Verhuurders En Ondernemingsredding – Ken Jou Regte
‘n Aangestelde ondernemingsreddingspraktisyn van ‘n maatskappy, wat aangestel is om die reddingsproses te hanteer, het byvoorbeeld die mag om enige van die maatskappy se verpligtinge vir die duur van die proses op te skort. ‘n Bestaande skuldeiser kan ook nie regstappe teen die maatskappy neem, sonder magtiging van die Hof of die toestemming van die ondernemingsreddingspraktisyn nie.
Wat staan die verhuurder dan te doen as sy huurder formeel in ondernemingsredding verkeer?
‘n Onlangse saak in die Hoë Hof illustreer hierdie punt.
Die feite: Die verhaal van die kwynende nagklub
- Hier het ‘n BK ‘n nagklub besit en bedryf. Die nagklub was agterstallig met sy huur. Die huurder het die verhuurder om en by R200,000 in agterstallige huur geskuld. (Teen die einde van hierdie verhaal het hierdie agterstallige bedrag op ongeveer R600,000 gestaan.)
- Die BK het finansiële probleme ervaar en dit is in ondernemingsredding geplaas. Die ondernemingsreddingpraktisyns het die verhuurder in kennis gestel dat hulle die huurooreenkoms eensydiglik vir die duur van die ondernemingsreddingsproses opgeskort het.
- Die verhuurder het betaling van die ondernemingsreddingspraktisyns aangevra. Toe sodanige betaling nie gemaak is nie, het die verhuurder die huurkontrak gekanselleer en geëis dat die BK die perseel ontruim.
- Die ondernemingsreddingspraktisyns het egter voortgegaan om in die perseel handel te dryf, sonder om enige huurbetalings te maak. Hulle het later die ondernemingsreddingsproses laat vaar en aansoek gedoen om likwidasie van die BK toe daar geen vooruitsig op ‘n suksesvolle omkeer van die besigheid was nie.
- Die verhuurder het die hof genader om bevestiging dat die huurkontrak op geldige wyse gekanselleer is en om ‘n bevel vir die uitsetting van die nagklub.
Die verhuurder en die wet
Die hof bevind as volg ten gunste van die verhuurder: -
- Die verhuurder kon nie eis vir verskuldigde huur ten opsigte van die periode nadat ondernemingsredding ‘n aanvang geneem het nie.
- Die verhuurder kon egter wel eis vir verskuldigde huur ten opsigte van die periode voordat ondernemingsredding begin het.
- Die huurkontrak is op regsgeldige wyse gekanselleer tydens die ondernemingsreddingsverrigtinge en die uitsettingsbevel is toegestaan.
- Hierdie is goeie nuus vir verhuurders in die algemeen. Dit beteken dat die aanvang van ondernemingsredding nie die verhuurder verhoed om die huurkontrak te kanselleer nie.
Onthou net …..
Jy sal wel tydens ondernemingsreddingsverrrigtinge ‘n hofbevel (of die ondernemingsreddingspraktisyn se toestemming) benodig voordat jy met enige regsprosesse kan begin.
Wanneer die ondernemingsredding reeds misluk het en likwidasie op hande is (soos in hierdie geval), sal jy waarskynlik toestemming kry. Indien die hof bevind dat die huurkontrak regsgeldig gekanselleer is, mag die hof selfs beslis dat jy nie verdere toestemming van die hof benodig vir ‘n uitsettingsaansoek nie.
Indien daar nog ‘n kans is dat die ondernemingsredding suksesvol mag wees, kan die uitslag heel anders wees. In so ‘n geval kan die hof byvoorbeeld bevind dat jy wel toestemming benodig en selfs weier om dit te verleen, aangesien dit die ondernemingsredding in gedrang sal bring.
Die feite en spesifieke omstandighede gaan in elke geval anders wees. Verkry toegepaste advies oor jou spesifieke omstandighede.
Provided by Darrolls Attorneys, Notaries & Conveyancers
© DotNews. All Rights Reserved.