Mondelinge ooreenkomste – die eiendomsperspektief
“A verbal contract isn't worth the paper it's written on” (Samuel Goldwyn)
‘n Onlangse uitspraak van die Hooggeregshof herinner ons weereens hoe noodsaaklik dit is om aan al die nodige formaliteite te voldoen wanneer ooreenkomste aangegaan word, veral wat die verkoop van eiendom aanbetref.
‘n Stryd oor uitsetting en ‘n aanslag op die eiendomsoordrag
-
In 2015 is ‘n eiendom ingevolge ‘n koopooreenkoms aan ‘n koper oorgedra.
-
Die bewoners van die eiendom het volstrek geweier om die eiendom te ontruim. Die nuwe eienaar het aansoek gedoen vir hul uitsetting. Hierop het die bewoners beweer dat hulle reeds in 2007 met die oorspronklike eienaars ooreengekom het om die eiendom te koop, indien verskeie kwessies aangespreek kon word.
- Die bewoners vra nie alleen dat die uitsettingsaansoek van die hand gewys word nie, maar ook dat die oordrag van 2015 ter syde gestel moet word om die eiendom na hul eie genomineerde familietrust oor te dra.
Wat sê die Hof
-
Volgens die hof is sodanige mondelinge kontrak, ‘n ooreenkoms om in die toekoms oor ‘n aangeleentheid ooreen te kom. Dit sal geldig en bindend kan wees, maar slegs indien dit vanuit die staanspoor aan al die formele en ander geldigheidsvereistes voldoen wat op die toekomstige “hoof” ooreenkoms van toepassing gaan wees.
-
Die bewoners se probleem was dat ‘n mondelinge ooreenkoms vir die verkoop van onroerende goed nie in ons reg geldig is nie. Hierdie is een van die min tipes ooreenkomste waar die wetgewing vereis dat dit (a) skriftelik geskied en (b) deur beide die verkoper en koper, of hul gemagtigde agente onderteken moet word.
- Die verkoop en die 2015 oordrag van die huis was geldig. Die hof gee die bewoners dan vyftien dae kennis om die eiendom te ontruim.
Hou hierdie drie dinge in gedagte
-
In ons reg is jy gewoonlik gebind aan dit waaraan jy mondelings ingestem het. Daar is slegs ‘n paar spesifieke uitsondering op hierdie beginsel, waarvan eiendomsverkope een is.
Dit is egter goeie praktyk om mondelinge ooreenkomste so ver moontlik te vermy. Dit lei dikwels tot misverstande en geskille. Mense is geneig om net te hoor wat hulle wil hoor en dan hulself te oortuig dat hul geheue beter is as joune. Dit skep ook ruimte vir mense om uit ooreenkomste te probeer kom. Dit is veel beter om alles eerder in wit en swart op te teken en die partye daarby te laat teken.
-
Wees ook versigtig vir ‘n ooreenkoms om iets in die toekoms ooreen te kom. Ons regspraak is vol van duur hofgedinge oor ‘n brief van voorneme en partye se ondernemings om op ‘n latere stadium ‘n volledige kontrak te sluit.
- Daarom is dit belangrik dat spesifiek by ‘n eiendomstransaksie, jy eers regsadvies moet inwin voordat jy tot enige iets instem. Daar is gewoonlik baie op die spel wanneer eiendom betrokke is en ook baie slaggate vir die onvoorbereide.
Provided by Darrolls Attorneys, Notaries & Conveyancers
© DotNews. All Rights Reserved.