Gesinsgeweld en die Inperking: Jou persoonlike veiligheidsplan
“Preamble to the Domestic Violence Act: “To afford the victims of domestic violence the maximum protection from domestic abuse that the law can provide”
Een van die groot bekommernisse rondom die COVID-19 krisis, en in besonder die verpligte “bly by die huis” fase van inperking, is die invloed daarvan op gesinsgeweld in Suid-Afrika. Die vrees is dat ons beide ‘n verhoging in die gevalle van gesinsgeweld gaan beleef, asook ‘n afname in slagoffers se vermoë om toegang tot hulp te verkry. Dit is tans ‘n wêreldwye bron van kommer. Volgens die Wêreld Gesondheidsorganisasie, is “stres, die ontwrigting van sosiale en beskermings-netwerke, verlies aan inkomste en ‘n verminderde toegang tot dienste” alles faktore wat kan bydra tot ‘n verhoogde risiko van geweld teenoor vroue.
Suid-Afrika se Wet op Gesinsgeweld (“gesinsgeweld” word nie beperk tot gevalle van fisiese mishandeling of geweld nie – dit sluit ‘n wye reeks van gedrag in wat ook as mishandeling beskou word) verleen regsbeskerming aan slagoffers, in besonder die kwesbare lede van ons samelewing – vroue, kinders, gestremdes en bejaardes. Indien jy ‘n slagoffer is (of bystand aan ‘n slagoffer verleen), moet jy bewus wees van ‘n slagoffer se regte om strafregtelike klagtes te lê en/of om vir ‘n beskermingsbevel aansoek te doen.
Polisiebeamptes wat sulke sake hanteer, moet slagoffers help om strafregtelike klagtes te lê, om skuiling te vind en om mediese behandeling te ontvang indien dit nodig is. Die Hoogste Hof van Appèl het bevestig dat ‘n positiewe verpligting op lede van die SAPD rus om bystand aan slagoffers te bied.
Hoe kan jy hulp en bystand te midde van die inperking verkry? Wat van die regulasies wat jou vryheid van beweging beperk, en dus so ook jou vermoë om van die oortreder te ontsnap?
Jou persoonlike veiligheidsplan
Die nuwe inperkingsregulasies bepaal uitdruklik dat jy vanaf 14 Mei 2020 na ‘n ander woning mag verhuis waar “verhuising as gevolg van gesinsgeweld genoodsaak word.”
Laai die Nasionale Skuilingbeweging van Suid-Afrika se gratis PDF dokument “Domestic Violence Safety Planning During the Time of COVID-19” hier af. Gebruik hierdie plan as ‘n raamwerk om jou eie, persoonlike en praktiese Veiligheidsplan gedurende hierdie inperkingstyd saam te stel. Gebruik die volgende opskrifte as riglyne –
- Wees Voorbereid - met ‘n volledige lys van noodnommers en kontakbesonderhede (op Nasionale en Provinsiale vlak) en hoe om hulle te gebruik.
- Reik Uit na Ander
- Sein vir Hulp
- Verwyder Nasoeke/Versoeke vir Hulp
- Maak ‘n Plan om Weg te Kom
- Regsaspekte
- Vertrek
- Bly Veilig
Hoe werk ‘n beskermingsbevel?
Die “Bly Veilig” afdeling hierbo beveel aan dat jy aansoek doen vir ‘n beskermingsbevel, indien jy nie reeds een het nie. Daar is skuilings en ander organisasies wat jou hiermee kan help. Jy kan dit ook self doen deur jou naaste Landdroshof te nader en te vra vir hulp.
Indien ‘n bevel toegestaan word, word ‘n lasbrief vir inhegtenisneming terselfdertyd uitgereik. Die lasbrief word opgeskort op voorwaarde dat die bepalings van die beskermingsbevel nie oortree word nie. Om uitvoering aan die lasbrief te gee, sal jy ‘n verklaring moet aflê waarin die besonderhede van ‘n oortreding uiteensit word. Wees daarop bedag dat opsetlike valse bewerings tot kriminele klagte en ‘n eis vir skadevergoeding teen jou kan lei.
Provided by DGA - Debra Gouws Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.