Stel jou testament vandag nog op. Vier goeie redes om dit eerder vroeër as later te doen
Testaat of Intestaat?
Jou geliefdes sal ‘n reeks van wetlike en finansiële uitdagings moet hanteer, as jy “intestaat” (sonder ‘n geldige testament) te sterwe kom.
Slegs deur ‘n geldige testament op te stel en te onderteken kan jy jou geliefdes teen hierdie uitdagings beskerm -
- Jou geliefdes se finansiële sekuriteit kan letterlik op die spel wees as jy sterf sonder om ‘n testament na te laat. In so ‘n geval bepaal die Wet op Intestate Erfopvolging hoe jou boedel moet vererf; nie jy nie. Jy kan dalk ‘n geliefde onwetend tot ‘n lewe van swaarkry en ellende veroordeel. ‘n Voorbeeld is wanneer jou eggenoot op slegs ‘n kindsdeel van jou boedel moet oorleef.
- Met ‘n testament kan jy ook self jou eksekuteur kies en benoem. Jy soek iemand wat jou boedel onafhanklik, kundig en met die minimum van oponthoude kan afhandel. Om ‘n boedel goed te beredder is ‘n gespesialiseerde funksie. Dit vra vir gespesialiseerde kundiges om jou boedel met verantwoordelikheid en kundigheid te beredder. Maak ‘n goeie en ingeligte keuse.
- Jy kan ook in jou testament ‘n geskikte voog nomineer vir jou minderjarige kinders. Jy kan ook verseker dat jou minderjarige kinders se fondse behoorlik met ‘n testamentêre trust beskerm word. (Die alternatief is dat jou erflating aan minderjariges deur die regering se Voogdyfonds administreer gaan word; dalk nie heeltemal wat jy in gedagte het nie.)
- Jy kan ook in jou testament duidelike aanwysings aan jou naasbestaandes gee oor praktiese aspekte soos of jy begrawe of veras moet word.
Wie moet ‘n testament maak? Wanneer moet ‘n testament gemaak word?
Niemand wil ooit dink aan die dood nie, maar ons gaan almal vroeër of later sterf. Selfs die jongste en gesondste van ons kan in ‘n oogwink, vandag of môre te sterwe kom. Ons weet die dood is uiteindelik ons almal se voorland, ons weet net nie wanneer dit sal gebeur nie.
Nie een van ons kan bekostig om dit uit te stel nie – laat jou testament sommer vandag nog opstel; of begin ten minste met die proses.
Hoe moet jou testament opgestel word? Doen dit op die regte manier.
“It is a never-ending source of amazement that so many people rely on untrained advisors when preparing their wills, one of the most important documents they are ever likely to sign.” (Aldus ‘n opmerking uit ‘n 2012 uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl.)
Daar is geen plaasvervanger vir professionele advies en bystand nie. Vir jou testament om geldig te wees, moet dit voldoen aan verskeie wetlike vereistes, insluitende streng reëls oor die ondertekening daarvan en die getuies daartoe.
Afgesien van die wetlike vereistes, moet ‘n testament ook bondig en ondubbelsinnig wees. ‘n Testament wat slordig opgestel of verly is, kan as gevolg daarvan ongeldig wees. Standaard testamente hou veral vir die oningeligte opsteller gevare in. Selfs ‘n testament wat tegnies geldig is, kan rampspoedige gevolge inhou, as dit nie jou spesifieke behoeftes duidelik en eenvoudig aanspreek nie. So ‘n testament hou onder andere die gevaar van duur en onsmaaklike litigasie in. Moontlik verleen dit nie die nodige voorsiening en beskerming aan jou kinders nie. Dit kan ook as gevolg van gebrekkige of swak boedelbeplanning, ondoeltreffend met belastinggevolge handel.
Ons hofuitsprake bevat genoeg gevalle van bittere en duur familiegeskille wat eenvoudig deur ‘n beter testament vermy kon gewees het. Hierdie is ernstige sake en niemand kan bekostig om kortpaadjies te neem nie. As dinge verkeerd loop, gaan dit jou geliefdes wees wat die prys op een of ander manier gaan betaal.
Twee verdere noodsaaklikhede
Indien jy ‘n behoorlik opgestelde en geldige testament in plek het, moet jy die volgende in gedagte hou:
- Veilige bewaring: Jou testament moet veilig bewaar word. Sê vir jou erfgename waar jou testament is en wie jy as jou boedel se eksekuteur genomineer het.
- Tydige hersiening van jou testament: Hierdie is ‘n noodsaaklike aspek waaraan jy moet aandag gee. Jou omstandighede sal voortdurend verander en daarmee saam moet jy jou testament ook verander. Dink aan lewensgebeurtenisse wat ‘n omwenteling in jou lewe en toekomsbeplanning meebring. Dink aan gebeurtenisse soos trou, egskeiding, dood, geboortes, aftrede en dies meer. Jy moet jou situasie in heroorweging neem en goeie advies inwin. Jy kan jou testament verander met ‘n geldige kodisil (testamentêre wysiging of aanvulling tot ‘n bestaande testament) indien dit ‘n eenvoudige wysiging of toevoeging is. Om enige onduidelikheid te voorkom, is dit verkieslik dat jy eerder ‘n nuwe testament laat opstel om die wysigings of toevoegings in geheel te inkorporeer.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.