Kan jou Bank jou geld sonder jou Toestemming neem?
“A bank is a place that will lend you money if you can prove that you don't need it” (Bob Hope)
‘n Onlangse uitspraak van die Hooggeregshof het uitsluitsel gegee oor die netelige vraag of jou bank geld wat dit namens jou in een rekening hou, mag aanwend vir die vereffening van jou skuld aan die bank in ‘n ander rekening. Dit sonder spesifieke toestemming of kennis aan jou.
Eerstens, wat is “skuldvergelyking”?
Om die belang van hierdie nuwe uitspraak te verstaan, is dit nodig om die gemeenregtelike beginsel van “skuldvergelyking” te bespreek. (Die gemenereg is die ongeskrewe regsbeginsels van ons regstelsel.) In eenvoudige terme laat skuldvergelyking ingevolge die gemenereg toe dat een skuld deur ‘n ander uitgekanselleer mag word. Gestel byvoorbeeld ek skuld vir jou R1,000, maar terselfdertyd skuld jy R900 aan my. Ek is dus beide ‘n skuldeiser en ‘n skuldenaar van jou, en die omgekeerde is ook die geval. Indien ons koppe stamp, kan ek die een skuld van die ander aftrek, met die netto effek dat ek aan jou R100 verskuldig is.
Kredietuitleners, en in besonder banke, het in die verlede dikwels hierdie beginsel gebruik vir die invordering van bedrae wat aan hulle verskuldig mag wees. Indien jy byvoorbeeld agterstallig sou raak met jou verband- of kredietkaartpaaiemente, kon jou bank die agterstallige bedrag summier vanuit jou lopende rekening neem sodra jou salaris inbetaal is. Dit sonder jou toestemming en sonder kennis aan jou.
Banke het nog altyd aangevoer dat hierdie vermoë waaroor hulle beskik dit vir hulle makliker maak om geld uit te leen. Hulle het beweer dat dit hul risiko verlaag deur aan hulle beter sekuriteit te verleen ingeval dinge skeef sou loop. Deur kennis te gee of om toestemming te vra sou, volgens die banke, aan opstandige skuldenaars die geleentheid gee om vinnig die beskikbare fondse uit hul rekeninge te onttrek, en daardeur die invorderingsproses te frustreer. Aan die ander kant van die saak is natuurlik die moontlikheid dat ‘n mens jouself skielik in ‘n posisie kan bevind waar jy nie geld het om van te lewe nie - om nie eers jou ander skuldbetalingsverpligtinge te noem nie. So ‘n situasie is veral moeilik vir diegene in laer inkomstegroepe of wat hope skuld het.
In 2005 verwelkom ons die NKW (Nasionale Kredietwet)...
Hoe die NKW dinge verander het
In breë trekke beperk die NKW (wanneer dit van toepassing is – sien die volgende paragraaf) skuldvergelyking op so ‘n wyse dat die belangrike besluite by die verbruiker self berus. Die verbruiker het die reg om te kies of sy toestemming tot skuldvergelyking nodig is al dan nie, op watter rekeninge en bedrae dit wel toegepas mag word, wanneer dit toegepas mag word, en selfs met betrekking tot watter skulde van die verbruiker dit toegepas mag word.
Is die NKW op jou spesifieke skuld van toepassing? In die meeste gevalle sal die antwoord “ja” wees. In ‘n neutedop (daar is ‘n paar uitsonderings, en ons beveel aan dat jy jou prokureur nader vir spesifieke regsadvies) is die NKW van toepassing op die meeste persoonlike lenings, huislenings, oortrokke fasiliteite, kredietkaartskulde, bate-finansieringsooreenkomste, huurooreenkomste, ensovoorts. Dit dek verbruikers wat individue is, asook sekere regspersone (sekere maatskappye en dies meer – verkry regsadvies indien jy onseker is).
Dit bring ons by die Hooggeregshof
Nieteenstaande die bogenoemde, het minstens een bank (en dit is onwaarskynlik dat dit die enigste een is wat hierdie praktyk toepas) aangehou om gemeenregtelike skuldvergelyking toe te pas sonder hul kliënte se toestemming. Die bank sou met ander woorde fondse vanuit ‘n kliënt se bankrekening neem om die kliënt se skulde ingevolge ‘n ander kredietooreenkoms te vereffen. Die bank het aangevoer dat volgens hulle interpretasie van die NKW, die Wet se beperkinge op skuldvergelyking nie op hierdie omstandighede en op die bank se kredietooreenkomste van toepassing was nie. ‘n Belangrike punt hier was dat die bank se kredietooreenkomste nie enige verwysings na skuldvergelyking bevat het nie. (Waar ‘n ooreenkoms wel skuldvergelyking sou aanspreek, dan sal die NKW se beperkinge beslis van toepassing wees.)
Nadat die Nasionale Kredietreguleerder klagtes van verbruikers hieroor ontvang het, het die Reguleerder die Hooggeregshof genader vir uitleg van die NKW se bepalings en om uitsluitsel oor die regmatigheid van die bank se praktyk te gee.
Die Hooggeregshof se beslissing
Indien die NKW op die spesifieke kredietooreenkoms van toepassing is, dan mag die bank nie gemeenregtelike skuldvergelyking toepas nie, tensy jy skriftelik daartoe ingestem het.
In ‘n neutedop – jy het ‘n keuse! Banke en ander krediet-uitleners moet jou toestemming vra voordat hulle geld vanuit jou een rekening aanwend vir die vereffening van jou skuld in ‘n ander rekening.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.