Kan jy jou huweliksbedeling verander, nadat julle reeds in die huwelik getree het?
“A journey is like marriage. The certain way to be wrong is to think you control it” (John Steinbeck)
Een van die belangrikste besluite wat julle gesamentlik moet neem voordat julle in die huwelik tree is die gepaste huweliksgoederebedeling vir jul huwelik.
Julle het drie keuses –
- Huwelik in gemeenskap van goedere: Hierdie is die verstekopsie in Suid Afrika. As die huwelikspartye nie voor die huwelik ‘n skriftelike huweliksooreenkoms met mekaar aangaan wat notarieel verly is nie, is die partye in gemeenskap van goedere met mekaar getroud Jul bates en laste word as ‘n eenheid beskou en word regtens as een boedel hanteer. Al is dit die verstekopsie, word hierdie huweliksbedeling nie aanbeveel nie. Jy wil nie teruggehou word deur die swak kredietrekord van jou gade nie, of ‘n verbandaansoek wat afgekeur word nie of selfs met ‘n aansoek vir sekwestrasie gekonfronteer word as gevolg van die skulde van jou gade nie. Daar is net een boedel so as daar finansiële probleme ontstaan, is beide huwelikspartye in dieselfde lekkende bootjie en beide is op risiko om alles te verloor.
- Huwelik buite gemeenskap van goed met die toepassing van die aanwasbedeling: Hierdie is by verre die mees gewilde en mees gepaste huweliksbedeling. Elkeen kan sy eie bates behou en skulde aangaan en bates in sy eie naam opbou. In die geval van egskeiding of dood bepaal die partye die groei of aanwas in elke boedel en moet daar dan ‘n aanpassing tussen die partye se boedels gemaak word sodat die partye gelykop deel in die aanwas wat tydens die huwelik opgebou is.
- Huwelik buite gemeenskap van goed met die uitsluiting van die aanwasbedeling: Elke huweliksparty behou sy eie boedel, en daar is geen aanpassing of deel in die ander party se aanwas nie. Dit kan gepas wees waar die huwelikspartye reeds ouer is en reeds hul onderskeie bates opgebou het, of in geval van ‘n tweede huwelik waar die partye ook reeds bates en boedels opgebou het; of waar daar kinders uit vorige huwelike gebore is.
“Ons het getrou sonder om ‘n HVK aan te gaan; wat kan ons doen?”
Dit gebeur soms dat huwelikspartye in die huwelik tree sonder om eers daaraan te dink om ‘n huweliksvoorwaardekontrak aan te gaan. Dit beteken dat hulle in gemeenskap van goed getroud is, met alles wat daarmee saamgaan.
Of anders dink hulle daaraan, maar neem ‘n verkeerde besluit oor hul huweliksgoederebedeling. Totdat jy die dag aansoek doen vir ‘n verbandlening, maar afgekeur word as gevolg van jou gade se swak kredietgeskiedenis. Dan ondersoek jy skielik weer al jou opsies.
Dit is darem nie alles verlore nie. Dit is wel moontlik om die hof te nader vir toestemming om ‘n Nahuwelikse kontrak aan te gaan.
Die slegte nuus is dat ons nou praat van ‘n omvangryke aansoek in die Hooggeregshof met verskeie voorskrifte en vereistes waaraan voldoen moet word.
‘n Hofbevel is ‘n vereiste
Die Wet op Huweliksgoedere maak uitdruklik daarvoor voorsiening dat ‘n getroude paartjie die hof gesamentlik op aansoek kan nader vir toestemming om hul huweliksgoederebedeling te wysig.
Julle sal die hof van die volgende drie aspekte moet oortuig:–
- dat daar goeie redes vir die beoogde wysiging bestaan;
- dat daar voldoende kennis van die beoogde wysigings aan al die skuldeisers van beide die huwelikspartye gegee is;
- dat geen ander party of persoon deur die beoogde wysigings benadeel sal word nie.
Die huwelikspartye wat nie die hof se toestemming verkry het nie
- ‘n Paartjie het in die huwelik getree, met ‘n HVK en met die uitdruklike uitsluiting van die aanwasbedeling.
- Hierna het die vrou ‘n ooreenkoms opgestel, as ‘n sogenaamde “versekeringspolis” om haar onsekerhede aan te spreek in die geval van ‘n egskeiding. Die man het ingestem om hul geregistreerde huweliksvoorwaardekontrak tersyde te stel en om te bepaal dat sy vrou geregtig was op die helfte van sy boedel.
- Hy was aanvanklik huiwerig om dit te doen, maar hy het wel die latere ooreenkoms geteken. Die “vervangende” ooreenkoms was egter nie soos vereis deur die hof goedgekeur nie, hulle het dit onderling geteken en aan hul vriende gegee om dit in bewaring te hou.
- Tydens die daaropvolgende egskeiding moes die vrou afstand doen van haar hoofeis (dat die vervangende ooreenkoms geldig en bindend op hulle sou wees) omdat die vereiste hofbevel nooit verkry is wat hulle sou toelaat om die wysiging aan te gaan en te registreer nie.
- As alternatief het sy aangevoer dat die ooreenkoms wel afdwingbaar sou wees as ‘n ooreenkoms wat die huwelikspartye in antisipasie van hul egskeiding aangegaan het. Die Appèlhof was nie hiervoor te vinde nie en bevind op die feite dat die partye ‘n normale huweliksverhouding gehad het, na die aangaan van die nuwe ooreenkoms. Die vrou kon dus nie bewys dat die partye reeds ‘n egskeiding in gedagte gehad het, toe die nuwe ooreenkoms tussen hulle gesluit is nie.
- Die Grondwetlike Hof het die bevinding van die Appèlhof gesteun en het geweier om verdere verlof tot appèl te verleen.
Praat met jou prokureur oor die gepaste huweliksgoederebedeling voordat jy in die huwelik tree. As jy dit nie gedoen het nie of as julle dalk later van mening verander, sal beide van julle as huwelikspartye die hof gesamentlik moet nader vir die nodige toestemming om dit te verander.
Provided by DGA - Debra Gouws Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.