Huur Jy In ‘n Kompleks? Lees Die Reëls!
Of jy nou ‘n woning koop of ‘n woning huur – as jy in ‘n kompleks wil woon wat deur ‘n Huiseienaarsvereniging bestuur word, moet jy saam met al die ander inwoners inval by die reëls. Die Hoë Hof het hierdie beginsel en die reg van die Huiseienaarsvereniging om die reëls en regulasies af te dwing, onlangs weer onomwonde bevestig.
Eienaar wat versuim, kan sy huurder benadeel
Die eienaar en verhuurder van die woning het in hierdie geval versuim om boetes te betaal. Die boetes is gehef omdat die eiendom nie aan die estetiese reëls en voorskrifte voldoen het nie. Die Huiseienaarsvereniging het gevolglik die huurder se reg om na willekeur water- en elektrisiteitsbewyse aan te koop, ingeperk. Die huurder het die hof genader vir hulp en het ook aangevoer dat sy grondwetlike en statutêre regte tot basiese dienste hierdeur geskend word.
Beide die eienaar en die huurder het onderneem om gebonde te wees aan die HEV se reëls. Een van die reëls het bepaal dat elektrisiteit nie aan enige bewoner verskaf of verkoop sal word wat meer as 60 dae agterstallig is met die betaling van sy heffings nie, alvorens die heffings weer ten volle betaal en op datum gebring is nie. Die hof bevind dat die huurder vrylik ooreengekom het om gebonde te wees aan hierdie reëls. Die huiseienaarsvereniging was geregtig om die reëls toe te pas en die optrede was toelaatbaar en geregverdig.
Wanneer jy ‘n eiendom in ‘n kompleks koop of huur moet jy die toepaslike reëls en regulasies deurlees en verstaan. Maak vrede daarmee dat jy daaraan gebonde is, anders moet jy nie daar gaan koop of huur nie.
‘n Nota aan die Huiseienaarsvereniging
Huiseienaars moet altyd verplig word om lid te word en te bly van die huiseienaarsvereniging en om gebonde te wees aan die reëls en regulasies. Maak dit ook beleid dat ‘n eienaar wat die woning wil verhuur of ander daar wil laat bly, eers moet toesien dat sodanige partye voor okkupasie altyd skriftelik die reëls en regulasies moet aanvaar.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.