‘n Hondelewe Vir Die St Bernard Op Die Gholflandgoed
Wanneer jy in ‘n sekuriteitslandgoed woon, is daar sekere reëls en regulasies wat op die inwoners van toepassing is. ‘n Onlangse uitspraak in die Hoë Hof bevestig dat hierdie voorskrifte nagekom moet word.
Dit bly maar ‘n hondelewe
- Theodore is ‘n groot St Bernard hond en behoort aan ‘n gesin wat al jare lank inwoners van ‘n gholflandgoed is.
- Die beleidsvoorskrifte van die landgoed reguleer die aanhou van troeteldiere. Die landgoed is ook ‘n natuurlike bewaringsarea. Daarom word die aanhou van katte op die landgoed in geheel verbied, terwyl die aanhou van honde tot sekere tipes beperk word. So mag volgroeide honde nie meer as 20 kilogram weeg nie en word aggressiewe honderasse ook verbied.
- Volgroeide St Bernard honde kan enigiets van 55 tot 80 kilogram weeg. Die eienaars se versoek vir toestemming om Theodore aan te hou word gevolglik van die hand gewys.
- Hierna het die hond se eienaars die Hoë Hof genader om hierdie weiering ter syde te stel. Hulle voer aan dat die landgoed se bestuur ‘n diskresie het om van die reëls af te wyk.
- Die hof het van hulle verskil en bevind dat die voorskrifte baie duidelik is en dat die bestuur gebonde is aan die voorgeskrewe reëls. Slegs uitsonderlike gevalle, soos ‘n aansoek vir die aanhou van gidshond vir ‘n blinde inwoner, behoort oorweeg te word.
- Die hof is ook van mening dat die feit dat die reëls in die verlede nie streng toegepas was nie en dat daar gevolglik wel groot honde op die landgoed aangehou word, nie relevant is vir die oorweging van die huidige situasie nie. Net omdat daar nie teen ander inwoners opgetree word nie, beteken nie dat die grootskaalse ignorering van die voorskrifte toegelaat sal word nie. In hierdie geval het die bestuur reeds voorheen regsadvies aangevra oor die verwydering van die ander groot honde; die bestuur is ingelig dat hulle waarskynlik nie sou slaag met ‘n aansoek vir verwydering nie. (Sien die verdere bespreking oor die bestuur se optrede hieronder.)
Kopers en Huiseienaarsverenigings: Belangrike oorwegings
Kopers: Wanneer jy ‘n eenheid in ‘n landgoed met ‘n huiseienaarsvereniging wil koop, moet jy die toepaslike reëls en regulasies deeglik nagaan en besluit of jy gemaklik is daarmee, voordat jy ‘n koopkontrak teken om daar te gaan bly.
Huiseienaarsverenigings: In hierdie geval het die hof bevind dat die voorgeskrewe gedragsreël duidelik en ondubbelsinnig was. Dit is belangrik dat die reëls deur die bestuur toegepas en maklik afgedwing kan word. Verkry eerder regsadvies hieroor, sodra daar enige twyfel hieroor bestaan.
Dit help ook nie om die beste reëls te hê nie, as die reëls nie deurlopend en konsekwent toegepas word nie. In ‘n vroeëre hofsaak het die bestuur oor ‘n tydperk van agt jaar geen stappe teen enige oortreders geneem nie. Die Hoë Hof bevind dat die bestuur in daardie geval die reg verbeur het om terugwerkend ingevolge hul magte te wil optree. Dit is waarskynlik die rede waarom, in Theodore se geval, die bestuur die reëls teen groot honde slegs met nuwe intrekkers afgedwing het.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.