Jou hond, kat, koei (en selfs jou bye) kan jou miljoene uit die sak jaag
“Ek was salig gevaarlik onbewus ...”
Die algemene beginsel in ons reg is dat jy slegs vir skadevergoeding aanspreeklik gehou kan word wanneer iemand kan bewys dat dit jou “skuld” was dat hulle verlies/skade/besering opgedoen het. (In hierdie konteks is jy skuldig wanneer jy óf opsetlik óf nalatig opgetree het.) Dit klink logies en regverdig – as dit jou skuld is, moet jy betaal.
Wanneer die skade egter deur jou dier/e veroorsaak is, is jy in ‘n baie gevaarliker posisie. Jy kan hier gedagvaar word en op ‘n basis van “skuldlose” of “strenge aanspreeklikheid” aanspreeklik gehou word. Dit is ‘n ontnugterende gedagte. Dit beteken dat die optrede van Wagter die Woef, Kietsie die Kat, Blommetjie die Koei, of selfs (soos in ‘n ou 1926 saak) jou “mak” swerm bye, jou met ‘n rekening vir miljoene rande kan laat, sonder dat jy op enige manier nalatig of skuldig was.
Onkunde oor hierdie risiko kan jou duur te staan kom.
Ter illustrasie kyk ons na ‘n onlangse saak in die Hooggeregshof.
Die slagoffer van ‘n honde-aanval eis ‘n bedrag van R2,3 miljoen
- Die eiser is deur drie groot “Pitbull tipe” honde aangeval terwyl hy in ‘n publieke straat gestap het. Die eiser was heeltemal geregtig om in daardie straat te wees en te stap. Die honde het hom sonder enige provokasie of uitlokking wreedaardig aangeval.
- Hy het ernstige bytplekke opgedoen en sy linkerarm moes uiteindelik by die skouer geamputeer word. ‘n Dapper verbyganger het gehelp om die honde van hom te verwilder en is ook in die proses aangeval. Hierdie dappere ingryping het gekeer dat hy verdere ernstige beserings opgedoen het.
- Die slagoffer het skadevergoeding van R2 341 000 van die honde se eienaar geëis.
- Die honde het geen geskiedenis gehad van mense byt of aanval nie. Hulle is as troetelhonde beskryf. Die honde het vrye toegang tot die eienaar se huis en tuin en agterplaas gehad. Dit was met ‘n heining en ‘n muur omring en van die straat afgeskei. ‘n Mens kon slegs toegang tot die straat deur ‘n hek verkry.
- Volgens die eienaar was die hek gewoonlik gesluit en op die betrokke dag was dit blykbaar met twee stelle slotte gesluit.
- Die eienaar beweer verder dat ‘n inbreker in sy en sy gesin se afwesigheid die hek oopgebreek en oopgelos het. Die honde het op hierdie manier toegang tot die straat en die arme slagoffer verkry.
Aanspreeklikheid en die reg
- Die slagoffer kon nie daarin slaag om te bewys dat die honde se eienaar, eerder as ‘n inbreker, die hek oopgelos het nie. Hy kon dus nie aantoon dat die eienaar op enige manier nalatig opgetree het nie.
- Die Hof beslis dat die eienaar steeds aanspreeklik gehou word en wel op gronde van ‘n ou Romeinse regsbeginsel – die “pauperiese aksie” of actio de pauperie. Hiervolgens word die eienaar streng aanspreeklik gehou vir die optrede van sy mak dier of diere. Die grondslag van hierdie beginsel is dat aangesien ‘n dier nie oor redenasievermoë beskik nie, “’n dier nie in staat is om onregmatig op te tree nie”. Daar is al aangevoer dat hierdie beginsel uit ons reg geskrap moet word, maar op hierdie stadium word dit steeds deur ons howe toegepas. Diere-eienaars moet dus bewus wees van hierdie risiko.
- Pauperiese aanspreeklikheid is ‘n ingewikkelde onderwerp. Dit behels baie Latynse geskrifte en geleerde regsinterpretasies en antieke wette. Jy sal spesifieke regsadvies hieroor moet verkry, ongeag aan watter kant van die eis jy jou mag bevind. In ‘n neutedop – is jy aanspreeklik vir skade wanneer jou mak dier (verskillende reëls geld ten opsigte van wilde diere) opgetree het as gevolg van opgewondenheid en in stryd met sy natuurlike gedrag.
- Daar is wel ‘n aantal verwere tot jou beskikking, soos dat die slagoffer tot sy eie skade bygedra het deur sy eie handelinge (die uitlokking van ‘n aanval of onregmatige betreding van ‘n ander se eiendom) of – soos die verweerder in hierdie saak aangevoer het – waar die skade veroorsaak is as gevolg van die nalatigheid van ‘n ander persoon. Weereens is dit ‘n ingewikkelde onderwerp waarvoor spesifieke regshulp verkry moet word. Ons kyk hoe die Hof in hierdie aangeleentheid met die betrokke verweer gehandel het.
- Die betrokke verweer is beskikbaar as jy kan bewys dat ‘n derde party beheer oor die dier gehad het, maar op ‘n nalatige wyse versuim het om die beheer uit te oefen. In hierdie saak het die honde-eienaar die Hof gevra om die verweer uit te brei om sy spesifieke situasie ook te dek. Dit is, hoewel die inbreker nie beheer oor die honde gehad het nie, hy nalatig was deur aan die honde die geleentheid te bied om die slagoffer aan te val.
- Die Hof het geweier, en beslis dat die verweer slegs toepassing vind waar die derde party beheer oor die dier gehad het. Die honde-eienaar moet dus die slagoffer betaal vir soveel skadevergoeding as wat die slagoffer kan bewys. Die gevolgtrekking – jy is aanspreeklik selfs wanneer dit iemand anders se skuld is, en selfs wanneer jy geheel en al onskuldig is, tensy die ander persoon op daardie tydstip beheer oor die dier gehad het.
Beskerm jouself!
Die eerste stap is natuurlik om die risiko dat jou diere skade aan ander kan veroorsaak, te verminder. Maak ook seker dat jou versekering aan jou die nodige dekking sal bied, indien jy wel gedagvaar word. As jy jou op “Vrywarings van aanspreeklikheid” wil beroep, moet dit noukeurig bewoord word ten einde enige kanse op beskerming te verleen.
Provided by Wessels & Smith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.