Depressie en afdanking – ‘n harde les vir die werkgewer
‘n Onlangse beslissing van die Arbeidshof wys daarop dat ‘n werkgewer duidelik moet onderskei tussen gevalle van wangedrag en gevalle van swak prestasie.
Optrede as gevolg van depressie
-
‘n Werknemer met ‘n baie goeie diensgeskiedenis, is tydens ‘n dissiplinêre verhoor van vier klagtes van wangedrag aangekla –
-
Ongemagtigde afwesigheid vir ‘n periode van 17 werksdae,
-
Versuim om sy bestuurder van sy afwesigheid in kennis te stel soos deur die maatskappybeleid vereis word,
-
“Growwe ongeskiktheid” nadat hy sy rug op sy bestuurder gekeer het wat oor sy afwesigheid wou praat,
-
Weiering om ‘n “wettige en redelike” opdrag uit te voer.
-
-
Hy is aan al vier hierdie klagtes skuldig bevind en hy is hierna summier ontslaan.
-
Hy het die Arbeidshof genader en gevra dat sy ontslag as onregmatig bevind moes word. Hy ontken nie sy optrede nie, maar beweer dat sy optrede veroorsaak is deur die depressie waaraan hy ly. Twee dokters het hom ondersoek en het depressie by hom gediagnoseer. Hulle het ook anti-depressante vir hom voorgeskryf. ‘n Kliniese sielkundige het voorgestel dat hy eerder op siekteverlof geplaas moes word, aangesien hy simptome van uitbranding en “reaktiewe depressie” getoon het; hy was ook op die punt om ‘n emosionele ineenstorting te hê.
-
Volgens hom was die depressie die gevolg van sy persoonlike en finansiële probleme en ook stres by die werksplek as gevolg van die bestuur se reaksie en gebrek aan optrede toe hy om hulp gevra het vir sy depressie. Daar was geen salarisverhoging vir hom nie en ook nie enige prestasiebonus nie. Hy het ook gevoel dat sy werkgewer hom in die rug gesteek het toe sy bestuurder ten gunste van sy vrou in hul egskeidingsgeding getuig het.
-
Die hof bevind dat depressie wel ‘n geestelike siektetoestand is. Sy optrede was direk aan sy geestestoestand gekoppel. Die werkgewer moes dus ‘n ondersoek ingestel het na sy onvermoë om sy werk te doen as gevolg van sy siekte, eerder as om ‘n dissiplinêre verhoor te hou. Die werkgewer het geweet dat die werknemer hieraan ly en moes gevolglik redelikerwys die situasie en sy toestand hanteer het.
-
Na oorweging van al die omstandighede bevind die hof dat –
-
Die ontslag outomaties onbillik was ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge, en
- Die werknemer aan ongeregverdigde diskriminasie onderwerp is ingevolge die Wet op Billike Indiensneming.
-
Die harde lesse vir die werkgewer
In hierdie geval moes die werkgewer –
- Die werknemer weer ten volle met terugwerkende effek in diens neem,
- Bykomende vergoeding van ses maande se salaris betaal,
- Al sy regskostes betaal.
Kry spesifieke advies van ‘n arbeidsregkenner indien jy as werkgewer met so ‘n geval te doene het. As jy dit nie reg hanteer kan dit jou duur te staan kom. Ons howe werk nie sagkens met werkgewers wat ons arbeidswetgewing oortree nie – veral in gevalle van outomatiese onbillike optrede en in gevalle van ongeregverdigde diskriminasie.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.