Vervalle Vuurwapenlisensies: Die Hooggeregshof bied die nodige uitkoms
“There is no question that firearms are hazardous objects and that possession and ownership must be strictly controlled. A failure to comply with the Act exposes the public to potential harm, especially in a society like ours where violence is rife.” (Direkte aanhaling uit die uitspraak)
Tereg beskou ons strafregstelsel die onwettige besit van ‘n vuurwapen in ‘n baie ernstige lig. Gevangenisstraf van 15 jaar kan by skuldigbevinding opgelê word. Eienaars met gelisensieerde vuurwapens kry egter opdraande as die lisensie nie binne die voorgeskrewe tydperke hernu word nie.
Die Wet op Beheer van Vuurwapens, Wet 60 van 2000, bepaal dat alle lisensies vir vuurwapens slegs vir ‘n tydperk geldig is (10 jaar vir jaglisensies en 5 jaar vir selfverdediging). Jy moet ook ten minste 90 dae voor die verstryking van die lisensie aansoek doen vir die hernuwing van die lisensie. Indien jy dit nie betyds doen nie, het jy ‘n groot probleem.
Die 90 dae valbyl: Die Hooggeregshof bied uitkoms
Die Hof stel dit so in die uitspraak waar vuurwapeneienaars die hof vir leiding genader het:
“The difficulty that arises, and which causes confusion is that, if a person fails to apply for a renewal at least 90 days before expiry there is no provision in the Act that permits one, after the guillotine has dropped, to bring oneself back within the parameters of the law. This then leads to the result that one is in unlawful possession of a firearm, with no means to rectify the position…”.
Daar is nie ‘n manier waarop die vuurwapen aan die polisie oorhandig kan word sonder om die risiko te loop dat jy aangekla kan word van die onwettige besit van ‘n vuurwapen nie. Jy kan ook nie vra vir vergoeding vir die afstaan van die vuurwapen nie. Dit is ‘n onhoudbare situasie.
Die hof ondersoek en oorweeg die doel en die gevolge van die wetgewing en in besonderhede die dele wat handel met die hernuwing van vuurwapenlisensies en die drastiese gevolge indien dit nie betyds gedoen word nie. Die hof bevind dat hierdie dele van die wet ongrondwetlik is en bepaal dat die Parlement hierdie gebreke in die wet binne die volgende agtien maande moet aanspreek en wysig.
Hoe raak dit jou as jou lisensie reeds verstryk het?
Hierdie uitspraak en bevel moet nou eers deur die Grondwetlike Hof bekragtig word. Die posisie word wel in die tussentyd gereguleer. Die hof beveel dat alle lisensies wat ingevolge die Wet op Beheer van Vuurwapens, Wet 60 van 2000, uitgereik is en wat ingevolge artikel 24 van hierdie wet hernu is of hernu moes word, geag sal word om geldig te wees, totdat die Grondwetlike Hof ‘n bevinding gemaak het oor die grondwetlikheid van hierdie wetgewing.
Met ander woorde indien jy oor ‘n geldige vuurwapenlisensie vir die betrokke vuurwapen beskik het, en indien die lisensie uitsluitlik as gevolg van tydsverloop verval het (nie enige ander gronde wat in die wet hanteer word nie), beskik jy oor hierdie verweer indien jy hieroor vervolg word.
Dit is natuurlik die beste om betyds aansoek te doen vir hernuwing van die lisensie. Indien jy egter vergeet het of uitstedig was of uit die land uit was of vir welke rede ookal nie die lisensie hernu het nie, moet nie enige kanse vat nie. Kry bevestiging van jou regsverteenwoordiger dat jou situasie deur hierdie nuwe hofbevel gedek is. Kry ook dadelik regshulp indien die polisie jou situasie anders interpreteer.
Die gevolge van die onwettige besit van vuurwapens is te drasties om ligtelik hiermee om te gaan.
URGENT UPDATE – Since time of writing of the above article, media reports suggest that SAPS has now appealed against the above judgment to the Constitutional Court and that the effect of this is that gun owners must continue to comply strictly with the relevant sections of the Firearms Act. SAPS has reportedly also stated that “no prosecutions will be instituted against persons whose firearm licences have expired and who voluntary surrendered such firearms to the South African Police Service.” Take immediate advice in any doubt!
Provided by Matthews Enslin Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.