Eiendomstransaksies – Pasop vir die wolf in skaapsklere!
“Pasop vir die wolf in skaapsklere” (Uit een van Esopus se fabels.)
Misdaadvlakke in die kuberruim neem drasties toe. Wanneer jy vaste eiendom koop of verkoop raak jy outomaties ‘n aantreklike teiken. Die redes is voor die hand liggend –
-
Daar is altyd groot bedrae geld by eiendomstransaksies betrokke.
- Elektroniese kommunikasie tussen prokureurs en kliënte is vandag die deursnee manier van kommunikeer. Dit skep ‘n vrugbare teelaarde vir die onderskepping van kommunikasie en daaropvolgende misleiding.
Kyk na hierdie nagmerrie situasie
Jy het jou eiendom verkoop vir ‘n ronde R5 miljoen. Jy kry bevestiging dat die transaksie deur is en dat oordrag in die aktekantoor geregistreer het. Wanneer jy op jou genomineerde bankrekening, Bankrekening A, ingaan, sien jy egter nog geen fondse wat reflekteer nie. Dan skakel jy die prokureurs wat die oordrag namens jou hanteer het. Hulle is baie vinnig om aan jou te bevestig dat hulle wel die fondse oorbetaal het en wel na rekening B ingevolge jou onlangse skriftelike instruksie wat jy aan hul kantoor versend het. Rekening B is egter deur ‘n kuberskelm opgestel, die fondse is soontoe oorgeplaas en intussen onttrek. Hier is probleme en skielik is jou hele opbrengs waarskynlik reeds weg. Wat het gebeur?
Hoe die skema werk
Kubermisdadigers is aktief en aan die voorpunt van die gebruik van tegnologie vir duistere redes. Daar is legio skemas waarby hulle betrokke is; ons kyk na die twee wat tans algemeen voorkom: –
- Jou prokureurs se betaling aan jou: As die verkoper gee jy opdrag aan jou prokureurs om die opbrengs van die transaksie na jou genomineerde bankrekening oor te betaal. Voor oordrag – dikwels op die laaste nippertjie – kry die prokureurs ‘n e-pos wat lyk of dit van jou af kom, met die besonderhede van jou nuwe “bankrekening B” wat jy onlangs verander het. Saam met dit dan die versoek of “opdrag” dat jou hele opbrengs na jou nuwe bankrekening oorbetaal moet word. Jou e-pos kommunikasie tussen jou en jou prokureur is onderskep en jou besonderhede is gekloon. As die prokureurs die geld na bankrekening B oorbetaal het, is jou geld weg!
- Jou betalings aan jou prokureurs: Die risiko is waar die koper die gehele of gedeeltelike betaling vir die eiendom by die oordragprokureurs moet inbetaal. Hereregte en oordragskostes kan ook wesentlike bedrae uitmaak. Die verkoper betaal weer vir verbandkansellasie en kommissie aan die eiendomsagente.
Die kuberskelms gaan op soortgelyke manier te werk om die inligting te onderskep. Hierdie keer kry jy ‘n formele skrywe van “die prokureurs” met besonderhede van Bankrekening C waarin jy die oorbetalings vir die transaksie moet betaal. Die kommunikasie lyk natuurlik eg, met logos en kontakbesonderhede daarop, maar die skrywe is nie regtig van die prokureurs af nie. Die bankrekening bestaan wel, maar dit is natuurlik ook nie die prokureurs se rekening nie.
Die inligting oor die bankrekening mag in die e-pos self wees of in ‘n aanhangsel aangedui word. Die e-pos mag ‘n kennisgewing wees dat die bankrekeningbesonderhede verander het of dit kan bloot ingesluit word op die veronderstelling dat jy nie eers sal agterkom dat die bankrekeningbesonderhede verskil van die vorige skrywes nie.
Bankrekening C het geen verbintenis met die prokureurs se trustrekening nie. Wanneer jy dan geld hierheen oorplaas, is die fondse binnekort net weg.
Hoe kan ek myself beskerm?
Die probleem onstaan gewoonlik met die onderskepping van e-pos kommunikasie of met die oes van inligting aanlyn.
Die volgende is erkende maniere om jou risiko te beperk-
-
Maak seker dat jou rekenaar se anti-virus, “anti-malware” en ander sagteware vir rekenaarsekuriteit op datum is en vind uit hoe om jou teen “phishing” en ander duistere aktiwiteite te beskerm. (Sien bv. Nedbank se “Fraud Awareness” blad hier.) Wees in die algemeen versigtig met alle vorme van elektroniese kommunikasie – selfs kommunikasie wat van ‘n betroubare bron soos jou prokureur of ouditeur af kom.
-
Kyk na die riglyne vervat in die artikel “Is That Sender For Real? Three Ways to Verify the Identity of An Email” op FRSecure se blog. Al die wenke daarin vervat is belangrik, maar gebruik ten minste die wenke om vas te stel waar die e-pos vandaan kom. Kyk dan na jou vorige korrespondensie om te sien of die besonderhede ooreenstem met die besonderhede van die aanvanklike korrespondensie toe die oordragsproses begin het.
-
Wees versigtig. As iets nie reg voel nie of nie reg lyk nie, mag daar ‘n goeie rede daarvoor wees. Dalk word slegs ‘n selfoonnommer gegee of word ‘n generiese e-pos adres soos Gmail gebruik. Dalk is die bewoording vreemd of die adres lyk nie reg nie. As iets jou pla, ondersoek verder en maak seker dat alles in orde is.
- Die belangrikste is om nie net ‘n e-pos te aanvaar waarin jy kennis kry dat die prokureursfirma se bankrekeningbesonderhede verander het nie. Besoek hulle persoonlik of bevestig dit telefonies om seker te maak hieroor. Moet ook nie die telefoonnommer gebruik wat in die gewraakte e-pos aangedui word nie; verkry die nommer by ‘n alternatiewe bron!
‘n Laaste gedagte – is jy dalk die swakste skakel in die ketting?
As die kliënt kan jy nie net staatmaak op jou prokureurs om seker te maak dat hul netwerke veilig en hul prosedures gevolg word nie. Dink aan hoe banke streng veiligheidsprotokolle volg en tog hoor ons gereeld van bankkliënte wie se kaarte gekloon is of op ander maniere ingeloop is. Indien jou eie rekenaar, netwerk of jou optrede die swakste skakel in die ketting is, dan is dit wat die kuberskelms gaan teiken en uitbuit!
Gebruik die wenke hierbo om jouself te beskerm. Indien jy enigsinds ongemaklik is oor enige wysigings of instruksies, moet nie enige kanse vat nie – kontak jou prokureurs om sekerheid hieroor te verkry.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.