Ontslaan: Die Slagter wat met COVID-19 werk toe gegaan het
“The facts of this case are indeed extraordinary. They are indicative of the need for more to be done at both the workplace and in our communities, in ensuring that employers, employees, and the general populace are sensitised to the realities of this pandemic, and to further reinforce the obligations of employers and employees in the face of, or event of an exposure to COVID-19” (Uit hierdie uitspraak geneem.)
Die COVID-19 pandemie stel beide werkgewers en werknemers bloot aan verskeie risiko’s. Een hiervan is dat geïnfekteerde werknemers steeds werk toe kom en daardeur die lewens van hul kollegas, hul kliënte en van enige ander persone met wie hul paaie kruis, in gevaar stel.
Die Arbeidshof sal beslis optree in gevalle waar werknemers nie die gesondheids- en veiligheidsprotokolle nakom nie.
Die slagter wat positief getoets het vir COVID 19, en wat steeds by sy werk aangemeld het.
- ‘n Assistent slaghuisbestuurder was in diens van ‘n slaghuis met takke regoor die land. Die werknemer het vir drie dae lank by die werk aangemeld nadat hy reeds positief vir die COVID 19 virus getoets het. Hy het by sy werkplek rondbeweeg sonder om ‘n masker te dra en het selfs ‘n kollega wat aan ‘n harttoestand ly, ‘n druk gegee.
- Hy is van growwe wangedrag en van nalatigheid aangekla. In die eerste plek omdat hy nie openbaar het dat hy reeds vir COVID 19 getoets was nie en dat hy vir die uitslag gewag het. Verder omdat hy, nadat hy positief getoets het en die uitslag ontvang het; die lewens van sy kollegas en kliënte in gevaar gestel het deur werk toe te kom, terwyl hy in self-isolasie moes wees; die gesondheids- en veiligheidsprotokolle moes volg en sosiale afstand moes handhaaf.
- Die werkgewer het die werknemers deurlopend op die COVID 19 beleid, prosedures, reëls en protokolle gewys. Die spesifieke werknemer was deel van die werkplek se “Coronavirus Site Committee”. Hulle was daarvoor verantwoordelik om COVID 19 plakkate regdeur die werkplek aan te bring. Hierdeur is werknemers in kennis gestel oor hoe om op te tree wanneer hul vermoed dat hul COVID 19 onder lede het, of blootstelling daaraan verkry het, en ook die simptomes waarvoor hulle moet oplet.
- Die werknemer is na ‘n dissiplinêre verhoor ontslaan. Hy het die saak na die KVBA (Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie) oftewel die CCMA verwys. Die CCMA bevind hom wel skuldig maar bevind dan onder die omstandighede dat ontslag nie gepas sal wees nie. Die CCMA bepaal dan dat die werknemer met terugwerkende krag weer in diens geneem moet word, sonder vergoeding vir die tyd vandat hy ontslaan was, en dat ‘n finale skriftelike waarskuwing op sy rekord aangeteken moet word.
- Die werkgewer neem hierdie bevinding op hersiening na die Arbeidshof. Die Arbeidshof bevind dan dat die ontslag wel billik en geregverdig was: “[his] conduct was not only irresponsible and reckless, but was also inconsiderate and nonchalant in the extreme. He had ignored all health and safety warnings, advice, protocols, policies and procedures put in place at the workplace related to COVID-19, of which he was fairly aware of given his status not only as a manager but also part of the ‘Coronavirus Site Committee’.”
- Hy het oneerlik opgetree, en hierdeur het hy onnodige skade aan sy werkgewer berokken en onnodige stres en angs by sy kollegas en hul gesinne en naasbestaandes veroorsaak. Hy het nie enige berou getoon nie en hy het die vetrouensverhouding tussen hom en sy kollegas en tussen hom en sy werkgewer onherroeplik geskaad.
Die hof waarsku werkgewers
Die hof het ook die werkgewer kort gevat. Die werkgewer kan nie net aangaan asof daar geen pandemie is nie. Die pandemie is dodelik. Maskers is verpligtend; sosiale afstand moet ten alle koste gehandhaaf word en drukkies en fisiese kontak tussen werknemers is taboe. Die COVID 19 beleide en protokolle moet nagekom word.
Soos die hof dit stel: Die feite in hierdie geval dui daarop dat die werkgewer ook introspeksie moet doen. Alle werkgewers moet ondersoek doen en bepaal of hul gesondheids- en veiligheidsprotokolle ernstig genoeg opgeneem en toegepas word. Dit is een ding om omvattende gesondheids- en veiligheidsprotokolle op papier in plek te hê. Dit help egter niks as niemand nie, ook nie die werkgewer self dit ernstig opneem nie.
Provided by Simpson Inc
© DotNews. All Rights Reserved.