Bitcoin – Is dit wettig? Hoe werk dit met belasting en kan jy dit aan jou erfgename bemaak?
Bitcoin en Ethereum is seker die twee bekendste kripto-geldeenhede, maar op 10 April 2018 was daar meer as 1,565 van hulle in sirkulasie en daar kom steeds nuwes by.
Of hierdie goeie beleggings is moet jy eerstens met die hulp van jou finansiële adviseurs en met jou eie diepgaande navorsing bepaal. Daarna moet jy jou besluit ook deurlopend evalueer en heroorweeg. Ons kyk hier slegs na die relevante regsaspekte.
Verwag ‘n vloeibare situasie met deurlopende veranderinge
Hierdie is nog onbekende terrein. Regerings, belastingowerhede en sentrale banke regoor die wêreld is nog besig om hul beleide jeens kripto-geldeenhede te bepaal en te verfyn. In sommige lande is dit wettig, in ander is dit ingeperk en in ander word dit in geheel verbied. Die situasie sal voortdurend verander en so ook die wisselende pogings om die aanwending van alternatiewe geldeenhede te reguleer.
Is kripto-geldeenhede wettig?
Die eenvoudige antwoord is ja. Niks verhoed jou om dit te koop, te hou, te gebruik en weer te verkoop nie. Die Reserwebank se posisie is dat dit gebruik kan word as ‘n handelsmiddel, ‘n verrekeningsmiddel en as ‘n houer van waarde. Dit kan gebruik word om betalings tussen vrywillige deelnemende partye te maak, maar dit is nie verpligte tender nie. Dit is nie soos geld in die vorm van ons bekende banknote nie. Jy is dus nie verplig om Bitcoin te aanvaar, indien dit as betaling aangebied word nie. Dit beteken dat jy jou loodgieter (of enige ander diensverskaffer) in Bitcoin kan betaal indien hy daarvoor vra of indien hy daarmee tevrede is. Nie een van julle kan egter daarop aandring om iemand met Bitcoin te betaal of betaal te word nie.
Ons sal hieronder ook kyk na SARS se posisie en die hantering van Inkomstebelasting en BTW.
Kan jy jou na die hof wend?
Die Reserwebank maak dit duidelik dat jy kripto-geldeenhede op jou eie risiko aanskaf en gebruik. Die bank waarsku verder dat jy jou nie op die Suid-Afrikaanse owerhede kan beroep om jou regte te beskerm nie.
Hoe dit in praktyk gaan werk is nog onduidelik. Gaan die SAPD werklik nie ‘n saak ondersoek as jy ‘n klagte van diefstal van Bitcoin by hulle aanmeld nie? Wat van ‘n siviele saak as ‘n ooreenkoms skeefloop waar Bitcoin ter sprake is? Die algemene gevoel is dat ons howe wel ‘n party sal help om sy regte af te dwing, insoverre dit uitvoerbaar is.
Wat van Inkomstebelasting en moet jy vir BTW registreer?
Ons plaas die onderstaande uittreksels net so van SARS se verklaring hieroor met ons eie beklemtoning.
- “SARS will continue to apply normal income tax rules to cryptocurrencies and will expect affected taxpayers to declare cryptocurrency gains or losses as part of their taxable income.”
- “The onus is on taxpayers to declare all cryptocurrency-related taxable income in the tax year in which it is received or accrued. Failure to do so could result in interest and penalties.”
- “…cryptocurrencies are not regarded by SARS as a currency for income tax purposes or Capital Gains Tax (CGT). Instead, cryptocurrencies are regarded by SARS as assets of an intangible nature.”
- “Determination of whether an accrual or receipt is revenue or capital in nature is tested under existing jurisprudence (of which there is no shortage).”
- “Taxpayers are also entitled to claim expenses associated with cryptocurrency accruals or receipts, provided such expenditure is incurred in the production of the taxpayer’s income and for purposes of trade. Base cost adjustments can also be made if falling within the CGT paradigm.”
- “…VAT treatment of cryptocurrencies will be reviewed. Pending policy clarity in this regard, SARS will not require VAT registration as a vendor for purposes of the supply of cryptocurrencies.”
Hoe moet jy Bitcoin in jou testament hanteer?
Kripto-geldeenhede vorm deel van jou boedel. Jy sal natuurlik wil hê dat dit by jou erfgename uitkom. Jou eksekuteur sal daarmee moet handel soos met al jou ander bates, hetsy fisiese of digitale bates.
Hou net in gedagte dat hierdie bates in die niet kan verdwyn indien jy nie die nodige reêlings tref nie. Indien jou eksekuteur en jou erfgename nie daarvan weet nie, kan hulle nie daarmee handel nie. Hulle moet ook toegang kan kry tot hierdie portefeulje. Jou digitale sleutels en toegangkodes moet dus op die geleë tydstip toeganklik wees vir die persoon aan wie jy dit toevertrou.
Jy moet ‘n stelsel hê om hierdie sensitiewe inligting oor te dra. Daarsonder kan dele van jou batewaarde vir ewig en onnodig verlore gaan. Hou die volgende in gedagte-
- Doen dit nou. Ons weet nie wanneer ons laaste dag aanbreek nie.
- Doen dit op ‘n veilige manier. Indien jou toegangskodes in die verkeerde hande beland kan jou bates rondgeskuif word en verdwyn. Kriminele groepe weet dit en is voortdurend op soek na swak plekke in jou stelsel om dit uit te buit.
Provided by Matthews Enslin Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.