Verlof Vir Gesinsverantwoordelikheid
Wanneer is ‘n werknemer geregtig op verlof vir gesinsverantwoordelikheid?
Indien die Wet op Basiese Diensvoorwaardes op jou van toepassing is (die meeste werknemers word hierdeur gedek) en -
- Jy al vir ten minste vier maande by jou werkgewer werksaam is, en
- Jy vir ten minste vier dae in die week werk.
Waarvoor kan jy verlof neem?
- Wanneer jou kind gebore word (soms word dit ook “vaderskapsverlof” genoem, wat natuurlik nie met “kraamverlof” verwar moet word nie – ons sal kraamverlof in ‘n volgende uitgawe hanteer), of
- Wanneer jou kind siek is (ingevolge hierdie wet is ‘n kind onder agtien jaar oud), of
- In die geval van die afsterwe van jou man of vrou of lewensmaat, of ‘n ouer of aanneemouer, ‘n oupa of ouma, ‘n kind of aanneemkind, ‘n kleinkind of ‘n broer of ‘n suster.
Hoeveel dae verlof is beskikbaar?
Jaarliks word drie dae se verantwoordelikheidsverlof toegeken en in die geval van ‘n huishoudelike werker is dit vyf dae. Die dae is slegs vir bogenoemde redes, dit hoop nie op nie en dit verval elke jaar indien dit nie gebruik word nie.
Watter bewyse moet ek lewer?
Werkgewers is geregtig om te vra vir redelike bewys van enige van die gebeure – geboorte, siekte of dood.
Kleiner besighede – kan jy uitkontrakteer?
Indien jy gedefinieer word as ‘n “klein besigheid” wat minder as 10 werknemers in diens het, net een besigheid bedryf en die besigheid nie ontstaan het deur die verdeling of beëindiging van ‘n bestaande besigheid nie, sal jy met jou werknemers kan ooreenkom om hiervan vrygestel te word. Dit sal inhou dat verlof vir gesinsverantwoordelikheid in so ‘n beperkte geval wel by ooreenkoms van die werknemers se jaarlikse verlof verhaalbaar sal wees. Dit kan nie van toepassing wees op huishoudelike werknemers nie en ook nie op staatsamptenare nie.
Provided by Wessels + van Zyl Inc
© DotNews. All Rights Reserved.