Die Pandemie en Dekking vir Sake-onderbreking – Kan jy Eis?
“…it must be asked whether, but for the Covid-19 outbreak, the interruption or interference to the Applicant's business would have occurred when the Lockdown Regulations were promulgated” (uit hierdie uitspraak)
Die media is onlangs oorstroom met berigte oor ’n uitspraak van die Hooggeregshof oor versekering. Hierdie saak het oor ’n restaurant se versekeringseise vir sake-onderbreking, waarvoor hulle dekking uitgeneem het, gehandel.
Soos vele sakeondernemings van regoor die spektrum, het die betrokke restaurant ernstige verliese gely. Dit moes aanvanklik noodgedwonge sluit (en kon daarna slegs onder uiters beperkende omstandighede bedryf word) as gevolg van die inperking. Die restaurant het ingevolge die “Aanmeldbare, aansteeklike Siektes Bepaling” en vol hoop ‘n eis by hulle versekeraars ingedien. Hul polis was reeds van 2007 in stand en hulle het dit jaarliks hernu. Die versekeraars het hul eis afgewys.
Wat het jou besigheid se verlies veroorsaak? Daar is twee aspekte wat jy moet bewys.
Na afwysing van die versekeringseis, het die restaurant hul versekeraars gedagvaar. Die versekeraars het ‘n hele paar verwere aangebied; al hierdie verwere is uiteindelik deur die hof verwerp.
Die meeste besighede sal wil weet of die bewoording van hul spesifieke polisse dekking verseker. Is daar dekking vir aanmeldbare, aansteeklike siektetoestande? In hierdie geval was hierdie dekking gratis bygevoeg tot die polis. Die vraag is of dit dekking bied vir verliese in hierdie spesifike omstandighede waar die verliese deur die siektetoestand en die daaropvolgende grendelbeperkings van die staat se kant af veroorsaak is?
Hierdie klousule het dekking gebied in gevalle waar die besigheid onderbreek of benadeel is as gevolg van aanmeldbare siektes wat in ‘n radius van 50 kilometer van die besigheidsperseel uitgebreek het.
Die versekeraar voer aan dat dekking net beskikbaar is waar die onderbreking as gevolg van die siekte self is; nie waar verliese as gevolg van ander faktore gely is nie. Hiervolgens is die verlies nie deur die Covid 19 siekte veroorsaak nie, maar as gevolg van die grendelinperking van die regering, wat nie gedek is nie. Die versekeraar voer verder aan dat daar nie ‘n voldoende verband is tussen die siekte en die restaurant se werklike verlies nie, en dat die restaurant spesifieke en bykomende versekering daarvoor moes uitgeneem het.
Die hof bevind dat die restaurant twee aspekte moes bewys het : –
- “Dat Covid-19 as ‘n aanmeldbare siekte bygedra het tot die grendelstaat regulasies wat die restaurant se eis veroorsaak het. Hierdie is ‘n feitelike ondersoek en as dit nie die geval was nie, sal die restaurant nie ‘n eis hê nie.”
- “As dit wel die geval is, dan vra ons of die verlies direk of naby genoeg verwant is aan die oorsaak, in so ‘n mate dat die verlies regtens hieraan toegeskryf kan word.”
So, het jy dekking?
Die versekeraars het reeds aangedui dat hulle die bevinding van die hof op appèl gaan neem. Die versekeraars as ‘n geheel sien natuurlik ‘n groot getal eise wat op hulle wag. Die bewoording van jou spesifieke polis mag reeds heel duidelik wees hieroor en vir jou volle dekking bied. Daar is wel versekeraars wat eise uitbetaal. Volgens baie onlangse mediaberigte gaan sommige versekeraars wel beperkte tussentydse betalings maak. Elke geval en elke saak moet op sy eie feite, ooreenkomste en die toepaslike reg beslis word.
Provided by Chennells Albertyn Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.