Hoe om te keer dat Wesenlike bewysstukke vernietig word
“Verras jou vyand” (Uit Sun Tzu se vertaalde werk ‘Art of War’)
Jy vermoed dat iemand wat jy dagvaar (of beplan om te dagvaar) noodsaaklike bewysstukke in hul besit gaan vernietig of verberg. Dalk deur dokumente te versnipper of deur elektroniese rekords uit te wis. Of dalk deur rekenaar-hardeskywe (wat inkriminerende inligting bevat), te verwyder. Jy vrees dat, indien jy nie hierdie bewysstukke tot jou beskikking het nie, jou saak vanuit die staanspoor gekelder is, of ten minste erg benadeel is.
Gelukkig bied ons reg aan jou ‘n kragtige en spoedige remedie. Die “Anton Piller” bevel. Ingevolge so ‘n bevel kan die Hooggeregshof ‘n deursoeking vir, en beslaglegging van die relevante bewysstukke magtig, sodat dit in veilige bewaring gehou kan word tot en met die verhoor.
Verrassingsklopjagte en pogings om te vis vir inligting
Die “Anton Piller” bevel is ‘n drastiese en drakoniese remedie. Om voor-die-hand-liggende redes is dit ‘n “verrassingsklopjag” op die ander party. Deur voor die tyd aan die ander party kennis te gee van jou beoogde hofaansoek sou die doel daarvan verydel word.
Dit beteken dat die ander party ‘n onaangekondige en aansienlike inbraak op sy of haar privaatheid gaan moet verduur. Dit kan weer aanleiding gee tot allerlei ontwrigting en ook potensiële skade aan sy of haar besigheid.
Daarom stel ons howe streng vereistes waaraan voldoen moet word voordat so ‘n bevel in jou guns toegestaan sal word. ‘n Onlangse uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl (HHA) dien as voorbeeld -
- ‘n Ontwikkelaar en ‘n verkoper van rekenaarsagteware was van voorneme om ‘n maatskappy met wie hulle voorheen besigheid gedoen het, te dagvaar vir beweerde kontrakbreuk en onregmatige mededinging. Hulle doen aansoek by die Hooggeregshof en ‘n Anton Piller bevel word toegestaan. Ingevolge die bevel kon die Adjunk-balju, onafhanklike prokureurs en forensiese spesialiste toegang tot die maatskappy verkry vir die deursoeking en beslaglegging van “dokumente wat in die bevel gespesifiseer word, rekenaartoerusting en enige ander bergingstoestelle.” Die bevel is daarna tersyde gestel en die ontwikkelaar nader die HHA vir verlof tot appèl, in ‘n poging om die bevel te herstel.
- Die Hof weier om verlof tot appèl toe te staan. In sy beslissing het die Hof die vereistes vir ‘n Anton Piller bevel (om bewysstukke te bewaar) onder die volgende drie hoofopskrifte ontleed en toegepas–
- Dat jy ‘n eisoorsaak teen die ander party het, wat jy beoog om na te volg. Volgens die Hof het die ontwikkelaar dit wel bewys.
- Dat die ander party “spesifieke dokumente of goed in sy besit het wat noodsaaklike bewysstukke daarstel ter ondersteuning van [jou] eisoorsaak...” Dit, volgens die Hof, het vereis dat die ontwikkelaar die “dokumente wat dit beoog het om te bewaar met die nodige graad van spesifisiteit moes identifiseer.” ‘n “Sambreelsoektog vir ongespesifiseerde dokumente of bewysstukke, wat dalk of dalk nie bestaan nie, word nie toegelaat nie.” Jy moet spesifiek wees.
Volgens die Hof was die ontwikkelaar se saak gebrekkig omdat sy verklarings nie daardie presiese noodsaaklike inligting wat in die besit van [die ander party] was en wat bewaar moes word, voldoende geïdentifiseer of gespesifiseer het nie. Die verklarings het bloot voorgestel dat die geheel van [die ander party] se besigheidsdatabasis deursoek moes word vir ‘n “sleutelwoord”. So ‘n deursoeking was, sê die Hof, “indringend, en ‘n poging om vir inligting te vis deur elke aspek van [die ander party] se besigheid te ondersoek”, wat sensitiewe en vertroulike inligting ingesluit het en waarop die ontwikkelaar nie geregtig was nie.
- Dat jy ‘n eisoorsaak teen die ander party het, wat jy beoog om na te volg. Volgens die Hof het die ontwikkelaar dit wel bewys.
- Dat jy ‘n “grondige vrees of vermoede het dat hierdie bewysstukke verberg or vernietig gaan word, of dat dit op een of ander manier skoonveld gaan wees teen die tyd wat die saak tot verhoor kom...” Maar in hierdie geval, sê die Hof, het die ontwikkelaar nie daarin geslaag om te bewys dat die ander party onbetroubaar of oneerlik was nie. Boonop het die ontwikkelaar “nie daarin geslaag om ‘n feitelike grondslag uiteen te sit waaruit ‘n objektiewe gevolgtrekking gemaak kon word van ‘n grondige vrees of vermoede dat bewysstukke versteek sou word nie.”
- Die Hof het beslis dat in hierdie betrokke aangeleentheid, die bevel “afgewyk het van die basiese veronderstelling waarop Anton Piller-bevele toegestaan word, naamlik om bewysstukke te bewaar, en nie om daarvoor te soek nie” (eie beklemtoning). Verder was die uitvoering van die bevel “niks meer as ‘n poging om vir inligting te vis nie” (eie beklemtoning). Die sagteware-ontwikkelaar kon gevolglik nie daarin slaag om sy Anton Piller bevel te herstel nie.
Provided by Darrolls Attorneys, Notaries & Conveyancers
© DotNews. All Rights Reserved.