
Krediteure: Hoe om Jou Eis met 'n Notariële Verband te Verseker.
As jy van voorneme is om geld aan iemand te leen of om goedere op skuld te verskaf, moet jy verkieslik soveel sekuriteit vir jou eise neem as wat beskikbaar is. As daar ‘n insolvensie is en jou skuldenaar word “gelikwideer” (indien ’n korporatiewe entiteit) of “gesekwestreer” (indien ’n natuurlike persoon), sal jy net ’n gelyklopende eis hê, tensy jy jou op formele sekuriteit kan beroep.
Met ’n gelyklopende (“konkurrente”) eis sal jy gelukkig wees as jy meer as 'n paar sent in die Rand as dividend terugkry. As onversekerde, konkurrente skuldeiser staan jy agter in die ry. Die versekerde skuldeisers en ook die voorkeurskuldeisers (werknemers, SAID, verhuurder ens.) gaan voor jou betaal word.
Die eerste prys is altyd om sekuriteit vir jou eis te hou.
Om 'n "versekerde eis" te hê, verhoog jou kanse aansienlik om 'n ordentlike dividend as uitbetaling te ontvang (hopelik kan jy selfs die volle uitstaande bedrag verhaal). Dit beteken dat die opbrengs van spesifieke bates, wat onderhewig is aan jou sekuriteit, vir jou spesifieke eis toegewys gaan word. Na aftrekking van die gepaardgaande administrasiekostes, word die netto opbrengs van die versekerde bate aan jou as skuldeiser oorbetaal, omdat jou skuld met sekuriteit oor daardie spesifieke bate verseker is.
As jou skuldenaar onroerende eiendom besit, sal die registrasie van 'n verband daaroor vir jou goeie sekuriteit verleen. Met roerende eiendom is daar verskeie opsies en gevalle. Hier is uiteenlopende eise en omstandighede – retensieregte, sessies, stilswyende hipoteke en so meer. Kom ons kyk na die algemene konsepte van pand en notariële verbande.
Een van die sterkste regte met roerende goed is om dit in pand te neem, maar dit vereis dat jy die roerende goed in jou besit moet hou. Dit is natuurlik nie altyd prakties vir 'n skuldenaar om vir jou besit van sy bate te gee nie. Die meeste besigheidsdebiteure moet besit behou van hul bates (masjinerie, toebehore, voertuie, voorraad, ensovoorts) en moet dit self aanwend om voort te kan gaan met hul daaglikse verhandeling. Hoe kan mens dit hanteer?
Die twee tipes notariële verbande.
In die geval waar jy nie werklik besit van die roerende goed kan neem nie, moet jy sterk oorweeg om 'n notariële verband oor die roerende bates te registreer. Daar is twee tipes notariële verbande wat albei registrasie in die Aktekantoor vereis -
- Jou eerste en beste opsie is om 'n spesiale notariële verband te registreer. Dit gee vir jou baie goeie sekuriteit, in die vorm van 'n "geagte pand". Jy sal dus die voordeel kry met die verkoop van enige roerende bate wat in die verband gelys is, al het jy nie self besit van die bate nie. Hierdie bates moet duidelik in die verband geïdentifiseer word ("... die roerende bates moet in die verband duidelik gespesifiseer en omskryf word om dit sondermeer en geredelik herkenbaar te maak ..."). Dit vereis dus volledige beskrywings, modelle, reeksnommers, en so aan vir elke afsonderlike bate wat ter sprake is en wat as sekuriteit gaan dien.
- Tweedens, kan jy ‘n algemene notariële verband oor die skuldenaar se roerende bates in die algemeen registreer. So bring jy daardie bates wat nie individueel identifiseerbaar is nie, soos voorraad, boumateriaal ensovoorts in jou beskermingsnet. 'n Algemene notariële verband bied op sigself vir jou net 'n swak voorkeur met likwidasie, maar jy kan dit wel tot "regte" sekuriteit omskep as jy vinnig genoeg beweeg.
Hoe omskep jy 'n Algemene Notariële Verband op die regte tyd tot volle sekuriteit?
Jy moet vinnig beweeg en regshulp verkry met die eerste tekens van finansiële nood by jou skuldenaar. Dan het jy heel moontlik tyd om die verband tot volle sekuriteit te “perfekteer” (“vervolmaak”) deur 'n hofbevel voor likwidasie te verkry. Gewapen met die hofbevel neem jy al die skuldenaar se roerende bates in besit en het jy nou "regte" sekuriteit oor daardie bates verkry.
Kom ons kyk na 'n onlangse voorbeeld –
- 'n Supermarkgroep, wie se handelswinkel meer as R2 miljoen aan die groep geskuld het, het twee algemene notariële verbande oor die winkel se roerende bates (vermoedelik winkeltoebehore, toerusting, voorraad, ens.) gehou.
- Uit vrees dat die handelswinkel se eienaar ('n maatskappy) in insolvente omstandighede handel dryf en gelikwideer sou word, het die supermarkgroep as skuldeiser aansoek gedoen om 'n dringende hooggeregshofbevel wat die groep sou toelaat om hul sekuriteit te vervolmaak en af te dwing.
- Die handelswinkel as skuldenaar het die aansoek teengestaan en die hof gevra om sy diskresie uit te oefen om nie 'n “perfekteringsbevel” toe te staan nie. Die hof was egter tevrede dat dit wel gepas sou wees en het die “perfekteringsbevel” toegestaan. Die hof bevind ook dat die groep as skuldeiser geen ander remedie (soos 'n skadevergoedingseis) beskikbaar het nie. Die hof was ook nie te vinde vir die skuldenaar se argument dat die bepalings van die verbande gewetenloos en in stryd met die heersende regsgevoel sou wees nie (“contra bonos mores”).
Hier is geregtelike bevestiging dat jy jou posisie kan versterk waar jy reeds voorheen ‘n algemene notariële verband laat opstel en registreer het, en jy dan vinnig genoeg optree om dit in gepaste omstandighede te “perfekteer”.
Provided by Van Zyl Kruger
© DotNews. All Rights Reserved.