Seksuele misdrywe: Tydsbeperking om te vervolg het verval
“Sekere misdade gaan nooit weg nie” (Deel van hierdie hofuitspraak)
Die slagoffers van sekere seksuele misdade is dikwels so erg getraumatiseer en geïntimideer dat hulle dekades neem om dit aan te meld, indien ooit.
Tot dusver was hierdie ‘n bron van groot onreg in ons regstelsel. Artikel 18 van die Strafprosesweg bepaal dat die reg om strafregtelik te vervolg na twintig jaar verval, tensy die misdaad deel is van ‘n lys van spesifieke ernstige oortredings. Die ernstige oortredings is moord, hoogverraad, roof met verswarende omstandighede, ontvoering, kinderdiefstal, verkragting of gedwonge verkragting, volksmoord, oorlogmisdade, mensehandel en pornografie van kinders of verstandelik gestremde persone.
Desperate en kwesbare slagoffers van mishandeling word hierdeur die geleentheid ontneem om die misdadiger voor die gereg te bring. Dit het nou verander. ‘n Onlangse uitspraak van die Hooggeregshof oor bewerings van seksuele misdade wat meer as 28 jaar gelede sou gebeur het, het tot gevolg dat seksuele misdrywe nie meer binne die twintig jaar termyn vervolg hoef te word nie. Hierdie bevinding van die hof moet wel nog deur die Grondwetlike Hof bekragtig word.
Bewerings van deurlopende seksuele misbruik van kinders
- Die applikante was agt mans en vrouens wat, ten tyde van die beweerde oortredings, tussen die ouderdomme van 6 en 15 jaar oud was. Die betrokke man is daarvan beskuldig dat hy kinders in die 1970’s en 1980’s onsedelik en/of seksueel aangerand het.
- Tussen Junie 2012 en Junie 2015 het die klaers (die applikante) volle begrip en insig ontwikkel vir die beweerde misdade wat die man dekades voorheen teenoor hulle as kinders gepleeg het. Hulle het strafregtelike klagtes ingedien en ook ‘n siviele eis teen hom ingestel. In terme van die Strafproseswet het hierdie oortredings reeds verjaar.
- Die Direkteur van Openbare Vervolgings het geweier om die strafsake te vervolg as gevolg van die bovermelde inperking van die Strafproseswet. Die klaers het die Hooggeregshof om hulp genader.
- Die hof het die regsposisie ontleed. Die hof het ook die diepgaande oorsake van slagoffers se verstaanbare onwilligheid en gevolglike vertraagde openbaarmaking van hierdie tipe misdade ondersoek. Die hof bevind dan dat artikel 18 van die Strafproseswet arbitrêr en irrasioneel is en in stryd is met ons Grondwet. Gevolglik verklaar die hof die bepaling as ongeldig. Die bepaling is onregverdig teenoor alle slagoffers, kinders en volwassenes, want dit perk slagoffers se reg om historiese seksuele misdrywe te laat vervolg op ontoelaatbare wyse in.
- Die hof skort hierdie verklaring van ongeldigheid van hierdie wetgewing vir 18 maande op om die Parlement in staat te stel om die grondwetlike gebrek uit die weg te ruim. Die hof bevind egter dat die tydsbeperking van 20 jaar met onmiddellike effek vir alle ander seksuele misdrywe wegval, hetsy ingevolge die gemenereg of ingevolge wetgewing.
Die strafsaak het reeds tot ‘n einde gekom aangesien die beskuldigde kort voor die verhoor gesterf het. Die siviele saak teen die beskuldigde sal egter teen sy bestorwe boedel voortgaan. ‘n Vorige hof het beslis dat in siviele sake, waar die kinderslagoffers van seksuele geweld eers die omvang van die misdryf besef as hulle volwasse is, sal hierdie slagoffers wel geregtig wees om die beskuldigde persoon binne drie jaar vanaf sodanige bewuswording te dagvaar.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.