te kommunikeer” en “om in enige hoedanigheid in die residensiële eiendomsmark bedrywig te wees” in enige van ‘n aantal gelysde woonbuurte vir die ooreengekome beperkingsperiode van ses maande.

  • Volgens die agentskap het die kandidaateiendomsagent in die 18 maande wat sy by hulle werksaam was “waardevolle kennis oor die [agenstskap] se besigheid opgedoen. Dit is as gevolg hiervan dat die aangeleentheid vir die agentskap van kritiese belang was.”  

  • Die agentskap voer aan dat die Getrouheidsfondssertifikaat wat aan die BK uitgereik was, hanteer moes word asof dit uit die staanspoor aan die maatskappy uitgereik sou wees, “aangesien dit ‘dieselfde’ entiteit” is. Die Hof verwerp hierdie argument, en sê dat die sertifikaat vir vyf jaar lank aan ‘n ander entiteit uitgereik is, wat nie meer bestaan het nie. Boonop moet ‘n agentskap, indien dit in ‘n korporatiewe entiteit sake doen, bo en behalwe die agentskap se sertifikaat ook oor aparte sertifikate vir al die direkteure (in die geval van ‘n maatskappy) of lede (in die geval van ‘n beslote korporasie), beskik.   

  • Die Hof beslis gevolglik dat die maatskappy regtens nie as ‘n eiendomsagentskap kon optree nie. Die Hof bevind dat die indiensnemingsooreenkoms met die kandidaateiendomsagent wat die handelsbeperking bevat het, ook “nietig en dus onafdwingbaar” was.

‘n Laaste gedagte vir agentskappe

Maak dubbel en dwars seker dat die Getrouheidsfondssertifikate in orde is en die regte name bevat. Moet niks in jou besigheidstruktuur verander, voordat jy voorsiening gemaak het vir die onmiddellike opdatering van jou GFS nie.

Neem ook moontlike administratiewe vertragings in ag. Die Hof het spesifiek gewaarsku dat “dit nie genoeg is dat die aansoek besig is om verwerk te word, of dat daar nog kinkels in die kabel is wat uitgesorteer moet word nie. Die bepalings is duidelik en gebiedend.” Jy het óf ‘n geldige Getrouheidsfondssertifikaat op ‘n betrokke tydstip, óf jy het nie.

Kopers van Eiendom: Daar is ‘n nuwe aftrekking op die rente wat jy op jou Deposito Verdien

Wanneer jy eiendom aankoop, bepaal die koopooreenkoms dikwels dat die deposito (gewoonlik 10% van die koopprys) aan die aktebesorger (die prokureur wat gaan toesien tot die oordrag van die eiendom in jou naam) betaal moet word, om in trust gehou te word tot en met die suksesvolle registrasie van die oordrag.

Maak seker dat jy waardevolle rente op jou deposito verdien. Gaan die koopooreenkoms na en maak seker dat daar ‘n klousule is wat bepaal dat die deposito in ‘n rentedraende trustrekening belê moet word, met die rente wat aan jou as die koper toegeken word. ‘n Instuksie om die deposito so te belê is gewoonlik ook deel van die standaarddokumente wat jy gedurende die oordragproses onderteken. ‘n Belangrike wenk hier is om al jou FICA documente gereed te hê, aangesien die beleggingsrekening eers geopen kan word nadat jy “ge-FICA” is.

Na die oordrag doen die aktebesorger aan jou verslag oor die netto rente wat op die deposito verdien is. Dit is na aftrekking van bankkoste, hanterings- en ander fooie, sowel as hierdie nuwe heffing; bestaande uit ‘n vaste en voorgeskrewe 5% aftrekking ten gunste van die Getrouheidsfonds vir Regspraktisyns.

Hierdie nuwe aftrekking van 5% gehef op die rente wat verdien is, is ‘n verpligte aftrekking ingevolge die nuwe Wet op Regspraktisyns, wat op 1 Maart 2019 in werking getree het. Dit gee ‘n hupstoot aan die Getrouheidsfonds. In die meeste transaksies sal dit slegs ‘n klein bedrag wees, bestaande uit die 5% heffing op die rente wat verdien is. Dit is soortgelyk as om ‘n versekeringspremie te betaal om te verseker dat jou fondse in veilige en beskermde bewaring is.

Jou Webtuiste en Video van die Maand: Voordat jy in ‘n Uber klim ...

Vervoerdienste soos Uber is gerieflik en gewild. Jy het dalk al gelees oor aanvalle deur “Uber nabootsers”, sowel as oor ander veiligheidsoorwegings. In die lig van die “veiligheid eerste” beginsel, is dit belangrik om altyd jou gesonde verstand te gebruik en ‘n paar voorsorgmaatreëls in gedagte te hou wanneer jy sulke dienste gebruik.

Voordat jy weer in ‘n Uber klim, bestudeer eers hulle “Driving safety forward” blad hier. Let veral op die 3 stappe wat jy altyd moet volg voordat jy in die voertuig klim, in die “Check your ride, every time you ride” afdeling (vind dit so ongeveer halfpad ondertoe op die bladsy). Wees ook bewus van die veiligheidsfunksies tot jou beskiking in die toepassing (“app”) self – hulle word gelys in die “Designing a safer ride” afdeling. 

Kyk dan ook na Uber se “Safety Never Stops” video op YouTube

Uit die HAT: 

Vertelkunsterapie s.nw.  Psigoanalitiese benadering/tegniek waardeur die terapeut die kliënt (pasiënt) help om sy/haar lewensverhaal uit te bou en te verryk en daardeur probleemareas uit te lig en aan te pak.
attorneys@batechubb.co.za www.batechubb.co.za attorneys@batechubb.co.za www.batechubb.co.za

Uitsluiting
Die inligting hierin vervat is van ‘n algemene aard en moet nie as professionele advies gebruik word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u professionele adviseur vir spesifieke en toegepaste advies.


© DotNews.  All Rights Reserved.


  A Client Connection Service by DotNews