Dagvaarding van R2,2 miljoen vir werknemer wat oor sy “graad” lieg en bedrieg.
“Oh, what a tangled web we weave when first we practice to deceive” (Sir Walter Scott, aangehaal in hierdie uitspraak.)
Dit is jammer dat 'n werkgewer in vandag se sakewêreld voortdurend op die hoede moet bly teen die gevare van CV-bedrog.
As ‘n werkgewer is jou eerste linie natuurlik voorkomend. Julle moet alle aangeduide kwalifikasies en werkservaring ondersoek en kan dit nie net blindelings aanvaar nie. As ‘n werkgewer wel om die bos gelei word, sal ons howe help soos wat hulle kan. Dit sien ons in hierdie onlangse hooggeregshofsaak.
Die “gegradueerde” wat ’n BSc-graad vervals het.
- Hier het ons ‘n geval waar ‘n werknemer sy diens te danke het aan vervalste kwalifikasies in die vorm van 'n vervalste BSc-graad (in Chemiese Ingenieurswese) en 'n vervalste akademiese rekord. Op sterkte hiervan is hy ook aanvaar in sy werkgewer se nagraadse ontwikkelingsprogram.
- Sy bedrog is eers na agt jaar ontdek. Nadat sy werkgewer dissiplinêre verrigtinge teen hom begin het, het hy bedank. Sy werkgewer het die bykans R2,2 miljoen wat oor sy diensjare aan hom uitbetaal is, teruggeëis.
- Die werknemer het beswaar gemaak en beweer dat hy deur sy dienslewering wel waarde aan sy werkgewer verskaf het. Die hof was nie hiermee beïndruk nie, veral na die werkgewer se getuienis as 'n grootmaat waterverskaffer aan miljoene mense. 'n Ongekwalifiseerde persoon wat berekeninge doen oor die tipe en hoeveelheid chemikalieë wat by drinkwater gevoeg moet word, kan ernstige nagevolge vir die algemene bevolking inhou.
Bedrog kan alles ongedaan maak (“Fraud unravels everything”) - Totsiens R2,2 miljoen en totsiens pensioenfonds.
Ons hou die uittreksel van die uitspraak in die oorspronklike Engels, ook omdat dit direk aanhaal uit ‘n ou bedrogsaak uit Engeland met ‘n beginsel wat ons handelsreg oorgeneem het. “No court in this land will allow a person to keep an advantage which he has obtained by fraud. No judgment of a court, no order of a Minister, can be allowed to stand if it has been obtained by fraud. Fraud unravels everything.”
Die werknemer, het die hof gesê, “het gepoog om te bedrieg en ‘n ingewikkelde web van bedrog geweef. Hy het in sy doel geslaag. Hy het nou in sy eie web verstrengel geraak en hy kan nie nou wil kla oor die logiese gevolge wat moet volg nie.” (Eie vertaling.)
Die werknemer moet elke sent van die R2 203 565,04 wat hy oor die jare met sy bedrog verdien het, met rente terugbetaal. Sy pensioenvoordele (wat normaalweg van eise van krediteure vrygestel is) kan ook vir hierdie doel aangewend word. Dan moet hy ook die regskostes op die bestraffende prokureur-en-kliënt skaal betaal. Die hof se negatiewe bevindinge oor sy oneerlikheid as 'n getuie het ongetwyfeld hiertoe bygedra.
Provided by Chennells Albertyn Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.