Vuurwapeneienaars: Wat staan jou te doen as jou lisensie verval het?
“… this is a matter of national security and… something of the order of 450,000 gun owners with their expired licences form part of this equation… in a country riddled with crime…” (Aanhaling uit hierdie uitspraak.)
Die besit van ‘n ongelisensiëerde vuurwapen is, met goeie rede, ‘n ernstige oortreding wat swaar gestraf kan word. Wetsgehoorsame burgers sal die polisie ondersteun in hul pogings om ons land van onwettige vuurwapens te bevry. Dit is ‘n aansienlike probleem. Media-berigte beweer dat ‘n skrale 3 miljoen van die totale 5,3 miljoen vuurwapens in Suid-Afrika wettig geregistreer en gehou word. Dit beteken 2,3 miljoen van die vuurwapens is onwettig!
Deel van hierdie syfer is die sowat halfmiljoen Suid-Afrikaanse vuurwapeneienaars wat nog altyd hul wapens ingevolge ‘n geldige lisensie gehou het, maar wat dit vir welke rede hierdie keer nie betyds hernu het nie. Dit is nie slegs privaateienaars wat ter sprake is nie, maar ook sekuriteitsdiensverskaffers. Die hof sien dit as ‘n ernstige saak - in hierdie aangeleentheid het die Hof beraam dat tot 60 miljoen rondtes ammunisie betrokke sou wees.
Hierdie vuurwapeneienaars staar nou ‘n ernstige dilemma in die gesig. Die Grondwetlike Hof het onlangs bevind dat die bepalings van die Wet op Beheer van Vuurwapens nie teenstrydig met die Grondwet is nie. Die polisie verkies om hierdie eienaars die “keuse” te bied om óf hul wapens te oorhanding vir vernietiging, óf om vervolg te word vir die oortreding ingevolge die wet. Die rede wat hiervoor aangevoer is dat, sodra ‘n lisensie verval het, dit tot ‘n einde kom. Dit kan dus nie hernu word nie. Die besit van daardie vuuwapens is dus onregmatig.
Die beste raad is natuurlik om altyd vroegtydig aansoek te doen om hernuwing van jou lisensie (ten minste 90 dae voordat dit verval). Die houers van vervalle lisensies het nou ten minse tyssentydse verligting in die lig van ‘n uitspraak van die Hooggeregshof. Die Hof moes, hangende ‘n aansoek deur WESA (Wapeneienaars Suid-Afrika) om die saak op te los, beveel dat die SAPD “…verbied word om enige planne van aksie te implementeer, of om enige vuurwapens te aanvaar by polisiestasies waarvan die lisensies reeds verval het en … om te beveel dat sodanige vuurwapens oorhandig moet word as die enigste rede daarvoor is dat die wapen se lisensie verval het…”
Onthou dat hierdie tussentydse regshulp was en dat daar nog baie onsekerheid is oor wat die finale uitkoms van die saak gaan wees. Daar is ook onsekerheid oor die geldigheid van ou “groen” lisensies, sprake van ‘n moontlike komende amnestie, en die inisiatief om die Wet op Beheer van Vuurwapens te wysig om vir grasieperiodes vir die hernuwing van lisensies voorsiening te maak.
Totdat daar sekerheid is oor al hierdie aspekte, vra jou prokureur vir toegepaste advies indien jy ‘n probleem het.
Provided by Matthews Enslin Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.