Hoe om ‘n voormalige direkteur te verhoed om met jou mee te ding
“…the default position is that an executive director or a senior employee may not carry on business activities which fall within the scope of his company’s business during the time when he serves as director or works as employee. The default position however changes on resignation.” (Geneem uit hierdie uitspraak.)
Wat gebeur indien verhoudinge tussen jou en die mede-direkteure van jou maatskappy so versuur dat een van die direkteure besluit om die maatskappy te verlaat? Kan hy of sy onmiddellik ‘n nuwe besigheid begin wat direk met jou meeding?
‘n Onlangse uitspraak van die Hooggeregshof spreek hierdie netelige vraag aan, en dui ook ‘n vinnige en maklik oplossing daarvoor aan.
Om vir besigheid te vis: “Big Catch” eis R24 miljoen
- Big Catch Fishing Tackle (Edms.) Bpk. is bemarkers en aanbieders van hengel en vlieghengel toere in beide plaaslike en internasionale waters.
- Die maatskappy se twee direkteure en aandeelhouers het ‘n uitval gehad. Dit het daartoe gelei dat die een direkteur aantygings van ernstige pligsversuim deur die ander direkteur gemaak het.
- Alhoewel hy hewig ontken het dat hy enige oortreding begaan het, het hy uit sy direkteurskap bedank (volgens hom was dit onder dwang). Hy bly egter ‘n aandeelhouer.
- Hierna dagvaar Big Catch die voormalige direkteur vir sowat R24 miljoen vir “historiese” en “toekomstige” skadevergoeding, gebaseer op bewerings van onbehoorlike of onwettige optrede. Hierdie optrede sluit na bewering in dat die direkteur besigheid van Big Catch weggelei het, voorraad wanbestuur het, betalings en kommissies herlei het en roekeloos en sonder magtiging opgetree het.
- Wat vir ons hier van belang is, is Big Catch se tussentydse aansoek na die Hooggeregshof om ‘n interdik teen die voormalige direkteur en sy nuwe besigheid (Upstream Fly Fishing) te verkry om te verhoed dat hulle met Big Catch meeding.
Voormalige direkteur kom skotvry daarvan af
- Direkteure het ‘n wye reeks fidusiêre pligte teenoor hul maatskappye. Hulle moet ten alle tye in goeie trou en in die beste belange van die maatskappy optree. Hulle moet ten alle tye ‘n botsing van belange vermy. Hulle kan nie met die maatskappy meeding of geheime winste maak nie. “Die standaard posisie”, soos die Hof dit in hierdie saak gestel het, “is dat ‘n uitvoerende direkteur of senior werknemer nie gedurende die periode wat hy as direkteur dien of as werknemer werk, besigheidsaktiwiteite mag uitvoer wat binne die omvang van sy maatskappy se besigheidsaktiwiteite val nie.”
- Big Catch moes die Hof oortuig dat daardie pligte ongedeerd voortduur nadat ‘n direkteur bedank het. Die Hof beslis dat die “standaard posisie” by bedanking verander en dat “die direkteur of werknemer nie sy fidusiêre pligte oortree bloot omdat hy stappe geneem het om te verseker dat hy, wanneer hy nie meer ‘n direkteur of werknemer is nie, kan aanhou om ‘n inkomste te verdien nie. Selfs al beteken dit dat hy ‘n besigheid begin wat ‘n mededinger van sy voormalige maatskappy is, of by ‘n mededinger aansluit en dan soortgelyke geleenthede najaag as wat deur sy voormalige maatskappy geteiken word.”
- Alhoewel ‘n direkteur se fidusiêre pligte wel sy verlating van die maatskappy oorleef, “bly die inhoud van daardie plig nie dieselfde nie ... Die plig word slegs na bedanking oortree waar dit die gebruik van vertroulike inligting behels, of die skending van belange van die besigheid wat beskerming op ‘n ander wyse verdien.” (Eie beklemtoning.)
- Met ander woorde, ‘n maatskappy kan nie eenvoudig sê “ons direkteur oortree ‘n voortdurende fidusiêre verpligting wat hy teenoor ons het” nie. Dit is nodig om verder te gaan en op ‘n aktiewe manier ‘n reg op beskerming te bewys. In hierdie saak was Big Catch nie daartoe in staat om sy saak te bewys nie, en die Hof het die aansoek met kostes van die hand gewys. Die voormalige direkteur het dus skotvry daarvan afgekom.
Die groot fout wat Big Catch gemaak het – daar was geen handelsbeperking nie.
Rondte een gaan dus aan die voormalige direkteur. Hierdie oorwinning is deels te danke aan Big Catch se versuim om nie handelsbeperkinge vir al sy direkteure en senior werknemers in plek te hê nie.
Soos die Hof dit gestel het, “...in die afwesigheid van ‘n handelsbeperking skuif die onus (bewyslas) na die direkteur se voormalige maatskappy om die interdik, beide op regsgronde en op die feite, te regverdig. ‘n Maatskappy wat wil verhoed dat ‘n direkteur of werknemer na hul bedanking met die maatskappy meeding, moet óf ‘n redelike handelsbeperking oplê, óf die Hof oortuig dat die maatskappy ‘n beskermingswaardige belang, soos vertroulike inligting, kliëntelyste of verbintenisse het, wat ‘n interdik regverdig.
Jy moet jou maatskappy met handelsbeperkinge beskerm.
Provided by Matthews Enslin Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.