Verhuurder: Mag Jy Jou Huurder se Krag Afskakel?
Praat ons residensieel of praat ons kommersieel?
Hierdie uitspraak het oor ‘n kommersiële huurder gehandel. Huurders van residensiële eenhede kry altyd bykomende beskerming. Daar is ook uiteenlopende sieninge oor die effek van hierdie uitspraak in die verhuringsmark. Kry eerder toegepaste regsadvies oor jou spesifieke situasie.
Ligte uit vir die nagklub!
Die Hoë Hof het onlangs hierin uitspraak gelewer.
- Die eienaar het ‘n gedeelte van sy gebou aan ‘n beslote korporasie uitverhuur, vanwaar ‘n nagklub en ‘n kroeg sake gedoen het.
- Die eienaar van die gebou het die volle elektriese rekening maandeliks aan die munisipaliteit vereffen. Hy het dan aan die verskillende huurders rekeninge gelewer en hulle sou dan die elektrisiteitsverbruik pro rata vereffen het.
- Met tyd het die nagklub agterstallig geraak en wel vir ‘n bedrag meer as R300 000,00. Hierop het die verhuurder die hof genader en ook gevra vir ‘n bevel ingevolge waarvan die eienaar gemagtig word om die elektrisiteit af te sluit. Die verhuurder het aangevoer dat dit verplig was om hul lopende skade te beperk en ook dat die ander huurders benadeel sou word indien die munisipaliteit die hele gebou se elektrisiteit sou afsny as gevolg van die wanbetaling van die munisipale rekening.
- Dit het ook aan die lig gekom dat die beslote korporasie (huurder) gederegistreer was. Die huurkontrak was gevolglik ook in geheel ongeldig. (Ons het in verlede maand se nuusbrief gewys op die gevare van deregistrasie deur CIPC.)
- Die hof het eerstens bevind dat daar geen geldige huurooreenkoms was nie. Die hof gaan dan verder en bevind dat die krag wel afgesluit kan word. Die eienaar van die gebou was inderwaarheid besig om die nagklub se besigheid te subsidieer en die hof bevind dat dit nie hoef voort te duur nie.
Regtens kan jy nie die saak in jou eie hande neem nie!
Dit bly dikwels ‘n frustrerende proses en ‘n eienaar is dikwels in die versoeking om die reg in eie hande te neem en die krag af te sny. As eienaar stel jy jou dan bloot aan ‘n onmiddellike aansoek vir ‘n spoliasiebevel. Dit hou in dat die hof slegs vasstel of jy eiehandig die krag afgesluit het, sonder dat die bestaan van die eise vir agterstallige huurgeld en elektrisiteitsbetalings op hierdie stadium oorweeg word. Dit gaan die verhuurder dus tyd en geld kos en daar is nie veel ruimte vir ‘n verdediging nie; terwyl daar ook sprake van ‘n eis vir skadevergoeding van die huurder se kant af kan kom.
Hoe gouer die verhuurder die hof nader vir regshulp hoe beter. Dit kan ‘n lang proses raak; dit kan ‘n duur proses raak en daar is ook geen waarborge vir sukses nie. Elke saak gaan op sy spesifieke feite beoordeel moet word. Hier is byvoorbeeld bevind dat die huurder nie by magte was om ‘n huurkontrak aan te gaan nie en die hof het sy bevinding op kommersiële gronde gemaak. Die agterstallige bedrag was ook direk gekoppel aan elektrisiteitsverbruik vir sakebedrywighede. As daar residensiële huurders of okkupeerders ter sprake is, is die howe geneig om meer beskermend teenoor hulle op te tree. Hier was die huurperseel net vir sake doeleindes gebruik en het die hof sterk klem gelê op die onhoudbare ekonomiese las op die verhuurder, iets wat nie altyd deurslaggewend in hofsake oor agterstallige residensiële huurgeld is nie.
Voorkoming altyd beter as genesing
Hierdie uitspraak het gunstige mediadekking geniet, maar die aanwending daarvan is steeds beperk tot kommersiële huurders. Maak eerstens seker dat ‘n behoorlike huurkontrak opgestel word. Verkry persoonlike borgskappe, doen behoorlik navorsing oor die huurder se kredietwaardigheid en maak seker dat ‘n korporatiewe entiteit nog by CIPC geregistreer is en wel by magte is om die ooreenkoms te sluit.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.