Verkoop Van Besigheid Wat Klandisiewaarde Insluit: Die Inbegrepe Beperking
‘n Vyf jaar handelsbeperking kom tot ‘n einde – wat gebeur volgende?
‘n Handelsbeperking moet redelik wees. Die handelsbeperking moet dus in die toekoms tot ‘n einde kom. Wanneer daardie tyd aanbreek, mag jy dalk dink dat jy vry is om weer jou deure oop te maak.
Dink maar weer, aldus ‘n onlangse uitspraak van die Hoë Hof. In hierdie geval het die handelsbeperking na vyf jaar verval. Die sleutelpersone wat aanvanklik betrokke was as vorige eienaars met die verkoop van die besigheid, het hierna weer in kompetisie met die nuwe eienaars begin sake doen. Hulle was vol selfvertroue dat hulle die ooreengekome handelsbeperkingsperiode van vyf jaar, soos aanvanklik met die koper ooreengekom, eerbiedig het. Noudat dit verstryk het, was hulle dus geregtig om volstoom weer te bemark en ook om hul vorige kliënte vir besigheid te teiken.
Dit is nie al nie .....
Die hof bevind egter dat die ooreengekome handelsbeperking nie die enigste beperking op hul verhouding was nie. ‘n Deel van die koopsaak waarvoor beding en betaal is en wat verhandel is, was die klandisiewaarde van die besigheid. Gevolglik was die verkopers steeds gebonde aan ‘n inbegrepe verbod op die aantasting van die kliëntelys. Die ou kliënte mag dus nog steeds nie geteiken word nie, al het die vyf jaar periode reeds verstryk.
Die hof bevind dat hierdie inbegrepe verbod op ‘n transaksie van toepassing sal wees, of daar nou ‘n uitdruklike handelsbeperking beding is of nie. In hierdie geval waar die koper en verkoper op ‘n vyf jaar handelsbeperking ooreengekom het, was die verkoper nog steeds beperk om met die kliëntelys om te gaan, al het die vyf jaar verstryk.
Verkopers en Kopers – die bewoording van die handelsbeperking is deurslaggewend
Verkopers: Selfs indien die koopooreenkoms nie ‘n uitdruklike handelsbeperking bevat nie, as die verkoopsaak die klandisiewaarde van die besigheid insluit, word dit geïmpliseer dat die verkoper verbied word om die besigheid se kliënte te teiken. Maak dit eerder in die ooreenkoms baie duidelik wat na afloop van die beperkingsperiode toelaatbaar gaan wees, tensy die verkopers nie van plan is om ooit weer in daardie veld sake te gaan doen nie.
Kopers: Die geïmpliseerde verbod in jou guns is al ‘n goeie begin, maar daar is wel sekere tekortkominge wat eerder vanuit die staanspoor in die ooreenkoms aangespreek moet word. Die volgende kritieke aspekte moet dus uitgeklaar word: –
- Dit is slegs die verkoper as entiteit wat gebonde is aan die geïmpliseerde handelsbeperking, nie die sleutelpersone nie. In hierdie geval het die hof die entiteit verbied om die kliënte te kontak; die sleutelpersone as individue was egter nie hierdeur geraak nie. Hulle kon dus na verstryking van die 5 jaar beperking aangaan met hul bemarkingspogings.
- Die geïmpliseerde verbod het ‘n beperkte werking as dit kom by die teiken van bestaande kliënte van die besigheid wat gekoop is. ‘n Handelsbeperking sal gewoonlik wyer strek as net die beperking om bestaande kliënte uit te los.
- Vir sekere oorskrydings gaan jy dalk nie slaag met ‘n interdik nie en gaan jy eerder skadevergoeding moet eis. Dit kan dalk moeilik wees om die omvang van die skade wat jy inderdaad gely het, te bewys.
Gee jou regsverteenwoordiger opdrag om seker te maak dat jy gedek word deur ‘n omvattende en sinvolle handelsbeperkingsklousule.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.