Dit is die moeite werd om misdaad aan te meld! 20 Jaar gevangenisstraf vir eerste oortreder se bedrog van R4.9m
“The scourge of white collar crime, especially fraud, is currently the order of the day in our country. Fraud is a cancer that is crippling our country from the core and takes away from the poorest of the poor” (Geneem uit hierdie uitspraak.)
‘n Mens kan soms dink dat die hoë vlakke van misdaad, wat ons oënskynlik om elke hoek en draai in vandag se samelewing aantref, hier is om te bly en dat dit sinneloos vir slagoffers is om dit aan te meld.
Indien almal van ons nalaat om misdaad aan te meld wanneer dit gebeur, en indien ons nie deurlopend opvolg om te verseker dat behoorlike ondersoeke en vervolgings plaasvind nie, word ons howe hierdeur belemmer. Dit is nie konstruktief nie. Wanneer ons howe die kans gegun word, tree hulle wel streng teen misdadigers op. ‘n Onlangse uitspraak van die Appèlhof is maar een van vele sulke voorbeelde –
Die SETA werknemer wat R4.9m gesteel het
- Die bedrieër ter sprake was vir twee jaar lank in diens by ‘n Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid (SOOO). Een van die SOOO se funksies was om toelae aan werkgewers, onderwys- en opleidingsverskaffers en werknemers toe te wys. Een van die werknemer se pligte was om die bankbesonderhede van toelaag-begunstigdes op die SOOO se betalingstelsel te laai.
- Hy en twee medepligtes (een van hulle was ‘n bankamptenaar) het die toelaes op 26 geleenthede en op bedrieglike wyse na ‘n ander bankrekening herlei. Die bedrae ter sprake het gewissel van minder as R100,000 tot byna R1.4 miljoen.
- Die bedrog is “toevallig” ontdek, etlike maande nadat hy reeds by die SOOO bedank het. Hy het in die Hof vir Gespesialiseerde Handelsmisdade op 26 aanklagte van bedrog skuldig gepleit, met ‘n totale bedrag van R4,898,158.21 wat verduister is. Hy is tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis.
- Die minimum vonnis bepalings van die Strafregwysigingswet was hier van toepassing. Hiervolgens moet selfs eerste oortreders gevonnis word tot ‘n minimum van 15 jaar gevangenisstraf vir enige bedrog waar die bedrag meer as R500,000 beloop (R100,000 in die geval waar persone saamgewerk het, en R10,000 vir wetstoepassers) tensy “wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat die oplegging van ’n mindere vonnis regverdig.”
- Die Hooggeregshof het die bedrieër se aansoek om verlof tot appèl teen die vonnis geweier. Hierna nader hy die Hoogste Hof van Appèl om hulp.
- Die Hof was nie beïndruk met die bedrieër se bewering dat hy berou getoon het of met sy aanbod om met ‘n terugbetalingsplan vorendag te kom nie. Alhoewel dit sy eerste oortreding was, het die Hof bedrog beskryf as “’n kanker wat ons land van binne af benadeel” (eie vertaling). Die Hof het opgemerk dat “diegene wat ernstig [hierdeur] benadeel is, die ongeveer 200 jongmense uit benadeelde agtergronde was, wat van onderwys- en vakleerlingskap-geleenthede ontneem is, wat hulle in staat sou stel om hulself in die samelewing op te hef. Uiteindelik sou hierdie vakleerlingskappe hulle in staat gestel het om werk te kry, iets wat skaars in ons land is.”
- Die eindresultaat – die bedrieër moet sy gevangenisstraf van 20 jaar ten volle uitdien.
Ander misdade met “minimum vonnisse”
‘n Hele reeks van ander ernstige oortredings is ook onderhewig aan soortgelyke minimum vonnisse – moord, roof, verkragting, korrupsie, deviesebeheer-misdrywe (beweging van fondse na en van die buiteland), mensehandel vir seksuele doeleindes, dwelmsmokkelary, en dies meer. Dit is ‘n lang lys, en die algemene publiek en spesifiek die slagoffers van misdaad kan hierin bemoediging vind.
Provided by Wessels & Smith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.