Waarom lewensmaats steeds saamwoonooreenkomste en testamente benodig
“Census data of 2016 reveals that approximately 3.2 million South Africans cohabit outside of marriage and that this number is increasing steadily.” (Geneem uit hierdie uitspraak)
Wat gebeur as jou lewensmaat sterf sonder om in hul testament (“Laaste Testament en Wilsbeskikking”) vir jou voorsiening te maak? Het jy nou dieselfde beskerming en aanspraak as getroude gades?
Die mediadekking rondom die onlangse Grondwetlike hofbeslissing wat oor hierdie vraag handel, skep dalk die indruk dat lewensmaats nou ten volle beskerm is asof hulle in 'n formele huwelik was. Dit is egter nie die geval nie – dit mag wel dalk later verander.
Ons begin eers met die agtergrond.
Beskerming slegs vir langslewende gades, nie vir ongetroude lewensmaats nie
Kom ons begin by die mite van 'n "gemeenregtelike huwelik" – dit is en bly 'n mite.
Die gevolg hiervan is dat as 'n lewensmaat intestaat sterf (sonder om 'n testament te maak), gaan die lewensmaat nie op dieselfde basis as 'n getroude gade erf nie. Die langslewende lewensmaat kan ook nie onderhoud van die bestorwe boedel eis op dieselfde basis as wat 'n langslewende gade kan nie.
Getroude gades geniet spesifieke beskerming ingevolge twee wette –
- Die Wet op Onderhoud van Langlewende Gades voorsien dat 'n oorlewende gade onderhoud van die bestorwe boedel kan eis.
- Die Wet op Intestate Erfopvolging handel met gevalle waar ’n oorlede gade geen geldige testament nagelaat het nie. Die wet maak dan voorsiening daarvoor dat ’n gade ’n “kindsdeel” van die boedel ontvang (met ander woorde om gelykop met enige kinders te deel). Dit is natuurlik nie ideaal as die bedoeling was dat die gade meer moes kry nie, maar dit is nog steeds beter as geen voorsiening nie.
Tot nou toe het hierdie wette nie uitkoms vir ongetroude lewensmaats gebied nie. Let op dat ons hier praat van lewensmaats van teenoorgestelde geslag. Lewensmaats van dieselfde geslag geniet wel al vir jare die voordeel van intestate erfopvolgingsregte. Hierdie anomalie is ook in hierdie hofsaak uitgewys.
Die Hof se besluit, en waarom lewensmaats steeds hul posisies moet beskerm
'n Ongetroude man, wat van plan was om met sy (vroulike) lewensmaat te trou, het gesterf voordat hy dit gedoen het. Hy het aansienlike bates nagelaat, saam met sy verouderde testament waarin hy sy boedel in geheel aan sy ma nagelaat het. Sy ma is ook daarna oorlede. Die eksekuteur van sy bestorwe boedel het, in navolging van die geldende regsposisie, sy vroulike lewensmaat se aansprake om uit die boedel te erf of onderhoud te ontvang, van die hand gewys.
Die Hooggeregshof het aanvanklik bevind en verklaar dat dele van die wetgewing ongrondwetlik was. Soos vereis moes die Grondwetlike Hof hierna die bevinding van ongrondwetlikheid bekragtig. Die Grondwetlike Hof het dit wel in hierdie uitspraak gedoen. Die hof gee dan riglyne oor die hantering van die spesifieke saak in die toekoms en ook oor die inlees van sekere bepalings in die wet, om lewensmaats ook in te sluit en te beskerm.
Hier is wel beperkings om in gedagte te hou -
- Die bevel van ongeldigheid is nog nie van krag nie. Die hof het die bevele vir 18 maande (tot Junie 2023) opgeskort om die Parlement geleentheid en tyd te gee om die gebreke in die wetgewing aan te spreek en reg te stel. Dalk sal die Parlement vinnig hiermee vorder en die nodige aanpassings aan die wetgewing maak voor middel 2023. Dit is egter nie seker nie en intussen hang die gebrek aan beskerming steeds in die lug.
- Jy sal steeds jou aanspraak moet bewys. Jy sal die Eksekuteur en die Meester van die Hooggeregshof moet oortuig (moontlik met teenkanting van die oorledene se ander familielede) dat –
- Julle in "'n permanente lewensvennootskap" was (ons howe pas 'n aantal toetse toe om dit te assesseer),
- As lewensmaats en vennote het julle "wedersydse ondersteuningspligte onderneem". In hierdie geval is bevind dat die lewensmaats se verhouding die meeste, indien nie alle, kenmerke van 'n huwelik bevat het.
- Vir jou onderhoudseis, dat jou eis vir jou “redelike onderhoudsbehoeftes” is, en
- Vir jou eis teen die intestate boedel, dat jy nie 'n billike deel van die oorlede lewensmaat en vennoot se boedel ontvang het nie.
Selfs al dink jy dit sal maklik wees om hierdie dinge te bewys, is dit baie eenvoudiger en veiliger om enige moontlike grys areas of dispute te vermy deur jou status en jul ooreengekome ondernemings aan mekaar, behoorlik op te teken.
- Intestate opvolging is nie ideaal nie. Soos ons hierbo gesê het, is 'n "kindsdeel" van 'n boedel baie beter as niks, maar as jy wil hê dat jou lewensmaat alles moet erf, moet jy dit eerder onomwonde so in jou testament verklaar. Met ’n geldige testament kan jy die eksekuteur van jou keuse benoem en jy kan self kies en bepaal wat met jou boedel moet gebeur by jou afsterwe. Dit is beslis een van die belangrikste dokumente wat jy ooit moet onderteken.
Lewensmaats: Stel op en teken jul testamente en jul saamwoonooreenkoms - nou!
Daar is genoeg onsekerheid en potensiaal vir konflik en vertragings met enige boedel. Heelwat kan op die spel wees (in hierdie spesifieke geval, was dit ongeveer R10 miljoen se bates). Die goeie nuus is dat dit alles baie maklik vermy kan word –
- Laat jou testament deur ‘n professionele persoon opstel (of laat jou bestaande testament nagaan vir enige veranderinge of opdatering wat nodig mag wees) en
- Sluit 'n volledige saamwoonooreenkoms wat presies aandui wat julle status is en watter ondernemings julle aan mekaar maak. Onthou daar bestaan nie iets soos 'n "gemeenregtelike" huwelik in Suid-Afrika nie. As jy nie formeel getroud is nie, is 'n formele saamwoonooreenkoms die enigste veilige alternatief waarin julle jul verhouding en verpligtinge teenoor mekaar duidelik kan ooreenkom en uitstip.
'n Laaste gedagte – niemand hou daarvan om hul eie dood te oordink nie. Die dood klop dikwels sonder vooraf waarskuwing, en ons leef tans in gevaarlike tye.
Moet dus nie uitstel nie – kry dit gedoen!
Provided by Nelson Borman & Partners
© DotNews. All Rights Reserved.