Die Regspersoon en die Agterstallige Heffings
Daar is soms ‘n onvoorsiene angel
Heffings is die lewensaar van ‘n gesonde deeltitelskema. Die regspersoon moet toesien dat heffings ingevorder word. Bestuursagente stuur maandelikse state uit, agterstallige rekeninge word as ‘n reël vir invordering oorhandig en in uitsonderlike gevalle kan die regspersoon besluit om die agterstallige eienaar te laat sekwestreer. Dikwels is die blote kennisgewing dat ‘n aansoek vir sekwestrasie gaan volg, voldoende om die agterstallige heffings in te vorder.
Daar is wel ‘n angel wat in sommige gevalle ‘n pynlike ervaring kan wees. Dit is die risiko dat ‘n skuldeiser verplig kan word om ‘n bydrae tot sekwestrasiekostes te maak. In ‘n neutedop, wanneer daar nie voldoende fondse in ‘n insolvente boedel gevind word nie, kan skuldeisers verplig word om ‘n bydrae te maak om die sekwestrasiekostes te betaal. Dit is ‘n uiterste geval van sout in die wonde vryf.
‘n Tekort van R46 000 – Moet die regspersoon bydrae?
-
'n Regspersoon het geslaag in hul aansoek om die boedel van ‘n nie-betalende eienaar in ‘n deeltitelskema te laat sekwestreer.
-
Daar was twee verbande oor die eiendom geregistreer. Beide banke het hul eise teen die boedel ingedien. As gevolg van die voorsiene bydrae tot kostes het geen ander skuldeisers eise teen die boedel ingedien nie. Die trustee van die insolvente boedel het die likwidasierekeninge opgestel en het daarin voorsiening gemaak dat die twee banke die tekort van R46 663,16 pro rata tussen hulle sou betaal.
-
Die banke het beswaar gemaak teen hierdie verdeling. Hulle wys daarop dat die aansoek vir sekwestrasie deur die Regspersoon gebring is. Al het die Regspersoon nie hul eis bewys nie, behoort dit ook pro rata by te drae tot die sekwestrasiekostes. Die Meester bevind dat die Regspersoon nie ‘n bydrae hoef te maak nie; die eis is vir agterstallige heffings. Sodanige heffings moet in elk geval regtens tydens die verkoop van die eiendom as ‘n voorkeur betaal word; dit is nie nodig om ‘n formele eis in te dien vir die bewys van agterstallige heffings nie.
- Die banke het die Hooggeregshof genader om hierdie bevinding van die Meester tersyde te stel. Die hof gee die banke gelyk. Die hof bevind dat in gevalle waar die regspersoon die voortou met regsaksie neem, sal die regspersoon ook verplig wees om, saam met die verbandhouers, pro rata by te drae tot enige tekorte met die kostes van sekwestrasie.
Voordat die trustees van ‘n regspersoon sou besluit om aansoek te doen vir die sekwestrasie van ‘n eienaar om agtestallige heffings te verhaal, moet hul seker maak dat daar nie ‘n risiko bestaan dat hulle ‘n bydrae sal moet maak tot die kostes van sekwestrasie nie.
Provided by Matthews Enslin Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.