Stel al jou skuldeisers in kennis wanneer jy van adres verander! Die saak van die dagvaarding wat op die kompleks se sekuriteitswag beteken is.
“Na my mening, en in die lig van die uitdagings wat 'n balju of adjunk-balju het om toegang tot 'n sekuriteitskompleks in die afwesigheid van die inwoner te verkry vir doeleindes van betekening in terme van Reël 4, is betekening van die dagvaarding deur oorhandiging daarvan aan die sekuriteitswag by die kompleks, wat ’n verantwoordelike werknemer ouer as 16 jaar is, ‘n geldige en effektiewe betekening op die skuldenaar.” (Uittreksel uit uitpsraak hieronder. Eie vertaling.)
Om te verhuis of om van kantoor te verander, behels ‘n besige tyd en ‘n lang lys van dinge om te doen.
Voeg nou ook die volgende by jou "Hoë Prioriteit" lys. Gee kennis, in die vereiste formaat, aan almal met wie jy gekontrakteer het. Andersins kan jy, net soos die skuldenaar in hierdie saak, een oggend wakker word om uit te vind dat jou bankrekening gevries is. Of met die balju van die Hooggeregshof wat aan jou deur klop met 'n lasbrief vir eksekusie teen jou eiendom.
Hoekom is jou “domicilium citandi et executandi” so belangrik?
'n “Domicilium citandi et executandi” (“domicilium” in kort), is 'n Latynse frase wat jy in baie ooreenkomste sal sien. In eenvoudige terme beteken dit die dieningsadres wat jy in 'n kontrak nomineer waarheen regskennisgewings gestuur en regsprosesse (soos 'n dagvaarding) regsgeldig op jou beteken kan word.
Soos ons hieronder sal sien, is dit van kritieke belang om hierdie gedeelte in die kontrak ernstig op te neem, wanneer jy aanvanklik 'n adres kies, en ook later, wanneer jy verhuis.
Skuldenaar se bankrekening gevries nadat dagvaarding op 'n kompleks se sekuriteitswag beteken is.
- 'n Inwoner van 'n sekuriteitskompleks waar daar baie inwoners bly, het 'n motorvoertuig op afbetalingsverkoopooreenkoms gekoop. Hy het sy woonadres as sy domicilium adres aangedui.
- Hy het uiteindelik die motorvoertuig aan sy finansierder teruggegee en die voertuig is op veiling verkoop. Hierna is hy in kennis gestel dat hy nog die balans van R108 000 plus die ooreengekome rente moes betaal.
- Toe hy later na 'n ander sekuriteitskompleks verhuis, het hy die skuldeiser gebel om hulle van sy nuwe adres in kennis te stel. Hy het dit egter nie opgevolg met 'n formele kennisgewing van verandering van domicilium in die vereiste formaat nie.
- Hierna het die skuldeiser ‘n Dagvaarding by die hof laat uitreik. Die Balju het eers probeer om dit by sy nuwe adres te beteken, maar was onsuksesvol. Volgens die sekuriteitswag by daardie kompleks het die skuldenaar nog nie in die eenheid gewoon nie, alhoewel sy besittings reeds daar was.
- Die Balju het die Dagvaarding toe by die ou adres (die skuldenaar se oorspronklik gekose domicilium) beteken deur dit aan daardie kompleks se sekuriteitswag te oorhandig.
- Die skuldenaar het nie kennis gegee dat hy die saak gaan verdedig nie. Dit het die skuldeiser in staat gestel om ‘n verstekvonnis by die hof teen die skuldenaar te verkry en om op sy bankrekening beslag te lê en te bevries. (Volgens die skuldenaar, het dit veroorsaak dat hy nie in staat was om sy Covid-verwante hospitaal- en mediese uitgawes te betaal nie.)
- Die skuldenaar het die Hooggeregshof genader om die vonnis tersyde te stel (“op te hef”), en het onder meer aangevoer dat die dagvaarding nie behoorlik op hom beteken is nie.
Hoekom die skuldenaar die saak verloor het.
- Die hof het dit as volg gestel: "Betekening by 'n adres wat deur 'n skuldenaar as die domicilium citandi et executandi gekies is, is behoorlike betekening, selfs al is dit bekend dat die skuldenaar nie meer by die domicilium-adres woon nie, of selfs oorsee is of die perseel verlaat het." (Eie vertaling.) Met ander woorde, die dagvaarding word as behoorlik beteken beskou, ongeag of jy nog by daardie adres is of nie.
- “Die wyse van betekening by 'n domicilium-adres moet steeds effektief wees. Dit moet van so aard wees dat die hofproses wat by die domicilium citandi et executandi beteken word, in die gewone loop van sake onder die aandag van die beoogde ontvanger sal kom en deur hom ontvang sal word.” (Eie vertaling.) Een manier om aan daardie vereiste te voldoen, is om die hofproses op 'n "verantwoordelike werknemer" te bedien. Volgens die hof, en in die lig daarvan dat sekuriteitskomplekse nie maklik toegang bied as die inwoner nie self persoonlik teenwoordig is nie, het dit geen verskil gemaak dat die betrokke sekuriteitswag nie vir die skuldenaar nie, maar vir die kompleks self gewerk het.
- Die verpligting is op die skuldenaar wat van adres verander "om die skuldenaar se gekose domisilium-adres by die kredietverskaffer op te dateer of te wysig." As jy vergeet om dit te doen, moet jy jouself blameer vir die nagevolge.
- Dit is veral belangrik dat jy kennis van verandering van domicilium moet gee op die wyse wat deur die kontrak voorgeskryf word (gewoonlik ten minste skriftelik). Maak seker dat jy spesifiseer dat dit jou domicilium-adres is wat verander. “ 'n Verandering in woonadres is nie dieselfde as ‘n verandering in domicilium-adres nie.”
- Moet ook nie dink dat jou verpligting om kennis van adresverandering te gee, verval wanneer die kontrak gekanselleer word nie. Onthou, die domicilium-adres oorleef kansellasie van die ooreenkoms.
Die uiteinde – die hof bevestig die verstekvonnis wat verkry is en die skuldenaar moet betaal.
Hou jou bewyse!
Soos altyd is dit beter om eerder dispute met die ander party te vermy. Maar dinge kan verkeerd loop, selfs vir dié van ons wat versigtig probeer wees. Maak seker dat jy nie onbewus gelaat word van enige kennisgewings of dagvaardings wat teen jou uitgereik word en by die verkeerde adres beteken word nie. Maak ook seker dat jy die bewyse van jou kennisgewings van verandering van jou domicilium (in die voorgeskrewe formaat) aan die ander partye bewaar. Jy sal dit nodig hê indien jy jouself eendag in die posisie bevind waar jy vir die tersydestelling van 'n verstekvonnis moet aansoek doen.
Provided by Chennells Albertyn Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.