Laster op Facebook – die waarheid is nie genoeg nie!
Kom ons aanvaar jy is in ‘n bittere geveg betrokke. Dit gaan dalk oor geld, of oor ‘n familietwis, of ‘n egskeiding, of twee bure wat vassit, of ‘n diensverhouding wat skeefloop. Jy wend jou tot sosiale media om die waarheid oor die ander party bekend te maak. Jy voel ook heel gemaklik hiermee, want sien – ons Grondwet beskerm mos jou vryheid van spraak, die internet is ‘n bastion van vryheid en die vrye verspreiding van inligting, niks wat aanlyn gesê word kan tog regtig teen jou gehou word nie en wie kan nou beswaar maak as jy slegs die waarheid verkondig?
Die Hooggeregshof stem nie hiermee saam nie. Die hof maak dit in ‘n onlangse uitspraak duidelik dat –
- Lasterlike plasings op ‘n aanlynforum net so onregmatig is as wat dit in die regte wêreld sou wees, en
- As jy jouself moet beskerm teen ‘n eis vir laster, is dit nie genoeg om net te bewys dat jou bewerings die waarheid is nie.
Die pologeleentheid en die bewerings van skelmstreke
- ‘n Bemarker en ‘n persoon wat groot funksies reël was in dispuut oor die vorige funksie se rekening wat nog nie betaal is nie.
- Die volgende groot funksie, ‘n glansryke pologeleentheid, is geloods. Die bemarker het uit haar eie ‘n Facebookblad vir die funksie gaan skep.
- Sy het inskrywings op die Facebookblad geplaas waarin sy –
- Besigheidseienaars en werksoekers daarteen gewaarsku het om met die organiseerder sake te doen.
- Beweer het dat die organiseerder oor die jare verskeie mense al met duisende rande ingeloop het.
- Mense aangeraai het om eerder hul geld en hul sinne te behou deur nie met die organiseerder sake te doen nie.
- Besigheidseienaars en werksoekers daarteen gewaarsku het om met die organiseerder sake te doen.
- In ‘n brief van die organiseerder se prokureurs is sy gedreig met ‘n interdik en met ‘n klagte van crimen injuria (strafregtelike krenking van iemand se eer of goeie naam). Die bemarker het aangedui dat sy wel die inskrywings sou verwyder, maar dat die uitstaande rekening van die vorige funksie eers betaal moes word.
- Hierop het die organiseerder hom tot die Hooggeregshof om hulp gewend. Die hof reik ’n interdik uit wat die bemarker verbied om in te meng met die organiseerder se besigheid, asook om stellings te maak wat op onregmatige wyse sy karakter, persoonlikheid en reputasie beswadder. Die hof reik ook ‘n kostebevel vir die betaling van die regskostes teen haar uit.
- Die hof bevind dat die bemarker nie haar gepubliseerde stelling dat die organiseerder al honderde mense ingeloop het, kon staaf nie. Die hof vind ook dat haar strydlustige skriftelike reaksie duidelik ten doel gehad het om betaling van die betwiste bedrag te verseker; dit het definitief nie oor die openbare belang en billike kommentaar gegaan nie.
- Die hof bevind dat daar geen aanvaarbare rede was vir die publisering van hierdie stellings nie. Selfs as dit waar was, betwyfel die hof of dit in die openbare belang kon wees of as billike kommentaar aanvaar kon word in die lig van die beginsels van laster.
“Die waarheid en die openbare belang”
Wanneer ‘n eis vir laster ingestel word, is dit algemeen om op die verweer van die waarheid en op die openbare belang te beroep. Dit word egter dikwels misverstaan.
Die hof beklemtoon dat mense moet weet dat die publisering van lasterlike stellings oor ‘n ander persoon op openbare media nie aanvaarbaar is, bloot omdat die stelling die waarheid is nie. Dit moet ook in die openbare belang wees, of soos die hof dit stel: “It also has to be in the public interest, which is not the same as being interesting to the public.”
Die hof sal elke geval op sy eie feite moet beoordeel om te bepaal of die publisering in die openbare belang sal wees. Verkry dus regsadvies as daar enige twyfel hieroor bestaan.
Dink eerder twee keer voordat jy enige afbrekende of krenkende opmerkings op sosiale media publiseer.
Provided by Taylor and Finlay Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.