Die Burokraat wat nie sy plig wil doen nie – Persoonlike aanspreeklikheid kan dalk help.
Die oorgrote meerderheid van staatsamptenare mag dalk bevoeg en eerlik wees en ons volle ondersteuning verdien, maar daar sal altyd ‘n paar uitsonderings wees.
Ons het almal ons deurlopende uitdagings met die burokrasie. Waar dit aanleiding gee tot beduidende verliese, raadpleeg gerus jou prokureur, maar doen dit vinnig. Indien dit nodig is om te dagvaar het jy slegs ses maande om ‘n eis teen die staat in te stel.
Dit is natuurlik beter om die risiko van litigasie geheel en al te voorkom deur ‘n amptenaar te motiveer om sy of haar werk in die eerste plek behoorlik te doen. Terwyl jou dreigemente van litigasie jou dalk kan help om diens te kry, is daar egter ‘n onderliggende probleem. Indien jy wel litigeer en jy jou saak wen, is dit die regering wat jou skade en regskostes betaal, nie die amptenaar nie. Dit is dus jy en ek as belastingbetalers wat uiteindelik vir die gelag moet betaal.
Vir die minderheid van staatsamptenare wat dink dat hulle ons grondwetlike regte kan vertrap, is daar slegte nuus. Ons howe het duidelik te kenne gegee dat hulle sulke optrede nie meer straffeloos sal duld nie.
Hoe help die uitspraak in die krisis oor Maatskaplike Toelae ons
In die Grondwetlike hofsaak betreffende SASSA en die uitbetaling van maatskaplike toelae loop die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling die gevaar om (op datum van hierdie skrywe) persoonlike aanspreeklik gehou te word vir die miljoene in regskostes wat tot op hede deur die rolspelers aangegaan is.
Die Minister moet by wyse van beëdigde verklaring redes verskaf hoekom sy nie persoonlik vir die regskostes aanspreeklik gehou moet word nie. Dit sal interessant wees om te sien watter redes sy gaan aanbied. Die hof het reeds bevind dat die ampsdraer wat uiteindelik vir die krisis en die gebeure verantwoordelik is, die persoon is wat die uitvoerende politieke amp beklee. Dit is die minister wat in terme van die Grondwet verplig is om aan die Parlement verantwoording te doen. Dit is die Minister en die Minister alleen.
Ongeag die uitkoms hierin bly dit ‘n duidelike waarskuwing van die hoogste hof in die land. Dwalende staatsamptenare en hul politieke hoofde dra die risiko van persoonlike aanspreeklikheid vir regskostes wat aangegaan is as gevolg van hul voortgesette pligsversuim.
In die Hoë Hof: Die onverskillige dokter
‘n Onlangse uitspraak van die Hoë Hof illustreer die tipe onaanvaarbare gedrag wat ‘n staatsamptenaar aan persoonlike aanspreeklikheid sal blootstel -
-
‘n Spesialis radiologie praktyk wat in ‘n akademiese hospitaal praktiseer, het twee tussentydse hofbevele teen die provinsiale Departement van Gesondheid verkry. Die Departement het die praktyk probeer sluit deur hul toerusting te verwyder en hul uit die hospitaal te sluit.
-
Die geskille wat gelei het tot litigasie was oor die geldigheid van ‘n bruikhuurooreenkoms oor die toerusting asook oor die praktyk se reg om “private” sowel as “openbare” pasiënte te behandel.
-
Terwyl die litigasie nog hangend was, het twee senior amptenare van die Departement (albei dokters) besluit om die reg in eie hande te neem.
-
Deur ‘n volgehoue proses van teistering en van intimidasie het die amptenare die toerusting van die praktyk onwettig in beslag laat neem en laat verwyder. Die amptenaar wat die toerusting verwyder het, is deur ‘n magdom sekuriteitswagte vergesel. Ten spyte van die bepalings van die hofbevele het die departement versuim om die toerusting terug te besorg en het ook toegang tot die praktyk verhoed. Die mees verontrustende aspek was die bevinding dat die betrokke amptenaar saam met ‘n groep sekuriteitswagte op ‘n lewensgevaarlike en ingewikkelde prosedure in ‘n operasiesaal inbreuk gemaak het.
-
Die hof bevind dat die amptenaar roekeloos en onverskillig opgetree het. Die hof bevind verder dat hy gelukkig is dat daar nie aansoek gedoen kon word om hom vir die toegelate negentig dae tronk toe te stuur vir minagting van die hofbevel nie.
-
Dit het nie die departement se saak gehelp dat die radioloë spesialiste op hul vakgebiede was nie, met skaars vaardighede wat meestal openbare pasiënte behandel het. Die hof bevind dat die amptenare onnodig aggressief opgetree het met ‘n onverstaanbare, arrogante en weerspannige houding wat hul blatante minagting van die wette van ons land aandui.
- Die Hof het die twee tussentydse hofbevele teen die departement bekragtig en wel met ‘n bestraffende kostebevel soos tussen prokureur-en-kliënt. Die hof maak dit ook duidelik dat, indien so ‘n versoek aan die hof gerig was, die hof die dwalende amptenare sou beveel het om die regskostes persoonlik te betaal.
As jy weer met ‘n obstruktiewe amptenaar te make het...
As julle weer koppe stamp, laat jou prokureur ‘n formele waarskuwing aan die obstruktiewe amptenaar rig. Jou prokureur sal hom of haar (en hul hoofde) aanmaan dat jy wel sal vra dat hulle persoonlik aanspreeklik gehou moet word vir al jou onnodige regskostes. Ons regspraak ondersteun hierdie verwikkeling.
Provided by Laas & Scholtz Inc
© DotNews. All Rights Reserved.