Beplan jy om te Trou? Moenie die HVK en die 3 Soorte Huwelike Vergeet nie
“And she's got brains enough for two, which is the exact quantity the girl who marries you will need” (P.G. Wodehouse)
Die lang trouseisoen het met die lente en met die somer aangebreek. Die kans is goed dat selfs indien jy nie self beplan om te trou nie, jy van iemand weet wat op die oomblik oorweeg om in die huwelik te tree. Indien wel, is dit ‘n goeie idee om hierdie artikel vir hulle aan te stuur.
Die beplanning en voorbereiding vir jou troudag is ‘n opwindende en besige tyd, en jou lysie van “Dinge Om Te Doen” / “Aksielys” is beslis reeds lank. Boonop is jy gedruk vir tyd en jou aandag is verdeeld. Dit is dus maklik om die “vervelige” regsaspekte en soortgelyke dinge laag op jou lysie te plaas.
Moet dit nie oorsien nie. ‘n Besoek aan julle prokureur is noodsaaklik. Dit is nie net ‘n nagedagtenis om tussen “Bespreek Airbnb vir Tannie Soekie” en “Was die hond” in te prop nie. Eerste op die agenda vir jou regskonsultasie is ‘n HVK...
Jou HVK – wat is dit en waarom is dit noodsaaklik
Jou HVK of “voorhuwelikse kontrak” is ‘n ooreenkoms wat jy met jou aanstaande gade sluit, voordat julle trou, wat julle finansiële (en tot ‘n sekere mate julle persoonlike) sake reguleer.
Moenie die idee van ‘n HVK afskiet omdat jy dink dat dit ‘n erkenning is dat jou huwelik kan misluk nie. ‘n HVK is niks meer en niks minder as ‘n uiters noodsaaklike deel van die beplanning van jou toekoms nie. Daar is twee redes hiervoor -
- Eerstens, kom ons aanvaar dat julle huwelik gesond en gelukkig gaan wees. Egskeidingstatistieke wys egter dat daar wel ‘n kans is dat, vir een of ander rede, en op een of ander onvoorsienbare tydstip in die toekoms, een of beide huwelikspartye ‘n egskeidingsprokureur gaan besoek. Wie se eerste vraag waarskynlik gaan wees: “Wys vir my julle HVK.”
- Onthou die HVK kom ook ter sprake wanneer een van julle tot sterwe kom. ‘n Oningeligte besluit nou kan later ernstige nagevolge inhou, nie net vir jou nie, maar ook vir jou gade en mettertyd vir jou kinders, gedurende jul huwelik en wanneer (nie as nie) een van julle tot sterwe kom.
Kies die gepaste huweliksbedeling wat reg is vir julle.
Ons regstelsel maak voorsiening vir drie opsies, wat ons hieronder bespreek.
Hou in gedagte dat hierdie slegs ‘n opsomming van die verskillende opsies is. Geen artikel kan al die verskillende individuele faktore wat jy in ag moet neem volledig bespreek nie. Daarom is ‘n besoek aan jou prokureur – lank voor die troudatum – noodsaaklik. Vra wat die regte opsie vir jou spesifieke behoeftes en omstandighede is, en maak seker jul HVK word dienooreenkomstig opgestel en aangepas.
Jou drie opsies, en ‘n slaggat vir die wat nie hul situasie bedink nie.
- Getroud in gemeenskap van goed: Al julle bates en laste word in een “gesamentlike boedel” saamgesmelt, en elkeen van julle het ‘n onverdeelde halwe aandeel in hierdie enkele boedel. Alles (met slegs ‘n paar spesifieke uitsonderings) wat jy in die huwelik inbring, of gedurende die huwelik bymekaarmaak vorm deel van hierdie gesamentlike boedel. Jy sal jou gade se skriftelike toestemming vir sekere belangrike transaksies benodig. By beëindiging van die huwelik (egskeiding of dood) word die gemeenskaplike boedel (insluitende winste en verliese) gelykop tussen julle verdeel, ongeag wat elkeen van julle in die huwelik ingebring of daartoe bygedra het. Indien een van julle skuld maak of finansiële probleme optel, is die gemeenskaplike boedel daarvoor verantwoordelik – jy kan dus alles verloor indien die gemeenskaplike boedel gesekwestreer word. Hierdie faktore hou in dat dit nie ‘n geskikte opsie vir die meeste paartjies is nie. Let veral daarop dat hierdie die verstekposisie in Suid-Afrika is. As julle niks doen nie en geen formele ooreenkoms voor julle huwelik sluit nie, sal julle outomaties in gemeenskap van goed getroud wees.
- Getroud buite gemeenskap van goed sonder die aanwasbedeling: Jou eie bates en laste, beide wat jy inbring en dit wat jy gedurende die huwelik verkry, bly uitsluitlik joune om mee te handel na jou goeddunke – jy benodig dus nie jou gade se toestemming vir enige van jou eie transaksies nie. Jy is nie vir jou gade se aparte skulde aanspreeklik nie, en indien jou gade se boedel gesekwestreer word kan jy jou eie bates terugeis (jy sal moet kan aantoon dat dit wel aan jou behoort). Let daarop dat die “aanwasbedeling” (sien opsie 3 hieronder) van toepassing sal wees, tensy jou HVK dit uitdruklik uitsluit. Die uitsluiting van die aanwasbedeling sal die regte besluit vir sekere huwelikspartye wees. Veral ouer mense en tweede huwelike waar die partye elkeen reeds bates en boedels opgebou het. Neem net kennis dat sonder die aanwas, die armer gade (dikwels ‘n gade wie se bydrae tot die huwelik meer op die huishoudelike front, en minder finansieël van aard was) die risiko loop om na baie jare in die huwelik in ‘n uiters swak finansiële posisie gelaat te word.
- Getroud buite gemeenskap van goed met die aanwasbedeling: Hierdie bedeling word tereg dikwels as die regverdigste en gewildste beskou. Dit is steeds nie noodwendig die beste opsie vir almal nie. Soos by die vorige opsie, bly jou eie bates en laste uitsluitlik joune, en benodig jy nie jou gade se toestemming om daarmee te handel nie. Jy kan ook jou eie bates teen jou gade se skuldeisers beskerm. By beëindiging van die huwelik (egskeiding of dood) deel julle gelykop in die “aanwas” (groei) van julle bates (met enkele uitsonderings) gedurende die huwelik. Die voorbeeld hieronder illustreer die toepassing van die aanwas-
Is julle reeds getroud?
|
Provided by Wessels & Smith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.