Koop-om-te-bou: Neem kennis van die Sperdatums!
Hier is (nog) ‘n waarskuwing van ons howe dat ooreengekome sperdatums oor bouwerk, wat dikwels deel is van die bepalings waaraan kopers van erwe in residensiële landgoedere moet voldoen, as ernstig beskou moet word. Versuim jy om hieraan te voldoen, stel jy jou bloot aan stewige en herhalende boetes. Daar is altyd die buitekans dat jy die erf kan verloor.
Drie Lesse vir Huiseienaarsverenigings (HEVs) en kopers
Die huiseienaarsvereniging se oorwinning in hierdie aangeleentheid benadruk ‘n aantal belangrike faktore waarvan beide HEVs en kopers kennis moet neem -
- ‘n Huiseienaarsvereniging (HEV) het die eienaars van ‘n erf met “dubbele heffings” beboet. Die bedrag was R105 000 nadat die eienaars nie voor die verstryking van die sperdatum met hul bouwerk begin het nie.
- Die eienaars het die geldigheid van die boetes op ‘n aantal tegniese en ander gronde aangeveg, maar die verwere het nie geslaag nie.
- Die uiteinde was dat hulle hierdie boetes moes betaal, saam met die boetes vir laat betaling en ook die prokureur-en-kliënt regskostes vir beide die aanvanklike verhoor in die landdroshof en die onsuksesvolle appèl na die Hooggeregshof.
Drie Lesse vir Huiseienaarsverenigings (HEVs) en kopers
Die huiseienaarsvereniging se oorwinning in hierdie aangeleentheid benadruk ‘n aantal belangrike faktore waarvan beide HEVs en kopers kennis moet neem -
- Die HEV se magtiging om “herhalende boetes” op te lê is in die spesifieke bewoording van hul oprigtingsdokumente vervat. Daarom is hierdie reg gehandhaaf. Die HEV was spesifiek gemagtig om “’n stelsel van boetes of ander strafmaatreëls” op te lê. Indien die bewoording slegs “’n boete” toegelaat het, sou die Hof hul poging om ‘n herhalende boete op te lê van die hand gewys het. Dit is presies wat met ‘n ander HEV in ‘n vroeër saak gebeur het.
- Boetes moet in verhouding wees met die nadelige gevolge wat die situasie vir die HEV inhou. Nieteenstaande hierdie beginsel is die howe nie geneë om sommer in te meng nie, tensy “die boete wat opgelê word so streng en onvanpas is dat dit indruis teen ‘n mens se sin vir geregtigheid en billikheid.” Hier is die dubbele heffingsboetes gehandhaaf omdat die “voortdurende vertraging in die ontwikkeling van die eiendom ingevolge hul verpligting ... die onderliggende regte van ander eienaars ... en die gerusstelling van ‘n volledige ontwikkelde landgoed, benadeel het.”
- Die voorwaardes in die titelakte het aan die HEV die reg verleen om die erf terug te eis vir die verbreking van die bouklousule in die kontrak. Die hof beslis dat dit nié die reg om boetes te eis vervang het nie; dit was ‘n bykomende reg tot die HEV se beskikking.
Provided by Darrolls Attorneys, Notaries & Conveyancers
© DotNews. All Rights Reserved.