Boetes vir Erkenning van Skuld gedurende die Inperking – Die Risiko van ’n Kriminele Rekord
Indien jy hiervan aangekla word, sal daar waarskynlik geleentheid wees om ‘n boete te betaal en skuld te erken. Wees versigtig voordat jy dit doen. Dit is dikwels die maklikste opsie om ‘n onaangename situasie af te handel, maar dit kan inhou dat jy ‘n kriminele rekord verkry.
Jy wil nie ‘n kriminele rekord hê nie!
‘n Kriminele rekord hou vir jou ernstige en lewenslange negatiewe gevolge in. Selfs ‘n langvergete geringe oortreding kan in die agtergrond skuil totdat dit op die slegste moontlike tyd na vore kom. Dink maar daaraan wanneer jy aansoek doen vir ‘n nuwe werk of aansoek doen vir ‘n reisigersvisum.
Waar is die grootste risiko?
Indien jy gearresteer word, die polisie ‘n dossier open en jou vingerafdrukke neem, en jy daarna in ‘n hof aangekla en skuldig bevind word, sal jy ‘n kriminele rekord hê.
Die probleem met ‘n erkenning van skuld is dat dit jou met ‘n “geagte” skuldigbevinding en vonnis kan los wat op die databasis van die SAPD se Kriminele Rekord Sentrum (“CRC”) sal verskyn. In die verlede was daar sprake dat die CRC skuldigbevindings net met jou naam en Identiteitsnommer sou kon opneem; die werklike risiko is egter wanneer jou vingerafdrukke geneem is.
Dit is nie maklik om van ‘n kriminele rekord ontslae te raak nie
Wanneer jy eers ‘n rekord het, is dit ook nie maklik om daarvan ontslae te raak nie.
- Jy sou eerstens kon aansoek doen vir die “skrapping” van die skuldigbevinding om dit van die CRC se databasis te verwyder. Hierdie opsie is slegs beskikbaar na ‘n tydverloop van 10 jaar, en ook net vir sekere “geringe oortredings”. Volgens die SAPD neem dit ook tussen 20 en 28 weke om so ‘n aansoek te verwerk. Sekere geringe oortredings verval outomaties na 10 jaar. Verkry spesifieke advies hieroor.
- Tweedens sou jy ‘n hof kon nader om jou skuldigbevinding en vonnis ter syde te stel. Hierdie is ‘n duur en tydsame proses sonder enige waarborg van sukses.
- Laastens sou jy kon hoop op toekomstige wysigings van ons strafproseswet, wat terugwerkend tot jou hulp kom. Op hierdie stadium is dit egter bloot spekulatief en is daar niks in die pyplyn nie.
Provided by Simpson Inc
© DotNews. All Rights Reserved.