Honde en ander diere sonder maniere: Die omgekrapte volstruis en die eis van R6,75 miljoen
Jou hond byt jou buurman. ‘n Besoeker hardloop weg van ‘n omgekrapte volstruis op jou eiendom en word in die proses beseer. Kan jy persoonlik hiervoor aanspreeklik gehou word?
‘n Onlangse uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl gee vir ons die antwoorde.
Die eis van R6,75 miljoen vir ‘n morsaf Achilles sening
- ‘n Besoeker is na ‘n plaas genooi om te help om wildebeeste aan te keer en te vang. Die wild op die plaas het volstruise, kameelperde en ander boksoorte ingesluit.
- Die besoeker het gedink ‘n volstruis jaag hom, hy het weggehardloop, geval en in die proses is sy Achilies sening daarmee heen.
- Hy het ‘n eis vir skadevergoeding in die bedrag van R6,75 miljoen teen die eienaar van die plaas ingestel. Sy aanvanklike eis in die Hooggeregshof was suksesvol. Die hof bevind dat hy geregtig is om die skade wat hy kan bewys, van die plaaseienaar te verhaal.
- Dit is hierdie bevinding wat na die Hoogste Hof van Appèl verwys is. Die Appèlhof het nie saamgestem nie en stel die bevinding tersyde.
- Die hof bevind dat die eiser self ‘n groot aandeel gehad het in die insident. Die hof bevind dat hy die volstruis meermale geterg het en kwaad gemaak het. Die hof bevind dat op die dag van die insident het hy selfs ‘n klip na die volstruis gegooi terwyl dit rustig rondgestap het. Hierdie optrede van die eiser het direk aanleiding gegee tot die volstruis se jaagtog.
- Hierdie onvanpaste optrede van die eiser het die insident veroorsaak. Dit bied ook ‘n volledige verweer aan die eienaar. Die eis word dus op appèl van die hand gewys.
Wees versigtig – jy kan aanspreeklik wees sonder dat dit jou skuld is!
In die uitspraak kyk die hof na die moderne tendense en uitsprake waar diere ter sprake kom. Die hof kyk ook na die geskiedenis en hoe die Romeinse reg hiermee gehandel het. Hoe hanteer mense hierdie gevalle en eise waar diere, (mak en wilde diere) skade en beserings veroorsaak.
Regsgeleerdes met ‘n akademiese inslag sal vir ure besig kan wees om die geskiedenis na te gaan. Historiese konsepte soos die actio de pauperie, edictum de feris, qua vulgo iter fit word aangeraak. Die volgende is ‘n meer praktiese opsomming –
- Wanneer diere skade veroorsaak, is die eienaar op risiko om aanspreeklik gehou te word. Ons reg erken strenge aanspreeklikheid. Jy kan dus aanspreeklik gehou word vir jou diere se optrede, al was daar geen opset of selfs nalatigheid aan jou kant te vinde nie. In die geval van mak diere soos ‘n hond is daar ‘n bietjie meer beskerming vir jou. Jy sal net aanspreeklik wees indien die hond uit opgewondenheid of kwaadwilligheid optree. Met wilde diere is daar egter geen sodanige beperking nie.
- Daar is darem ook verwere wat die eienaar kan aanbied. Jy sou kon aanvoer dat die slagoffer self ‘n aandeel gehad het in die insident deur die dier te terg of te provokeer of deur sy eie bydraende nalatige optrede. Verkry regshulp as jy hierdie verwere verder wil ondersoek.
- ‘n Slagoffer sou ook ‘n eis kon indien op sterkte van nalatige optrede.
Hoe kan jy jouself beskerm?
Beskerm jouself. Sorg dat jy jou risiko beperk en dat jou diere nie ‘n gevaar vir ander inhou nie. Maak ook seker dat jy versekeringsdekking in plek het om jou te beskerm ingeval van ‘n insident en ‘n eis. Kommersiële organisasies soos wildsplase en wildreservate moet duidelike kennisgewings aanbring om enige risiko te skuif en moet ook seker maak dat besoekers vrywaringsvorms teken. Besoekers moet ook ingelig word oor die bestaan van die risiko’s. Verkry advies om seker te maak dat die vrywarings geldig gaan wees en die vereiste dekking gaan bied.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.